Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco Smith voortaan Italië se breier

Dit is amptelik: Die Cheetahs se afrigter, Franco Smith, neem in 2020 by Conor O’Shea oor as Italië se afrigter.

O’Shea verlaat egter nie die Italiaanse span nie en sal in ’n hoër hoedanigheid diens doen.

Franco Smith word in 2020 Italië se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

Die Vrystaat Rugbyunie het laat Saterdagaand in ’n kort verklaring gesê hulle is bewus van die aanbod wat aan Smith gemaak is om met ingang Januarie 2020 as breier van Italië te begin werk.

’n Hooggeplaaste in Vrystaatse rugbykringe het die aanstelling aan Netwerk24 bevestig en die direksie van die Vrystaat-Cheetahs-maatskappy sal nou besluit wanneer hulle Smith vrystel om by Italië aan te sluit.

Netwerk24 kan verder bevestig dat die Italianers reeds ’n geruime tyd na Smith se dienste vry. Sy eerste taak sal wees om hulle vir die Sesnasies-reeks voor te berei.

Smith het voorheen sy klubrugby daar gespeel en later ook daar afgerig voor hy na Suid-Afrika teruggekeer het.

Hy sal in alle waarskynlikheid ná afloop van die Curriebeker-reeks na Italië vertrek, aangesien die Pro14-reeks daarna begin en teen Januarie sal die Cheetahs sekerlik nie van afrigters wil verwissel met die reeks wat aan die gang is nie.

Een van die vroeë name wat in die wandelgange genoem word om Smith te vervang is dié van die huidige Maties-afrigter, Hawies Fourie, wat voorheen ’n hulpafrigter van die Cheetahs was toe hulle nog in die Superrugby-reeks gespeel het onder die afrigterskap van Naka Drotské.

Die Cheetahs se Pro14-seisoen kom oor twee weke tot ’n einde wanneer hulle teen die Southern Kings in Bloemfontein speel en dit sal waarskynlik die laaste keer wees dat Smith by die Pro14-reeks betrokke is.

Smith het juis by Drotské oorgeneem in 2015 teen die einde van die Superrugby-reeks nadat dit maar broekskeur met die Cheetahs gegaan het en hy het die volgende jaar die Curriebeker-reeks gewen, ’n jaar nadat hy die Shimlas tot Varsitybeker-glorie gebrei het.

Dit gaan tans ook nie baie goed met die Cheetahs in die Pro14-reeks nie en Saterdagaand se skittervertoning teen die Dragons – wat hulle met 38-13 gewen het – het op net die regte tyd gekom vir die span wat boonop nou sy afrigter gaan verloor.

Smith het dit by die Cheetahs reggekry om van jong spelers sterre te maak, net om meer as ’n dosyn spelers aan die einde van die eerste Pro14-seisoen te verloor. Hy was ook ’n hulpafrigter van Allister Coetzee by die Springbokke voor hy na die Cheetahs teruggekeer het, eers as direkteur van rugby en later as hoofafrigter toe hy by Rory Duncan oorgeneem het.

Hy het egter vir die huidige Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, nee gesê om hom voltyds op die Cheetahs toe te spits.

’n Aankondiging oor Smith sal in alle waarskynlikheid deur die Italiaanse Rugbyfederasie gemaak word. Dit is egter nie bekend wanneer dit sal gebeur nie.

Smith se kontrak met die Vrystaat Rugbyunie verstryk in Mei 2020. Die direksie bespreek tans die aangeleentheid en hulle sal besluit wat in die komende maande gaan gebeur.

Meer oor:  Italië  |  Cheetahs  |  Franco Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.