Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kopdokter: Só kweek jy kampioene

Baie ouers (veral pa’s) wil mos graag sien hoe hul spruit in die Groen-en-goud voor tienduisende ondersteuners uitdraf of op ’n podium staan, maar in die proses van ouerskap raak die belangrikste ding soms verlore: Die verantwoordelikheid daarvan om van jou kind ’n kampioen in die lewe te maak.

Die dekblad van Henning Gericke se nuwe boek, Inspiring Parents: Creating Champions in Sport and Life.

Oplaas is hier nou ’n handleiding vir ouers, geskryf deur Henning Gericke, wat die Springbokke se sielkundige was toe hulle in 2007 die Wêreldbeker-toernooi gewen het. En selfs ouers van kinders wat nie in sport presteer nie, kan gerus ook loer na Gericke se sesde boek: Inspiring Parents: Creating Champions in Sport and Life.

“Dit gaan nie net oor sport nie. Jy maak jou kind ’n kampioen in die lewe, leer hom hoe om self konflik te hanteer, hoe om ’n afrigter te ondersteun en hoe om ’n spanspeler te wees,” sê Gericke.

“Die belangrike ding is dat ons ’n definisie moet vind van wat jou ’n kampioen in die lewe maak. ’n Kampioen is nie noodwendig die persoon wat gaan wen of vir die Bokke gaan speel nie.”

Gericke sê jare se ervaring het hom laat besef dat dit baie belangrik is om ouers te kry om ’n kopskuif te maak oor wat sukses behels.

“As ’n ouer se fokus is dat sy kind móét wen, maak jy dit vir hom baie moeiliker. Die boek is om ouers uit te daag om anders te dink oor hoe om hul kinders te motiveer en die beste uit hulle te haal,” sê hy.

Waarom raak soveel talentvolle kinders ná ’n Cravenweek-toernooi verlore? Omdat talent, nie effort nie, oorbeklemtoon word.
Henning Gericke

“Die kind, afrigter en ouers is eintlik ’n span. Die afrigter wil sy ding doen, maar die ouer het sy manier en sal hom (die afrigter) dalk agter sy rug voor die kind kritiseer. Jy moet daardie belyning reg kry. As jy nie die afrigter as die belangrikste gesagsfiguur ag nie, leer jy jou kind om hom te ondermyn en skep daardeur swak interpersoonlike vaardighede. Dit sal later na sy werksituasie oorspoel.”

Benewens die Springbokke, het Henning Gericke ook al sportspanne soos die Stormers en Proteas gehelp om kopfiks te bly. Foto: Gallo Images

Gericke benadruk ook in sy span dat talent eintlik maar ’n klein rol in sukses speel. Die belangrikste faktor is harde werk.

“Waarom raak soveel talentvolle kinders ná ’n Cravenweek-toernooi verlore? Omdat talent, nie effort nie, oorbeklemtoon word. Dís wat ek jou as ouer leer,” sê Gericke.

Kinders raak kampioene wanneer hulle leer om mislukking te hanteer, dat hulle nie volmaak hoef te wees nie en om spanspelers te wees, verduidelik hy.

Gericke voeg by dat ouers ook nie onredelike eise aan hulself moet stel nie.

“Die uitdaging wat ek vir jou gee, is om te vra hoe jy ’n kampioenouer gaan word,” sê hy.

“Dan sê ek vir jou dat dit eintlik onmoontlik is. Jy gaan nooit ’n kampioenouer wees nie. Jy gáán foute maak, maar jy’s op ’n reistog saam met jou kind. Julle gaan mekaar leer ken en ek neem jou met hierdie boek op daardie reistog.”

* Gericke se boek sal in Junie beskikbaar wees.

Meer oor:  Henning Gericke  |  Kopdokter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.