Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sneeu slyp Jesse vir Superrugby

Met ’n Comrades-veteraan as sy oefenmaat het die Springbok-senter Jesse Kriel hom die afgelope vakansie in die berge van Italië vir die komende seisoen geslyp. Op ’n hoogte van 2 700 m bo seevlak in die berge van Genoa het Kriel in sneeu en ysige koue saam met die langasem Chris Mortimer gesweet.

Mortimer, wat die Comrades-marathon al 33 keer voltooi het, is die pa van Kriel se meisie, Hope, en hulle was saam in Desember met vakansie in Italië.

Jesse Kriel die afgelope vakansie hard aan die oefen in die berge in Genoa, Italië.

“Dit was deel van my voorbereidings vir Superrugby en die Wêreldbeker,” het die Springbok-buitesenter die week aan Rapport gesê.

“Ons het veral vroeg soggens gaan hardloop wanneer dit baie koud was. Die Bulle en die Bokke het vir ons almal oefenprogramme gegee wat ons in die vakansietyd moes volg. Myne het ek egter op ’n taamlike hoë hoogte bo seevlak gedoen.”

Kriel is intussen terug in ’n bloedige warm Pretoria waar hy by Pote Human se Bulle ingeval het. Hy is met die intrapslag erg ingenome met Schalk Brits se teenwoordigheid in die kamp.

“Schalk en Duane (Vermeulen) is massiewe toevoegings tot ons groep,” het die 24-jarige senter gesê.

“Ek ken niemand van Schalk (37 jaar) se ouderdom wat steeds in so ’n goeie fisieke kondisie is nie. Hy bring baie energie en kennis na die span.

“Hy is ’n speler van wêreldgehalte. Hy het ons reeds baie gehelp en groot waarde op die oefenveld toegevoeg. Hy het onder meer die jonger hakers onder sy vlerk geneem. Hy maak ook ’n groot impak op die verdediging en aanval.”

Vermeulen het hom nog nie by sy spanmaats in Pretoria aangesluit nie.

“Maar Duane is een van die bestes ter wêreld en sal ’n yslike verskil hier maak. Hy is die soort speler wat ’n ekstra 20% uit elkeen van sy spanmaats haal. Die ouens speel soveel beter rondom Duane. Hy bring iets nuut na die tafel. Hy bied ’n span ook iets ekstra op die verdediging.”

Jesse Kriel

Ofskoon Kriel sy oog op ’n plek in Rassie Erasmus se Wêreldbekergroep het, gaan hy dinge nie te ver vooruitloop nie.

“Ek wil dit vanjaar dag vir dag neem. Ek vra myself aan die einde van elke dag of ek ’n beter speler word? Dis iets wat Rassie ook ingebring het: Die vraag aan jouself of elke dag se oefening jou ’n beter speler vir die naweek se wedstryd maak.

“Ek glo die ervaring wat ek in 2015 opgedoen het, sal my baie help in ’n Wêreldbeker-jaar. Ek het baie in die vorige Wêreldbeker geleer.

“Ek moet egter eers goed vir die Bulle speel voordat ek aan die Bokke kan dink. My aandag is tans net op die Bulle. Dis waar ek eers moet presteer.”

Kriel word as die land se voorste verdedigende buitesenter beskou, maar daar is ondersteuners en kenners wat meen daar is gevaarliker aanvallers. Francois Venter word as een van hulle beskou. Lukhanyo Am sal die Superreeks wil gebruik om te wys waarom hy ’n Wêreldbeker-plek verdien.

Erasmus het ook al verskeie kere bevestig hy hou spelers soos Jan Serfontein en Frans Steyn se spel dop, wat albei dikwels op buitesenter vir die Franse klubspan Montpellier speel.

Serfontein het wel die naweek op binnesenter, en Steyn op heelagter, gespeel.

Lionel Mapoe is nog ’n aanspraakmaker op buitesenter.

Hy bring al jare sy kant vir die Leeus en kan nog by die Wêreldbeker-agterdeur inglip.

Kriel meen hy het as ’n speler in 2018 baie geleer en gegroei .

“John Mitchell het my baie by die Bulle gehelp. Rassie en die Bok-bestuurspan het net so groot bydrae gemaak.

“Ek verstaan die spel beter. John en Rassie gee die individuele speler groter verantwoordelikheid, wat ek glo die beste uit elkeen na vore bring. Ek dink ons almal het beter leiers geword.”

Meer oor:  Jesse Kriel  |  Sneeu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.