Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só lyk ons Bokspan van die dekade

Die Springbokke het die afgelope dekade onder die afrigters Peter de Villiers, Heyneke Meyer en Allister Coetzee grotendeels onderpresteer.

Gelukkig het Rassie Erasmus se Wêreldbeker-brekers vanjaar die dekade op ’n hoogtepunt in Japan afgesluit.

Hier is Netwerk24 se Bokspan van die afgelope tien jaar:

YOKOHAMA, JAPAN - NOVEMBER 02: Willie Le Roux of S
Willie le Roux in aksie in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

15 – Willie le Roux

Daar is heelparty ondersteuners wat sal neus optrek vir dié keuse. Heel verstaanbaar met legendariese voorgangers soos André Joubert en Percy Montgomery.

Le Roux het nie die beste WB-toernooi in Japan gehad nie, maar hy was voorheen dikwels ’n troefkaart met hope X-faktor in die laaste vesting. En hy het ’n WB-medalje in sy kas.

14 – JP Pietersen

Jy wil Cheslin Kolbe spontaan die nr. 14-trui gee vir sy heldedade in Japan, en veral in die eindstryd teen Engeland, maar JP Pietersen word bo hom ingesluit.

Pietersen het in 70 toetse gespeel en was sowat tien seisoene ’n outomatiese keuse in die Bokke se agterlyn.

13 – Jaque Fourie

Hy het in die vorige dekade sy beste rugby gespeel, maar Fourie was in 2011 steeds ’n waardevolle lid van Suid-Afrika se WB-span.

Hy was groot, bedrieglik vinnig en is saam met Jean de Villiers die mees ervare senterpaar in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby.

12 – Jean de Villiers

Dok Danie Craven het hom nooit gesien speel nie, maar hy sou De Villiers sonder twyfel as ’n “voetboller” beskryf het.

De Villiers het Suid-Afrika in ’n loopbaan wat oor 14 seisoene gestrek het in 109 toetse verteenwoordig, waarvan 37 as kaptein.

Bryan Habana is die Springbok met die meeste toetsdrieë op sy kerfstok. Foto: Getty Images

11 – Bryan Habana

’n Wêreldbeker-wenner, wat 67 drieë in 124 toetse in die Groen-en-goud gedruk het. Tweede op die driedruklys is Joost van der Westhuizen met 38 drieë.

Dít plaas Habana se indrukwekkende mylpale en prestasies in perspektief.

Handré Pollard het hom as die Springbokke se beste losskakel die afgelope dekade onderskei.Foto: Getty Images

10 – Handré Pollard

Morné Steyn was ook ’n sterk aanspraakmaker, maar Pollard het hom in Japan heel waarskynlik as die beste Bok-losskakel sedert hertoelating onderskei (Naas Botha was in die skemertyd van sy loopbaan in 1992).

Fourie du Preez is hier in 2015 in sy laaste Wêreldbeker-toernooi in aksie. Foto: Getty Images

9 – Fourie du Preez

Faf de Klerk verdien vermelding vir sy aandeel in die Springbokke se WB-glorie en Ruan Pienaar het die wêreld se talent gehad, maar niemand kom naby dié maestro nie.

Sal Suid-Afrikaanse rugby ooit weer ’n Fourie du Preez oplewer?

8 – Duane Vermeulen

Daar was diegene wat regdeur 2019 van mening was dat Vermeulen nie meer op sy beste is nie.

Dié kryger het sy kritici in die eindstryd teen die Engelse op hul neuse laat kyk.

Pieter-Steph du Toit het nie tans sy gelyke as steelkantflank nie.Foto: Getty Images

7 – Pieter-Steph du Toit

Juan Smith is een van ’n handvol sterre uit die vorige dekade wat weer in aanmerking kom.

Die Vrystaatse ysterman het in 2010 sewe toetse gespeel en ’n rampspoedige laaste een in 2014.

Smith, selfs op sy beste, sou Du Toit egter moeilik uit die span gehou het.

6 – Schalk Burger

Soos Smith ’n Bok wat waarskynlik sy beste jare voor 2010 gehad het.

Burger was nietemin in die WB-toernooie in 2011 en 2015 ’n vanselfsprekende keuse. Hy is een van die heel grotes in Suid-Afrikaanse rugby.

5 – Lood de Jager

Waar is Victor Matfield dan? Baie gaan nie met die keuse akkoord gaan nie, maar Matfield het in 2011 uitgetree en in 2014 weer teruggekeer.

In daardie stadium was De Jager die voorste nr. 5-slot in die land en selfs Meyer het hom vir die WB-toernooi in 2015 bo Matfield gekies.

Eben Etzebeth rank hoog in die Wêreldbeker-eindstryd teen Engeland. Foto: Getty Images

4 – Eben Etzebeth

Hoeveel van ons het nie in 2011 gewonder wie gaan Bakkies Botha se rol as die boelie in die pak vervul nie?

Daar is nie ander kandidate wat naby Etzebeth kom nie.

3 – Frans Malherbe

Malherbe of Jannie du Plessis? Dit is ’n moeilike keuse, maar Malherbe het met sy skrumvertoning in die WB-eindstryd die skaal in sy guns geswaai.

Malherbe het sy beste sover in sy loopbaan vir die belangrikste toets gehou.

2 – Bismarck du Plessis

Nog ’n moeilike een tussen Du Plessis en Malcolm Marx, terwyl John Smit ook nie buite rekening gelaat kan word nie.

Du Plessis was egter op sy beste ’n kolos sonder gelyke.

1 – Beast Mtawarira

Beast moes 117 toetse wag vir die voorreg om die Webb Ellis-beker omhoog te hou.

Hy was sedert 2008 ’n staatmaker in die Bok-voorry en hoewel Steven Kitshoff hom die laaste paar seisoene uitgedaag het, is Beast ’n logiese keuse.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Dekade  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.