Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Snorre dalk Zimbabwe se nuwe afrigter

Die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers wil die leisels by Zimbabwe se nasionale rugbyspan oorneem.

Die voormalige Springbok-afrigter Peter de Villiers staan ’n kans om Zimbabwe se nuwe afrigter te word. Foto: Getty Images

Dié breier, wat die Bokke van 2008 tot 2011 afgerig het, het Dinsdag ’n onderhoud met die Zimbabwiese Rugbyunie gevoer en help ook tans die nasionale o.20-span voorberei vir ’n toernooi in Namibië.

Sou De Villiers die pos kry, sal sy grootste doelwit wees vir die Zimbabwiërs om vir volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan te kwalifiseer.

“Dit sal ’n eer wees om Zimbabwe af te rig, maar ek wag angstig vir die besluit wat deur die raad geneem moet word en ek glo hulle sal die regte besluit neem. Ek bly ’n dienaar van die spel en sal altyd wil help wanneer en waar ek kan,” sê De Villiers in ’n onderhoud.

“Ek verwag nie om die werk te kry nie, want ek weet daar is baie ander kandidate wat ook die werk wil hê en ek weet hulle is in staat om die span na die nodige vlak te neem.”

De Villiers bevind hom tans in die rugbywildernis. Sy laaste afrigtingspos was dié as hoofbreier van die Universiteit van Wes-Kaapland se Varsityskildspan.

Hy het in 2015 in nog ’n buurland, Namibië, uitgehelp om opkomende afrigters en sportsterre te ontwikkel. Hy is destyds die pos as ontwikkelingsbeampte by die Trustco-sentrum vir Uitnemendheid aangebied. Hy het dit aanvaar omdat hy gevoel het sy dienste en ondervinding as afrigter is nie in Suid-Afrika benut nie.

Ek wil ook my kennis as Springbok-afrigter deel, maar is nooit ’n geleentheid gegun nie.

“Ek was bereid om dit in Suid-Afrika te doen, veral met die kennis wat ek opgedoen het deur kursusse in Amerika en Engeland. Ek wil ook my kennis as Springbok-afrigter deel, maar is nooit ’n geleentheid gegun nie,” het De Villiers destyds aan sarugbymag.co.za gesê.

Nadat sy kontrak met UWK nie hernu is nie, het hy gesukkel om werk in Suid-Afrika te kry.

“Dis ’n groot eer vir my om in Zimbabwe te wees. Ek het by die huis gesit toe die afrigter van Zimbabwe se o.20-afrigter (Bon Muhari) my bel en vra of ek hulle nie wil help met van die tegniese aspekte van die spel nie.

“Hy het om hulp gevra met die oog om te kwalifiseer vir die o.20-Wêreldbekertoernooi in Frankryk in Mei en Junie vanjaar. Ek het dit geniet en ek voel ek het waarde tot die spelers se ontwikkeling toegevoeg,” het De Villiers vroeër die week uit Zimbabwe gesê.

Hy sê die belangrikheid van die o.20-span kan nie genoeg benadruk word as daar na die breër prentjie (nasionale span) gekyk word nie. Hy sê ook die vaardigheidsvlakke van die o.20-spelers in Zimbabwe is van ’n hoë standaard.

“Rugby is oral dieselfde. Dit gaan oor hoe jy as speler in jouself en in die bestaande strukture glo en of die afrigter die beste uit die jong spelers kan kry.”

Meer oor:  Peter De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.