Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só lyk skrywers se ideale Bok-span

Met die Britse en Ierse Leeus wat die afgelope week hul toergroep aangewys het, kies Rapport se drie rugbyskrywers, Hendrik Cronjé, Leighton Koopman en Brenden Nel, hul ideale Bok-span om Warren Gatland se manne aan te durf. 

Hendrik: Kwagga bo Kolisi

Kwagga Smith in aksie by voorverlede jaar se WB-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

Die Springbokke sal Hamish Watson by die afbreekpunte moet tem as hulle op hul Wêreldbeker-sukses wil voortbou.

Watson was die Speler van die Reeks in vanjaar se Sesnasies-toernooi. Hy het as baljagter, baldraer en verdediger uitgetroon.

Kwagga Smith kan die Bokke se antwoord wees. Kilogram vir kilogram is Smith as Suid-Afrika se voorste baljagter net so goed soos sy Skotse eweknie.

Smith se sewesvaardighede maak hom die regte perd vir die wedloop teen Watson, wat ook aanvanklik sy merk in sewesrugby gemaak het.

Siya Kolisi kan in dié reeks ’n groter bydrae as deel van die “Bomb Squad” maak. Niemand onderskat Kolisi se reusebydrae in die Bokke se Wêreldbeker-sukses nie, maar dit sit tans meer in Smith se broek om Watson kort te vat. Kolisi kan die kapteinskap eerder weer in die Rugbykampioenskap by iemand soos Luk­hanyo Am of Duane Vermeulen oorneem. Marcell Coetzee is die ander opsie as teenvoeter vir Watson, maar Wêreldbekerspelers moet vir eers voorkeur kry.

Coetzee is onder meer vanweë sy Ierse draai ’n moet vir die einde van die jaar se Bok-toer na Europa en selfs vir die Rugbykampioenskap.

Ox Nche is die enigste speler in die 23-tal wat nie in 2019 in Japan was nie. Hy vervang Beast Mtawarira, wat uitgetree het.

My span is: 15. Willie le Roux; 14. Cheslin Kolbe; 13. Lukhanyo Am (k); 12. Damian de Allende; 11. Makazole Mapimpi; 10. Handré Pollard; 9. Faf de Klerk; 8. Duane Vermeulen; 7. Pieter-Steph du Toit; 6. Kwagga Smith; 5. Lood de Jager; 4. Eben Etzebeth; 3. Trevor Nyakane; 2. Bongi Mbonambi; 1. Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Ox Nche, Frans Malherbe, Franco Mostert, RG Snyman, Siya Kolisi, Herschel Jantjies, Frans Steyn.


Leighton: Ox in Beast-plek

Die Springbokke het nie veel tyd om nuwe kombinasies te toets in die hoop om iets onvoorspelbaars te bied nie.

Daarom gaan dit belangrik wees om staat te maak op gevestigde kombinasies wat weet hoe om as ’n span te jel, sonder dat hulle veel oor die laaste jaar of wat saam gespeel het.

Ten spyte daarvan dat die meeste Springbokke laas in 2019 internasionale rugby gespeel het, behoort Jacques Nienaber en sy Springbok-bestuur steeds ’n gedugte span, soortgelyk aan die een wat die Webb Ellis-trofee omhoog gelig het, in die veld te stoot.

Dis veral die skakelpaar van Faf de Klerk (Sale Sharks) en Handré Pollard (Montpellier) wat vir die Bokke belangrik gaan wees. Agterlangs moet daar ook nie getorring word aan die driehoek van Willie le Roux, Cheslin Kolbe en Makazole Mapimpi nie.

Die enigste kwessies wat daar wel kan wees, is of die speeltyd wat mense soos die kaptein, Siya Kolisi, en die deurwinterde agtsteman Duane Vermeulen in hul tokse gaan hê, teen daardie tyd genoeg sal wees om die aanslag van die Leeus af te weer. Albei dwing wel genoeg gesag af om die begin-vyftiental te haal.

Hul lostrio-kombinasie, saam met Pieter-Steph du Toit, behoort die Bokke daardie ekstra slaankrag voorlangs te gee.

Onder die plaasvervangers kan daar na ’n paar groentjies gekyk word om daardie blootstelling te kry met ouens soos Tendai Mtawarira en Francois Louw wat reeds uitgetree het.

My span is: 15. Willie le Roux;14. Cheslin Kolbe; 13. Lukhanyo Am; 12. Damian de Allende; 11. Makazole Mapimpi; 10. Handré Pollard 9; Faf de Klerk; 8 Duane Vermeulen; 7 Pieter-Steph du Toit; 6. Siya Kolisi (k); 5. Lood de Jager; 4. Eben Etzebeth; 3. Frans Malherbe; 2. Bongi Mbonambi; 1. Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Ox Nche, Vincent Koch, Franco Mostert, Marco van Staden, Herschel Jantjies, Frans Steyn, Damian Willemse.


Brenden: Marcell kry 6-trui

Dit kan mense verbaas dat ’n Bokspan twee jaar later amper dieselfde lyk as die een wat in die Wêreldbeker-eindstryd gespeel het.

Maar ek glo vas aan die beginsel van ’n speler in die saal moet uitgespeel word.

Dan bly net die vraag – wie het so hard aan die deur geklop dat hulle nie geïgnoreer kan word nie?

Die feit is dat daar min kandidate wat na vore getree het ondanks baie rugby plaaslik in die laaste paar maande.

Teen die Britse en Ierse Leeus het jy hardebaarde nodig. Jong spelers sal hul kans later in die jaar kry, maar vir nou is daar min spelers wat die huidige Bokke kan uitwerk.

En wat van Siya Kolisi? Die Bokkaptein haal nie my span nie weens sy peil, maar ek sou hom nie weggooi nie. Marcell Coetzee verdien net op peil alleen (hy is tans beseer en moet nog terugkeer) ’n kans in die span.

Kolisi se peil was wisselvallig, maar ek glo die Bokbestuur sal hom vinnig weer regkry. Met hom weg, sal Lukanyo Am my kaptein wees.

Aphelele Fassi, Wandisile Simelane, Marco van Staden, Morne Steyn, Cornal Hendricks en Andre Esterhuizen sou almal in ‘n vergrote groep wees, en sal vanjaar nog hulle kans kry. Dieselfde geld vir spelers soos Jasper Wiese en Damian Willemse.Willie le Roux en Makazole Mapimpi is tans witwarm in Japan en kan saam met ander, soos Kwagga Smith en Jesse Kriel, ’n sterk groep spelers vir Jacques Nienaber maak.

Teen die Leeus is ervaring van kardinale belang.

My span is: 15. Willie le Roux; 14. Cheslin Kolbe; 13. Lukanyo Am (k); 12. Damian de Allende; 11. Makazole Mapimpi; 10. Handré Pollard; 9. Faf de Klerk; 8. Duane Vermeulen; 7. Pieter-Steph du Toit; 6. Marcell Coetzee; 5. Lood de Jager; 4 Eben Etzebeth; 3. Trevor Nyakane; 2. Bongi Mbonambi; 1. Steven Kitshoff. Plaasvervangers: Malcolm Marx, Lizo Gqoboka, Frans Malherbe, RG Snyman, Siya Kolisi, Sikhumbuzo Notshe, Cobus Reinach, Frans Steyn.
Channel Options

Meer oor:  Toer  |  Britse Leeus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.