Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só kan dit nie aangaan nie, sê Dobson

John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, is welbekend vir sy lojaliteit, maar hy gaan dalk ’n ongewilde besluit of twee moet neem om sy span se Curriebeker-veldtog, en waarskynlik ook sy eie bas, te red.

Een so ’n besluit kan dalk wees om vir Damian Willemse, sy voorkeur-losskakel, vir Saterdag se kragmeting met die Leeus op Ellispark in Johannesburg te pos.

Die onbesonge Bulle-losskakel Chris Smith se temperament met sy skopstewel laat in die wedstryd behoort as ’n voorbeeld vir die WP se stelskoppers te dien. Foto: Gallo Images

Willemse se stelskopwerk was weereens swak in die afgelope naweek se nederlaag van 20-22 teen die Bulle op Nuweland en saam met Tim Swiel se verbroude doelskop het die Streeptruie met net twee van hul ses skoppe pale toe geslaag.

’n Ongedwonge fout waar hy die bal van ’n afskop aangeslaan en ’n individualistiese benadering toegepas het, het beteken dat Willemse ná ’n goeie vertoning teen die Cheetahs vir die Stormers nou weer twee treë agteruit geneem het. Hy het selfs van naby aan die Bulle se pale in die kwartgebied misgekorrel toe die WP in die eerste helfte met 3-5 agter was.

Dobson erken dat dit nie volhoubaar vir die WP is om so aan te gaan met die stelskopwerk nie.

“As jy sewe-uur op ’n Saterdagaand ’n amperse toets speel, gaan daar min tussen die spanne te kies wees. Jy moet die geleenthede kan benut wanneer die telling in ’n nagwedstryd op Nuweland 3-5 is,” sê hy.

Soms raak ’n span begeesterd wanneer hy met 14 spelers moet speel.

“Ons gaan moet nadink oor die feit dat ons baie geleenthede nie in punte omskep nie. Ek is teleurgesteld met hoe ons in die laaste tien of 15 minute verdedig het, maar agt punte deur twee strafdoele en ’n doelskop kon dit ’n ander storie gemaak het.

“Ons praat daaroor en ek’s nie seker wat die oplossing is nie. Ons kan nie so aangaan nie.”

Die WP het in die eerste helfte eintlik takties goed gespeel. Warrick Gelant veral het sy skopvoet oordeelkundig gebruik en selfs Willemse het sy deel gedoen om die Bulle vas te pen in hul eie gebied.

Met die Kapenaars se wedstrydplan het daar niks geskort nie, maar daar’s nie meedoënloosheid te bespeur nie en hul besluitneming is swak.

Die agtsteman Juarno Augustus was onder die WP se min uitblinkers in Saterdag se Curriebeker-nederlaag teen die Bulle op Nuweland. Foto: Gallo Images

Waarom is Swiel byvoorbeeld in die pylvak van die wedstryd nie gevra om pale toe te korrel vir ’n moontlike voorsprong van agt punte nie? In stede daarvan is ’n lynstaan in die Bulle se kwartgebied verbrou en die sielkunde van die wedstryd op sy kop gekeer.

“Ons het die eerste helfte oorheers en moes beslis meer punte aangeteken het,” sê Dobson.

“Soms raak ’n span begeesterd wanneer hy met 14 spelers moet speel,” voeg hy by oor die feit dat die Bulle die wedstryd gewen het nadat hul loskopstut, Jacques van Rooyen, vroeg in die tweede helfte ’n rooikaart vir ’n skouerloop op Gelant gekry het.

“In die tweede helfte was ons swak by die afbreekpunte en het ons die bal swak beheer. Dit was ’n baie swak vertoning in die tweede helfte.”

Om vir Willemse te pos sal nie ’n maklike besluit wees nie. Hy het immers in verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi vir die Springbokke gespeel. Swiel en die groentjie Kade Wolhuter is die alternatiewe opsies in die nr. 10-trui.

’n Mens moet egter nie die fout maak om net vir Willemse vir kritiek uit te sonder nie. Op skrumskakel was Herschel Jantjies se balverspreiding swak, wat beslis nie die spelers om hom se taak vergemaklik het nie.

Soos altyd het die Kapenaars se voorry hul uitstekend van hul taak gekwyt, maar agter hulle gebeur daar eenvoudig nie genoeg nie.

Meer oor:  John Dobson  |  Damian Willemse  |  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Westelike Provinsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.