Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só gemaak met boelies, sê Nigel Owens

Die gewilde skeidsregter Nigel Owens sê die beste manier om met homofobie of rassisme af te reken is om die oortreders in die gesig te kyk.

Nigel Owens is een van rugby se gewildste skeidsregters. Foto: Getty Images

Owens, rugby se eerste openlik gay skeidsregter, skryf in sy rubriek vir Wales Online hy was in 2014 die teiken van homofobiese teistering in ’n toets wat hy tussen die All Blacks en Engeland op Twickenham behartig het. Albei oortreders is geïdentifiseer, vir twee jaar op Twickenham verbied en elk met £1 000 beboet om te skenk aan ’n liefdadigheid van Owens se keuse.

Die voorval het aan die lig gekom toe ’n toeskouer aan die Britse koerant The Guardian skryf dat hy opgelet het hoe ’n groep mans “lelike, vloekende, rassistiese en homofobiese kommentare na Owens se kant slinger”. Hy het nie verklap of die mans All Black- of Engelse aanhangers was nie.

Owens het destyds aangebied om die skuldiges te ontmoet. “Ek dink die beste manier om sulke boelies te hanteer, is om hulle in die gesig te kyk,” sê Owens.

“Ek weet hoe dit voel om aan die ontvangkant te wees.

“Dit is glad nie lekker nie. Mens vrees selfs soms vir jou veiligheid.

“Dit is baie teleurstellend dat hierdie tipe ding steeds gebeur. Maar dit is die mense wat die wedstryde bywoon wat werklik ’n verskil kan maak.

“Toeskouers en personeel moet oortreders vertel hulle gedrag is onaanvaarbaar en dan kan owerhede dit afdwing.”

Hy verwys in sy rubriek na die rassisme wat gemik was na die sokkerspelers Raheem Sterling, Danny Rose en Callum Hudson-Odoi in Engeland se Euro 2020-kwalifiseringswedstryd verlede week teen Montenegro. Die voorval het hewige reaksie vanuit Brittanje gelok.

Sterling het hom sedertdien oor die voorval uitgelaat, terwyl hy in 2018 gesê het mediadekking in Brittanje oor swart spelers moedig rassisme aan.

“Mense ervaar wat aan Raheem Sterling geskree was in hul alledaagse lewe,” sê Owens.

Hy verwys ook na ’n voorval sowat nege jaar gelede toe hy ’n Walliese Premierskap-kragmeting tussen Llanelli en Neath by Parc Y Scarlets behartig het.

“Dit was ’n semi-beroepswedstryd so daar was slegs ’n paar honderd mense teenwoordig toe ’n Neath-aanhanger skreeu ‘Owens jou gay k***’ toe ’n beslissing teen sy span gegaan het.

“Ek het dit gehoor, die spelers op die veld het dit gehoor, basies het almal wat daar was dit gehoor.

“Dit was aangemeld, maar omdat niemand anders na vore getree het om die voorval te bevestig nie, was niks daaromtrent gedoen nie.”

Owens sê hy glo wedstryde moet nooit gekanselleer word weens soortgelyke neerhalende gedrag nie, want dan word daar ingegee aan ’n minderheid toeskouers.

– Sportredaksie

Meer oor:  Nigel Owens  |  Lgbt  |  Gay  |  Rassisme  |  Homofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.