Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
John Smit: Kweek eers Wêreldbrekers

Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, moenie nou sy aandag daarop toespits om elke toetswedstryd te wil wen nie, maar eerder ’n kerngroep spelers bou wat in enige wêreldspan kan instap wanneer volgende jaar se Wêreldbekertoernooi aanbreek.

Die oud-Springbok-kaptein John Smit glo dít is belangriker as om die Bokke weer boaan die wêreldranglys te kry.

John Smit

Smit en nog ’n oud-Bok-kaptein, Corné Krige, het aan Rapport gesê hulle is opgewonde oor die vernuwing wat in die Bok-span onder Erasmus heers, maar glo nie die span sal die Rugbykampioenskap-trofee by die All Blacks kan wegneem nie.

Tog is daar ’n opwaartse kurwe en albei glo volgende jaar se Wêreldbekertoernooi moet die maatstaf wees waaraan die Bokspan gemeet moet word.

Smit meen Erasmus moet eerder op Wêreldbeker-sukses fokus as om elke toets te probeer wen.

“Wat ek wil sien, is dat ons in Japan met ’n span aankom wat enige span kan klop. Om te probeer om nou die nommereen-span ter wêreld te word, is sekerlik haalbaar, maar ek dink nie dit beteken iets nie.

“Erasmus het in ’n kort rukkie baie goed gevaar, veral omdat hy die net wyer gespan het. Hy het ook baie oor sekere spelers geleer omdat hy geleenthede aan baie spelers gegee het. Hoeveel van sy huidige spelers sal ’n Wêreldspan haal as só ’n span nou gekies word?

“Hy moet besin wie daardie drie, vier of vyf spelers gaan wees wat in ’n jaar in daardie span sal instap en die WB-eindstryd vir hom kan wen.”

Smit glo om die sterkste leierskapsgroep te hê – iets wat sy span in 2007 die Wêreldbeker laat verower het – is uiters belangrik. Hy verwelkom die feit dat Siya Kolisi, die Bok-kaptein, vir Warren Whiteley het om op te steun.

Ek is ’n groot ondersteuner van Siya en hy het al soveel bereik in so ’n kort tydperk. Siya is ’n ongelooflike mens.
Joihn Smit

“Ek is ’n groot ondersteuner van Siya en hy het al soveel bereik in so ’n kort tydperk. Siya is ’n ongelooflike mens. Hy het reeds ’n verskil aan die land gemaak voordat hy as kaptein aangestel is.

“Dieselfde kan van Warren gesê word. Hy is ’n fantastiese mens en beserings het hom gepootjie.”

Smit sê dit was vir hom moeilik om die afgelope twee jaar die Bokke se geploeter te aanskou, maar hy glo die span is nou weer op die regte pad.

Corne Krige

Krige sê die Bokke is nog nie “uit die moeilikheid nie,” maar daar is lig in die tonnel.

“Wat ek teen Engeland gesien het, was spelers wat weer met passie gespeel het. Dit was vir my ongelooflik hoe vinnig dít reggestel is. Rassie is ’n ou wat op die fyner goed konsentreer – selfs rustyd kyk hulle videos om te kyk waar die gapings in die verdediging is.

“Hy is ongelooflik met fyner besonderhede en op die lang duur sal dit help.

“Hopelik sal dit na die Rugbykampioenskap oorgedra kan word. Ek dink hy gaan ander kombinasies toets en ons uitslae sal miskien nie wees wat ons wens nie, maar ek dink hy het ’n oog op die Wêreldbeker.”

Krige glo die Bokke sal ’n goeie vertoning teen die All Blacks lewer, maar dink nie hulle kan die All Blacks as kampioene onttroon nie.

“Almal wil hulself teen Nieu-Seeland meet. Dit is waarvoor ons altyd werk en hoe ons onsself meet. Ek dink ons kan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.