Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Snoeiskêr WP-spelers se voorland

Dillyn Leyds, Sergeal Petersen en dalk selfs die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, kan in die Westelike Provinsie se span wees vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Goue Leeus op Nuweland.

Nuwe bloed kan ook nie gou genoeg kom nie ná die afgelope Saterdag se nederlaag van 27-32 teen die Haaie in Durban. Die Haaie het hul sege verdien, maar die WP se onvermoë om veel met nagenoeg 70% van die besit uit te rig, sou komies gewees het as dit nie só skokkend was nie.

JP Pietersen (regs) en Lwazi Mvovo vier die Haaie se sege oor die Westelike Provinsie in Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd op Kingspark in Durban.Foto: Gallo Images

John Dobson, die Streeptruie se afrigter, het ná die wedstryd die volgende negatiewe punte uitgelig:

* Die WP se skopwerk uit die hand was baie swak vergeleke met dié van die Haaie. Hy het veral die tuisspan se losskakel, Curwin Bosch, en heelagter, Rhyno Smith, geprys.

* Die WP was loodvoetig en het nie met die passie gespeel waarop die Kapenaars hulself onder gewone omstandighede roem nie.

* Sy span se lyftaal was uit die staanspoor swak.

Die feit dat Dobson die teenstander se losskakel en heelagter uitlig, is ook ’n subtiele afjak vir sy spelers in onderskeidelik daardie posisies, Jean-Luc du Plessis en SP Marais.

Dis waarskynlik ’n sekerheid dat Leyds vandeesweek vir Marais sal vervang en Josh Stander vir Du Plessis.

Sikhumbuzo Notshe se impak van die plaasvervangersbank behoort hom terug in die beginspan te kry – waarskynlik op agtsteman met Jaco Coetzee wat flank toe skuif.

Dobson het ook die goeie aspekte van die WP se spel uitgelig – die vaste fasette, afbreekpunte en dryfmale – maar beklemtoon dat die Haaie verdien het om te wen.

“Dit was nie ons standaarde nie. Dit sal nie weer gebeur nie,” het Dobson gesê.

Sy eweknie by die Haaie, Sean Everitt, kan baie trots wees op sy span, veral vir die verdediging onder ’n verwoede aanslag deur die WP in die tweede helfte.

Hulle was ook meer klinies in besit met veral die vleuels Kobus van Wyk en Lwazi Mvovo wat die oog getref het.

Die Haaie het aan die kortste ent getrek in die skrums, maar die belangrike ding is dat die tuisspan op sy eie voer sy man gestaan het. Terwyl die WP ’n paar strafskoppe daar afgedwing het was sy oorheersing nie groot genoeg vir sy skrumwerk om soos die vorige naweek teen die Blou Bulle ’n beslissende faktor te wees nie.

Ongeag die feit dat die Haaie baie moes verdedig, sal Everitt juis sy genot daaruit put. Sy spelers het daarmee gewys dat hulle vir mekaar en hul trui omgee. Net die vorige naweek nog is die Haaie op hul tuisveld deur Griekwas verneder en hierdie was ’n reaksie waaruit die Durbaniete baie trots kan put.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  John Dobson  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.