Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só kan SA rugby pond, euro en jen ‘systap’

Suid-Afrikaanse rugby kan die stryd teen die pond, euro en jen wen as die plaaslike franchisespanne tot hul volle potensiaal ontwikkel word.

Michael Yormark
Michael Yormark, ’n hoë in die vermaaklikheidsbedryf wat in MVM se stal is, is uiters krities oor hoe die WP Rugbyunie onderhandel. Foto: Getty Images

Dís die mening van Michael Yormark, president van Roc Nation, ’n internasionale agentskap wat onder andere ook na die belange van die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, en die Bok-vleuel Cheslin Kolbe omsien.

Yormark tel onder die beleggers in die stal van MVM Holdings, wat ’n beherende belang in die Westelike Provinsie Rugbyunie se sakevleuel wil bekom. Hy doen dit egter in sy persoonlike hoedanigheid en Roc Nation stel as ’n entiteit nie belang om in die WP te belê nie.

“Dink jy nie Cheslin (Kolbe) sal baie daarvan hou om in Kaapstad te speel nie?” vra Yormark.

“Hy speel om ekonomiese redes in Toulouse. Uiteraard is die geleentheid in Frankryk baie goed vir hom en sy familie.

“Maar jy móét ’n manier vind om hierdie uitsonderlike talent in dié land te hou en meer te betaal. Die enigste manier om dit te doen, is om ’n strategiese sakeplan en bloudruk te ontwikkel wat daardie tipe belegging kan onderskraag. Tans kan die klubs dit nie doen nie.”

Yormark, wat die WPRU se leierskap Vrydagaand saam met Marco V. Masotti, die oud-Suid-Afrikaner aan die spits van MVM sou ontmoet, meen die kennis wat ’n konsortium soos dié een van die Amerikaners bring, kan deurslaggewend wees en ’n netwerk kontakte skep om van te droom.

Dit sluit in eienaars en groot aandeelhouers in sportspanne, waaronder Marc Lasry (Milwaukee Bucks-basketbalspan), Doug Cifu (Florida Panthers-yshokkiespan) en Steven Price (Atlanta Hawks-basketbalspan).

Vince Mai, ’n weldoener wat destyds deur ’n beursskema vir Kolisi se opvoeding by Grey High School in Port Elizabeth betaal het, is ook deur Masotti by MVM betrek.

Yormark meen die Stormers het ongelooflike potensiaal.

Dit gaan oor geesdrif, om iets ongelooflik vir die gemeenskap, ondersteuners, spelers en borge te bou.

“Ons het nog nie hul finansiële state gesien nie, so dis moeilik om te sê hoe gou ons inkomste sal kan groei, maar ek dink met die regte leierskap, infrastruktuur en belegging in kapitaal kan hierdie ikoniese franchise oor die volgende drie tot vyf jaar baie groei en ’n wêreldwye handelsnaam word,” sê hy.

“Hierdie groep (MVM) het wêreldwyd ongelooflike kontakte, enorme hulpbronne en verstaan wat dit verg om suksesvolle ondernemings te bou.

“Daar’s geen twyfel nie dat as jy dít alles tot jou voordeel aanwend, jy iets baie spesiaal kan bou. En luister, dit gaan nie oor geldmaak nie. Dit gaan oor geesdrif, om iets ongelooflik vir die gemeenskap, ondersteuners, spelers en borge te bou.

“Kom ons wees eerlik. Jy maak nie hierdie soort belegging om geld te maak nie.”

Yormark was vandeesweek uitgesproke in sy kritiek oor hoe die WPRU tot dusver met MVM onderhandel het en het die Kaapse unie se president, Zelt Marais, geroskam. Marais het teruggekap en binne daardie konteks, tesame met die feit dat die WPRU nie gretig is om afstand van beheer van die sakevleuel se direksie te doen nie, is daar ernstige twyfel of die partye mekaar gaan vind.

Maar kyk net hoe sake nou staan, en dink oor wat kan wees, sê Yormark.

“Ek het vir 25 jaar beroepsportspanne in die VSA bedryf. Elke ondersteuner hoop aan die begin van die seisoen dat sy span mededingend sal kan wees en dalk wen. As daar nie aan die begin van ’n seisoen hoop by ’n ondersteuner is nie, verloor hy belangstelling,” sê hy.

“Baie van daardie hoop spruit voort uit leierskap van die klub en wat hulle doen of nie doen nie. Ek is jammer vir die ondersteuners in Kaapstad, want hulle verdien beter. Hulle verdien vir hierdie ikoniese franchise om ’n wenspan te wees en om vir die beste spelers te skree.

“Hulle behoort ook te verwag dat die beste talent in Suid-Afrika nie bloot om finansiële redes in Japan, Frankryk en Engeland gaan speel nie.

“Die manier om dinge reg te stel, is om dié bates te bou en na die volgende vlak toe te neem. Om nuwe inkomstestrome te skep, die franchises beter te bemark en meer kommersiële geleenthede te skep.”

Yormark gebruik Kolbe as ’n verwysingspunt.

Jy weet iets opwindend gaan gebeur wanneer hy aan die bal raak. Hy behoort in Kaapstad te wees.
Met beter bestuur van die Stormers kan spelers soos Cheslin Kolbe in Suid-Afrika gehou word, sê die grootbaas van die vermaaklikheidsagentskap Roc Nation, Michael Yormark. Foto: Getty Images

“Cheslin is tans waarskynlik die beste speler ter wêreld. Hy is een van die opwindendste atlete wat ek tot nog toe gesien het. Jy weet iets opwindend gaan gebeur wanneer hy aan die bal raak. Hy behoort in Kaapstad te wees,” sê hy.

“Dis ’n verdere rede waarom Marco graag hier betrokke wil wees, want as jy hierdie franchise op die regte manier bou, sal ondersteuners hulle nie meer hoef te bekommer dat daardie tipe talent verlore sal gaan nie.”

Kolisi is ’n heel ander gesprek gegewe wat hy in die groter prentjie verteenwoordig en ’n groot trekpleister vir MVM se beleggers.

Die onvleiende opvatting wat die invloedryke Yormark oor die WPRU het, laat gewis ’n vrees ontstaan dat dit ’n invloed op Kolisi se toekomsbesluite kan hê.

Hy gaan egter nie daardie sneller trek nie.

“Wanneer dit kom waar Siya en Cheslin wil speel, lê die besluit by hulle,” sê hy.

“Ons sal hulle altyd probeer lei en ons mening gee, maar hulle is die uitvoerende hoofde van hul loopbane en sal self daardie besluite neem.”

Suid-Afrikaners moet verwag om meer van Roc Nation te hoor. Die Springbokke se verowering van die Wêreldbeker verlede jaar, tesame met die manier waarop rugby as beroepsport groei, het die landskap verander.

Yormark is per toeval in Suid-Afrika vir sake wat Roc Nation doen. Die aanvanklike plan was vir Masotti om self met Marais en Ebrahim Rasool, voorsitter van die WPRU se sakevleuel, te ontmoet.

“Ons is verbind daartoe om puik atlete in Suid-Afrika, wat graag met ’n organisasie soos Roc Nation wil werk om hul handelsname en loopbane uit te bou en hul doelwitte te bereik, te help,” sê hy.

Maar dis besigheid. Wat die Amerikaners met die WP wil doen, kom neer op geesdrif, sê hy.

“Marco kom uit Suid-Afrika, is versot op rugby, hou van die spelers en wil eenvoudig ’n verskil maak. Hy wil iets vir die gemeenskap doen wat ’n nalatenskap kan wees.”

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Stormers  |  Marco Masotti  |  Siya Kolisi  |  Roc Nation  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.