Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só ’n skrum ‘enige voorry se droom’

Om vir Wilco Louw te verloor het, was ’n gevoelige verlies, maar as die Stormers se Superrugby Unlocked-veldtog iets gewys het, is dat daar ’n paar goeie adjudante vir Frans Malherbe op vaskopstut is.

Sazi Sandi op die oefenveld vir die Stormers in Bellville. Foto: Gallo Images

Die afgelope naweek was dit die Junior Springbok Sazi Sandi se beurt nadat Neethling Fouché hom vroeër in die reeks ook goed van sy taak gekwyt het.

Sandi (22) het in sy eerste skrum op dié vlak vir die Stormers in die 73ste minuut van verlede naweek se wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland ’n strafskop afgedwing.

Die Stormers, wat toe met 23-13 voor was, het dit in ’n aanvallende geleentheid omskep, wat aanleiding gegee het tot Warrick Gelant se drie, wat dit 30-13 gemaak het en die oorwinning beklink het.

Sazi Sandi in aksie vir die Junior Springbokke in ’n wedstryd teen Georgië in Stellenbosch in 2018. Foto: Gallo Images

Bongi Mbonambi, die Springbok-haker, was die eerste van talle Stormers wat tou gestaan het om vir Sandi geluk te wens.

Steven Kitshoff, die Stormers se kaptein, wat teen daardie tyd in die wedstryd al vir die indrukwekkende jong loskopstut Leon Lyons plek gemaak het, het agterna Sandi se lof besing.

“Sy eerste skrum was enige voorry se droom,” sê Kitshoff.

“Ek is ongelooflik trots op Sazi. Sy ingesteldheid by oefensessies is puik en dit was ’n welverdiende beloning om sy buiging te maak. Hy het ’n blink toekoms.”

Die vestiging van diepte op stut is vir die Stormers van die allergrootste belang. Hul eerste linie van Kitshoff en Malherbe as voorrye is só goed as wat enige afrigter voor kan hoop, maar die voortsetting van die Kapenaars se skrumkultuur in die jare wat voorlê, sal afhang van hoe jonger stutte deur die struktuur gebring word.

Sazi Sandi in aksie vir die Maties in 2019 se Varsitybeker-eindstryd teen Tuks in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Foto: Gallo Images

Daar is ook ’n perk op hoeveel John Dobson, hul afrigter, uit Kitshoff en Malherbe kan put in die Westelike Provinsie se Curriebeker-veldtog.

Met die deurwinterde Ali Vermaak nog buite aksie as die Stormers se tweede loskopstut, word daar hoofsaaklik op die 21-jarige Lyons staatgemaak om vir Kitshoff af te los.

Sowel Sandi as Lyons was in die Oos-Kaap op skool. Lyons het aan Selborne College in Oos-Londen gematrikuleer en Sandi aan St. Andrew’s College in Grahamstad, waar hy ook die hoofseun was. Albei is ook in die Universiteit Stellenbosch se Varsitybeker-stal.

Benewens Lyons kan daar aan die loskopkant staatgemaak word op Kwenzo Blose, wat sy skoolopvoeding by Glenwood High in Durban gekry het.

Blose (23) is ook ’n Junior Springbok en kan nie vir ’n beter leermeester as Kitshoff vra om sy ambisies te verwesenlik nie.

Die volgende stap is nou vir almal om elke geleentheid op senior vlak aan te gryp. Hulle is nou in die diepkant en dis ’n geval van sink of swem.

Meer oor:  Stormers  |  Superrugby Un­Locked
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.