Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Roberts straal oor sy Kaapse kontrak
Só is Jamie gegaps vir Superrugby

Die Stormers se breier, John Dobson, het in November Londen toe gevlieg om die Walliese senter Jamie Roberts om te praat om nie die Crusaders se aanbod te aanvaar nie, maar hom eerder in die Kaap te kom vestig as aanwins vir die Stormers.

Jamie Roberts duik sierlik oor die doellyn vir Harlequins. Foto’s: Getty Images

En dis danksy Dobson dat die Wallieser nee gesê het om vanjaar vir ’n Nieu-Seelandse span in die Superrugby-reeks te speel.

Maar die haakplek in die storie was dat Dobson geld van êrens moes kry om Roberts se huisvesting en motor te betaal.

Die haakplek is oorkom toe die GrandWest Casino as ’n borg vir die Wallieser na vore getree het. En daar en dan is die kontrak tussen Roberts en die Stormers afgehandel.

Roberts het die week in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport gesê dit was nog altyd ’n droom van hom om Superrugby te speel, en daar is geen beter plek as Kaapstad om dit te doen nie.

Maar hy het erken dit het ’n ontmoeting met Dobson in Soho in Londen gekos om die “saadjie” in sy kop te plant, wat uiteindelik tot sy kontrak gelei het.

“Ek het gehoor die Stormers soek ’n bietjie ervaring in hul agterlyn,” het Roberts aan Rapport gesê.

Die geleentheid om in Kaapstad te speel, is ongelooflik.

“Ek het John in November in Londen ontmoet en ons het goed oor die weg gekom. Hy het my vertel hulle moet ’n besigheidsvennoot kry om te help om die koste te dek. Toe hoor ek vir vyf weke niks van hom nie. Op Nuwejaarsdag het hy my effe uit die bloute gebel en gesê hy het ’n borg gekry.”

En ja, die Stormers het hom van onder die Crusaders se neuse opgeraap.

Jamie Roberts tydens die Leeus se toer in Suid-Afrika in 2009.

“Die Crusaders het my in November genader, maar dit het nie uitgewerk nie. Toe die saadjie in my kop geplant is om Superrugby in Kaapstad te kan speel, was daar nie ’n kwessie of ek dit sou aanvaar nie.

“Dit is baie ongewoon vir spelers uit die Noordelike Halfrond om Superrugby te speel. Ek het vir Bath gevra of ek dit kan doen, en hulle het agteroor gebuig om dit te laat werk. Nou wag ons net vir die vereiste visum en dan sal ek op pad wees.”

Roberts beskryf die geleentheid as “ ’n droom” en bestempel Kaapstad as een van sy guns­telingwêreldstede. Om vir die Stormers te kan speel, is ’n volgens hom ’n voorreg.

“Die geleentheid om in Kaapstad te speel, is ongelooflik. Ek is mal oor Kaapstad en ek is lief vir Suid-Afrika,” het Roberts bygevoeg.

“Ek is mal oor wat Suid Afrika is en die feit dat rugby die hartklop van die land is. Almal is mal oor hul rugby en ek was gelukkig om al ’n hele paar keer deur Suid-Afrika te toer.

“My eerste keer was in 2003 saam met my skolespan. Op daardie toer het ons op Nuweland na die toets tussen die Springbokke en All Blacks gekyk. Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ek was toe 17, en dit was my eerste keer op Nuweland.

“Ek was baie gelukkig om so baie deur Suid-Afrika te kon toer. Elke keer was ongelooflik.”

Roberts sê hy verstaan sy rol by die Stormers as speler en mentor vir die jonger spelers, en glo vas spelers leer meer van hul senior spanmaats as van afrigters af.

“Ek is besig om my eie navorsing oor die spelers in die Stormers se agterlyn te doen. Ek wil graag die Stormers help om ander spelers te ontwikkel. Ek wil seker maak baie van hulle word Springbokke en dat die span suksesvol word.

“Ek is ’n sosiale mens en ek geniet dit om tyd weg van die oefenveld saam met spanmaats deur te bring.

“As ek my ondervinding aan die jonger spelers kan oordra, sal ek gelukkig wees. Maar ek weet daar is steeds werk wat op die veld gedoen moet word om die span te help wen.”

Meer oor:  Stormers  |  Crusaders  |  Superrugby  |  John Dobson  |  Jamie Roberts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.