Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
So gaan Ligbloues van bulle tot nulle

Maak die heiligdom van die Bulle weer Fort Loftus!

Jake White, die nuwe groot hoop in Bulle-kontrei, weet goed wat op hom wag nadat hy as die franchise se nuwe direkteur van rugby en hoofafrigter (vanaf 2021) aangestel is.

Kan Jake White weer die Bulle laat karnuffel op Loftus Versfeld soos in die ou dae? Foto: Getty Images

Daar sal onder meer van White verwag word om weer van dié beroemde stadion in Arcadia ’n intimiderende en onaangename bestemming te maak.

Besoekende spanne het die afgelope klompie seisoene nét te maklik en gereeld kom punte haal op Loftus Versfeld.

Die Bulle het sedert 2010 ’n droogte in die Superreeks en die Curriebeker-kompetisie en een van die hoofredes is die span se swak vertoningslys op Loftus.

Die statistieke skets ’n prentjie van agteruitgang van ’n span wat in die vorige dekade die Superreeks drie keer en die Curriebeker vyf keer (gedeel in 2006) verower het.

Van 2009 tot 2014 het die Bulle byna 80% (79,2%) van hul tuiswedstryde in dié twee kompetisies gewen.

Dit sluit in ’n indrukwekkende 85,4%-suksessyfer in Superrugby op Loftus.

Die Ligbloues het ook in dié tydperk in 27 uit 37 tuiswedstryde in die Curriebeker-reeks geseëvier – ’n sukseskoers van 73%.

Sedert 2015 is dit ’n heel ander storie.

Waar besoekende spanne van 2009 tot 2014 net sewe uit 48 Superrugby-kragmetings in Pretoria kon wen, is 16 uit 39 wedstryde sedertdien (2015-2019) deur die besoekers gewen.

Dit laat die Bulle met ’n wenpersentasie van 59% die afgelope vyf seisoene.

Rekord

In die Curriebeker-kompetisie is die situasie nog meer beroerd.

In 2016, toe Nollis Marais die Ligbloues afgerig het, was die Bulle in al vyf wedstryde onoorwonne op Loftus.

Die span kon in die daaropvolgende drie seisoene net vier uit 12 ontmoetings tuis wen.

Pote Human, die hoofafrigter, het ’n droewige Curriebeker-rekord by die huis: een oorwinning uit ses probeerslae.

Dit bring mee dat die Ligbloues sedert 2015 ’n beskeie wenpersentasie van 52% op Loftus het in dié reeks.

Ek wil weer ’n wenkultuur by die Bulle vestig en dit sal eerstens by Loftus moet gebeur.
Jake White

Wat is die wortel van die kwaad?

Handré Pollard, die Springbok-losskakel, het verlede jaar toegegee dit was ’n uitdaging dat so baie afrigters gekom en gegaan het by Loftus.

Daar was vier hoofbreiers sedert 2015 – Frans Ludeke, Marais, John Mitchell en Human.

In die proses het Fort Loftus sy status verloor. ’n Stadion wat lank reeds nie meer vol of rof is nie.

“Ek wil weer ’n wenkultuur by die Bulle vestig en dit sal eerstens by Loftus moet gebeur,” het White kort ná sy aanstelling gesê.

Dié onderneming sal Bulle-ondersteuners baie opgewonde maak, maar die onlangse verlede wys dit is makliker gesê as gedaan.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Heyneke Meyer  |  Jake White  |  Loftus Versfeld  |  Pretoria  |  Curriebeker  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.