Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oud-Bokke onthou James Small só

Hy kon ’n “komplekse” karakter wees, maar dat daar vir James Small ’n diep waardering as speler en óók ’n mens was, was duidelik uit die huldeblyke wat Woensdag vir hom ingestroom het.

Small, ’n held van die Springbok-span wat in 1995 die Wêreldbeker-toernooi gewen het, is Woensdag in Johannesburg in die ouderdom van 50 oorlede nadat hy vermoedelik ’n hartaanval gehad het.

James Small omhels Francois Pienaar, wat sy kaptein was toe die Springbokke die Wêreldbeker-toernooi in 1995 gewen het. Foto: Gallo Images

“James was altyd onverskrokke op die veld en het daarvan af ’n diep deernis vir mense gehad,” het Francois Pienaar, kaptein van 1995 se triomfantelike span, gesê.

Nog een van sy 1995-spanmaats, die legendariese stut Os du Randt, was teen die planke oor Small se ontydige heengaan.

“Soos ek vir John Smit (’n voormalige Bok-kaptein) gesê het, soos in jou rugbyloopbaan, dink jy jy het nog baie tyd in die lewe ook oor, en dan skielik, is dit verby.

“Die nuus oor James se afsterwe is baie sleg. Ons dink almal in dié tyd aan sy familie. Dis tragies om enigiemand op so ’n jong ouderdom te verloor,” sê Du Randt.

Hy sê hy gaan Small se eerlikheid geweldig baie mis.

“Hy was omstrede, maar hy was nooit bang om homself te wees nie. Ek het die voorreg gehad om ’n maand gelede saam met hom in gholfdag in Johannesburg te speel en ons het lekker gesels. Nou waardeer ek daardie oomblikke wat ons gedeel het,” sê Du Randt.

Small se vleuelmaat in die 1995-eindstryd, Chester Williams, het hom as een van sy beste vriende bestempel en het ook onlangs nog vir hom gesien.

James Small (derde van links) en sy Bok-spanmaats voor die afskop van die Wêreldbeker-eindstryd. Chester Williams is naaslinks en Os du Randt naasregs. Hulle het albei nog onlangs vir Small gesien en is geskok deur sy afsterwe. Foto: Gallo Images

“Ons het mekaar drie weke gelede op ’n manne-aand by Paarl Gimnasium gesien en ons het toe nog lekker oor die Wêreldbeker-toernooi (1995) en wat ons gedoen het gesels,” vertel Williams.

Hy sê Small se dood is vir hom ’n groot skok.

James Small was onverskrokke op die rugbyveld en het gereeld gebloei vir die spanne vir wie hy uitgedraf het.Foto: Gallo Images

“Hy was ’n goeie mens, op en van die veld af. Hy gaan gemis word.”

Williams sê anders as die hardekwas-speler wat ondersteuners op die veld gesien het, was Small ’n saggeaarde mens.

James Small het as jongeling vir die destydse Transvaal naam gemaak, maar het later in sy loopbaan ook vir Natal (nou die Haaie) en die Westelike Provinsie uitgedraf. Foto: Gallo Images

“Hy was ’n sagte man, het ’n groot mond, maar klein hart gehad. Hy sal as ’n legende van Suid-Afrikaanse rugby gereken word. Ja, daar gaan weer goeie vleuels kom, maar niemand soos James nie,” sê Williams.

Morné du Plessis, die spanbestuurder in 1995, was ook ruim in sy waardering vir Small.

“James was ’n lieflike en goedhartige mens. Hy was altyd gewillig om ander te help. Hy was ’n puik speler in baie Springbok-spanne, veral in 1995,” het Du Plessis gesê.

James Small het volgens een van sy oud-Bokkapteins, Gary Teichmann, ’n skerp rugbybrein gehad en het ná sy speeldae ook by afrigting betrokke geraak. Foto: Gallo Images

Nick Mallett, die Springbok-afrigter onder wie Small in 1997 gespeel het, meen dié begaafde vleuel het twee sye gehad.

“James was ’n komplekse individu wat dikwels met persoonlike probleme geworstel het, maar het ook geweldig baie deernis in sy karakter gehad,” het Mallett gesê.

“Hy was puik met die jong, onervare Springbok-spelers en het sy rol as mentor geniet. Ek’s seker hy sou graag onthou wou word as ’n trotse lid van 1995 se Wêreldbeker-span wat die taak gehad het om die byna onstuitbare Jonah Lomu te merk.”

Gary Teichmann, een van Small se Bok-kapteins, het hom ook as ’n “puik speler” beskryf.

“James kon die spel baie goed lees en was geweldig passievol. Hy het ’n fantastiese rugbybrein gehad. Hy het my ongelooflik ondersteun en was uiters passievol oor die Bokke,” het Teichmann gesê.

Hennie le Roux, wat saam met Small in 1995 se Wêreldbeker-eindstryd gespeel het, het Small as “baie toegewyd en passievol” beskryf.

“Wanneer hy betrokke was, het hy alles vir die saak gegee. Hy was geweldig passievol oor Bok-rugby,” het Le Roux gesê.

James Small is deur Corné Krige as rebels beskryf, maar ’n speler wat hy eerder in sy span wou hê as om teen hom te speel. Foto: Gallo Images

“Ek sal hom graag wil onthou vir wat hy bereik en gedoen het. Hy was passievol oor sport en lief vir kinders. As ’n speler was hy ’n uitsonderlik talentvolle regtervleuel.”

Corné Krige, wat in 1997 saam met Small die Curriebeker by die Westelike Provinsie verower het, het gesê hy was ’n speler wat jy “eerder in jou span as teen jou wou hê”.

“Hy was ’n rebelse ou en het nie van gesag gehou nie, maar ’n ongelooflike spanman,” het Krige gesê.

Die All Blacks het Woensdag op hul amptelike Twitter-rekening hul hartseer oor Small se afsterwe uitgespreek.

“James was uiters mededingend op die veld en ’n puik vriend daarvan af. Hy sal wêreldwyd deur die rugbygemeenskap gemis word,” het Nieu-Seeland se nasionale span getwiet.

Meer oor:  Huldeblyk  |  Oorlede  |  James Small  |  Hulde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.