Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Small was g’n ’n rebel, sê oud-breier
Dawie Snyman, wat James Small in 1998 afgerig het.Foto: Gallo Images

James Small ’n “rebel”?

Aikôna, sê Dawie Snyman, wat hom in 1998 by die Goue Leeus afgerig het.

“ ’n Rebelsheid teenoor gesag is iets wat ek nooit met James ervaar het nie. As iemand dit só ervaar het, dink ek dit is ’n totale verkeerde vertolking van die wese van James Small,” sê Snyman.

“In die kort tydperk dat ek James afgerig het, het ek altyd 100%-ondersteuning, -begrip en -toewyding aan die span by hom gekry. Hy het in my omgewing nooit enigiets anders as ’n positiewe bydrae gelewer nie.”

Hy het in my omgewing nooit enigiets anders as ’n positiewe bydra gelewer nie.
Dawie Snyman

Small, wat 47 toetse vir die Bokke gespeel het, is vroeër vandeesweek in die ouderdom van 50 oorlede.

Die huldeblyke vir hom uit elke uithoek van die rugbywêreld dui op die agting wat hy as speler afgedwing het.

Hy is wel deur baie as “kompleks” ervaar in terme van sy karakter en persoonlikheid.

“Mense wat hom as kompleks ervaar het, het hom nie verstaan nie. Dis omdat hulle nie vir hom die geleentheid gegee het om oor daardie wêreld te praat nie,” sê Snyman.

James Small in die kleure van die Goue Leeus in 1998.Foto: Gallo Images

“Elke wêreld is sowel kompleks as eenvoudig. Die kuns van die lewe is om komplekse situasies te vereenvoudig, sodat dit vir ons verteerbaar is. ’n Afrigter wat met James gesukkel het, moet vir homself afvra waarom dit die geval was.”

Met Small se uittrede in 1999 was daar bespiegelinge dat hy koppe gestamp het met die Leeus se Nieu-Seelandse afrigter daardie tyd, Laurie Mains.

“Mains sou gesukkel het om met James te kommunikeer, spesifiek omdat die Nieu-Seelandse wyse van afrigting baie rigied eerder as spontaan en kreatief is.

“Dis waarom Nieu-Seelandse spanne sukkel wanneer jy hulle onder druk plaas. Hulle kan nie planne beraam nie, omdat hulle in boksies bly,” sê Snyman.

“James was nie ’n speler binne ’n boksie nie en dis waarom hy só gevaarlik was. Die oomblik dat jy ’n speler in ’n boksie druk en sê hy onderwerp hom nie aan die span se behoeftes nie, is jy besig om die span swakker te maak. Jy neem dan almal na een vlak toe. En almal is nie op dieselfde vlak nie.

Die oomblik dat jy ’n speler in ’n boksie druk en sê hy onderwerp hom nie aan die span se behoeftes nie, is jy besig om die span swakker te maak.
Dawie Snyman

“Jy het spelers wat verskillende bydraes lewer en moet dit binne die spanopset kan ontsluit.”

Snyman bestempel Small as een van die beste spelers in Suid-Afrikaanse rugby se geskiedenis en sê dit was ’n “voorreg” om hom te kon afrig.

“Jou top-Bokke het sekere lewenskwaliteite. Hulle het ’n sekere wil. Dis ’n eienskap wat hulle binne hulself nie kan keer nie. Wanneer hulle hulself in die spel verloor, dan gaan hulle hele wese in die spel in. Dít was by uitstek een van James se karaktereienskappe,” sê Snyman.

Meer oor:  Dawie De Villiers  |  James Small  |  Johannesburg  |  Rebel  |  Afrigter  |  Rugby  |  Leeus  |  Sterf  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.