Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só is Heyneke Meyer in Parys gelem

Heyneke Meyer het ter wille van sy eie sielerus besluit om op sy swaard te val by die Franse klubspan Stade Français.

Volgens bronne na aan Meyer het die 52-jarige voormalige Springbok-afrigter gevoel hy word van sy “menswees” gestroop weens sy verbrokkelde verhouding met sy spelers.

Die gewese Bok-afrigter Heyneke Meyer verlede maand tydens die Top14-wedstryd tussen Stade Français en Castres Olympique. Foto: Getty Images

Hy het bedank omdat hy nie bereid was om oor die handhawing van sy beginsels en standaarde te onderhandel nie.

Hans-Peter Wild, eienaar en president van Stade Français, het in ’n onderhoud aan www.le­quipe.fr verduidelik hoe die drama agter die skerms ontvou het nadat hy nog verlede Saterdag sy steun opnuut aan Meyer toegesê het voordat Meyer en sy hulpafrigters Pieter de Villiers, Dewald Senekal, John McFarland en Ricardo Loubscher Dinsdag hul bande met die Franse klub gebreek het.

Onfikse en ongedissiplineerde spelers wat Meyer se wedstrydplan doelbewus gedwarsboom het in ’n poging om sy vertrek te versnel, het volgens Wild bygedra dat Stade Français sover net twee oorwinnings uit nege wedstryde kon behaal en die onderste plek op die Franse Top14-puntelys beklee.

“Ons het ons wedstryd teen Racing (9-25) verloor, ’n groot nederlaag,” het Wild gesê.

“Heyneke het besef hy kan nie by Stade Français sukses behaal nie. Hy het my die versekering gegee dat hy móés bedank en vir my gesê: ‘Ek en my personeel word deur ’n muur in die gesig gestaar. Die kommunikasie met die spelers het verbrokkel.’

Die skatryk eienaar . . .Hans-Peter Wild.

“Heyneke het die spelers opdrag gegee om hierdie wedstrydplan teen Racing te speel, maar die spelers het dit nie gerespekteer nie. Hulle het die teenoorgestelde gedoen.”

Meyer is ’n afrigter wat bekend is daarvoor dat sy spanne slegs in die regte gebiede op die veld die bal rondgooi, terwyl sy Franse spelers vanaf hul eie doellyn wou begin hardloop, wat uiteindelik geboemerang het.

“Hierdie konflik het ’n geruime tyd gebroei en het onvermydelik gelyk.

“Ek hou nog steeds van hom; hy is vir my ’n uitstekende afrigter. Daar is geen twyfel daaroor nie. Maar vir hom was dit die einde en ek het sy bedanking aanvaar. Daar was geen ander manier nie. Die verhouding tussen hom en die groep is verwoes.”

Die 78-jarige Wild, ’n Switserse sakeman en eienaar van die handelsmerk Capri Sun-vrugtesap met ’n geraamde waarde van €3 miljard, hou vol hy het nie ’n fout met Meyer se aanstelling in 2018 gemaak nie.

Wild het in sy onderhoud veral groot kommer oor die fiksheid van sy spelers uitgespreek.

“Ons is nie fiks nie. Ons het egter baie goeie fiksheidsafrigters (die Suid-Afrikaners Stephan du Toit van die Stormers en André Volsteedt van Orlando Pirates) wat elders by die klub aanbly.

“Die probleem is dat die spelers nie wil verbeter nie . . . Ek het die uitslae van die laaste fiksheidstoetse.

“Weet jy wie is ons fiksste speler? Hy is ouer as 30 jaar . . . en uit die hele groep is niemand op die vlak van internasionale standaarde nie. Dit is ’n ramp! Ek het in die koerante gelees dat Heyneke te ernstig was, dat die opleiding te hard was.

Die voorbok . . . Italië sekaptein, Sergio Parisse.

“Maar as die spelers geoefen het, sou hulle beter gewees het.”

Wild vereis dat sy spelers vorentoe professioneel moet optree.

“Ek het Sean Fitzpatrick, voormalige haker en kaptein van die All Blacks, gevra om met die spelers te praat voordat die kampioenskap hervat is. Sy boodskap was dat die spelers moet opoffer om te kan wen.”

Meyer was nie onder almal gewild vandat hy in Parys aangekom het nie. Robert Mohr, die voormalige sportdirekteur, en die gewese agterlynafrigter, Julien Dupuy, wat albei die klub in Januarie 2019 verlaat het, het onder andere nie ooghare vir Meyer nie.

Ook Sergio Parisse, Italiaanse kaptein, en Meyer het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Daar is uiteindelik vroeër vanjaar van Parisse ontslae geraak.

“Dit gaan nie oor ’n afrigter liefhê of nie. As jy nie weet hoe om van die beste te leer nie – en Heyneke is een van die beste op sy gebied – kan dit nie werk nie.

“As ’n afrigter aangewys word, moet jy dit aanvaar. Punt. Verder het ek dit herhaal, dié wat nie gelukkig is nie, kan elders heen gaan.

“Niemand het weggegaan nie. Jules Plisson kla, maar die werklikheid is dat hy nommer drie in die tou was.

“Sedert my aankoms by Stade Français was my doel om die beste personeel te hê.”

Hy soek werk . . . Die hulp-afrigter Pieter de Villiers.

Op ’n vraag waarom hy nie vroeër ingegryp het aangesien hy geweet het dat Meyer nie gewild onder almal is nie, het Wild geantwoord: “ ’n Afrigter hoef nie geliefd te wees nie. Hy is hier om te lei, om baas te wees!

“Gewoonlik moet ons saam met ons personeel veg vir titels. Dit is nie die geval nie.

“Hoekom? Want in Frankryk is die kultuur anders. Dit is wat ek geleer het vandat ek hier is.

“Jy moet dit (die kultuur) verander.”

Voor Meyer het buitelandse afrigters soos die Aussies Ewen McKenzie (2008-2009), Michael Cheika (2010-2012) en selfs die Kiwi Colin Cooper (2017-2018) dit moeilik gevind by Stade Français.

Selfs Jake White is op ’n omstrede wyse by die Franse klubspan Montpellier weg. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy nie die Franse kultuur genoeg omhels het nie.

Meyer gaan vir die volgende twee of drie weke herbesin oor sy loopbaan, waarna hy oor sy toekoms as breier sal besluit.

Meer oor:  Stade Français  |  Heyneke Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.