Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Van der Veen: Só slaan jy munt uit rugby

Daar word dikwels na die Westelike Provinsie verwys as ’n bankrot rugbyunie, maar die waarheid is dat nie een groot franchise in Suid-Afrika dit breed het nie.

Die sakeman André van der Veen, wat as ’n onafhanklike direkteur in die WP Rugbyunie se sakevleuel dien.

En die “miljoendollar-vraag” is hoe om die verliese in winste te omskep. En of dit hoegenaamd moontlik is sonder die hulp van ’n “belegger”, vir wie opbrengs ’n bysaak is.

“Nie tensy die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se verspreidingsmodel verander nie. Jy kan die inkomstestaat op geen ander manier balanseer nie,” sê André van der Veen, ’n gesiene sakeman, wat as ’n onafhanklike direkteur dien in die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel.

“Op die ou end is dit die Superrugby-unies wat vir Saru geld maak, maar die vergoeding wat ons kry om die produk op die veld te sit, is nie genoeg om ons onkoste te delg nie.”

Van der Veen besef Saru het self baie uitgawes en prioriteite, maar meen die moederliggaam moet bereid wees om “moeilike besluite” te neem.

Oor die uitdagings waardeur Superrugby-unies in die gesig gestaar word, skets Van der Veen ’n donker prentjie: “As daar nie ’n buitengewone gebeurtenis is nie, sal ek sê ’n professionele rugbybesigheid sal jaarliks ’n tekort van tussen R20 miljoen en R30 miljoen hê om koste te kan delg,” sê hy.

Van der Veen identifiseer drie gereelde bronne van inkomste: die geld wat Saru uit die verkoop van TV-regte oorbetaal, borgskappe en kaartjieverkope.

Ek dink daar’s genoeg geld in die ekosisteem en genoeg belangstelling van mense wat wil kyk, maar ek dink daar’s strukturele probleme.

Wat borgskappe betref, is daar ’n beperking op wat ’n unie kan kry, terwyl ’n optimale produk nie altyd aangebied word om kaartjieverkope te stu nie. In daardie opsig gaan dit oor meer as om net ’n wenspan in die veld te stoot.

“As ’n onderliggende produk is rugby eintlik ’n fantastiese sport. Ek dink daar’s genoeg geld in die ekosisteem en genoeg belangstelling van mense wat wil kyk, maar ek dink daar’s strukturele probleme,” sê hy.

“Rugby het as ’n amateursportsoort ontwikkel en in die 1990’s professioneel geraak. As deel van daardie proses, dink ek nie dit het ’n volledige transformasie ondergaan nie.

“As jy kyk na die NFL (Nasionale Voetbal-liga) in Amerika, is hulle fanaties gefokus op die produk. Die administrasie, prosesse en infrastruktuur is slegs op een ding geskoei: om seker te maak dat die produk so goed as moontlik is.”

Van der Veen meen die feit dat al hoe minder mense wedstryde bywoon, dui op probleme met rugby as ’n produk in Suid-Afrika.

“Die stadions was volgepak toe groot unies 15, 20 jaar gelede teen mekaar gespeel het. Speel ons nou te veel rugby? Gaan dit daaroor dat die topspelers nie in die Curriebeker-reeks speel nie?

“Daar was ’n tyd toe dit gewerk het en ons moet baie aandag gee aan waarom mense nie meer wedstryde bywoon nie. Dit kan nie net wees omdat wedstryde op TV gebeeldsend word nie.

“So daar is vrae om te beantwoord. Wat kan ons doen om vir mense ’n beter ervaring by die stadion te gee? Dit gaan egter nie net oor die stadion nie. Ons moet poog om die beste spelers op die veld te kry.”

Die ligging van die Kaapstad-stadion kan Stormers-ondersteuners se ervaring op ’n wedstryddag aangenamer maak as by Nuweland. Foto: Getty Images

In die geval van die WP, erken Van der Veen die skuif van Nuweland af na die Kaapstad-stadion bied ’n geleentheid om aan die ervaring van die wedstryddag te werk. Die Kaapstad-stadion is binne stapafstand van die V&A Waterfront en daar is ’n legio kuierplekke om die stadion.

Maar selfs met die skuif ingereken, sal die Kaapse franchise, soos die res, elke sent moet omdraai.

“Daar’s nie ’n maklike oplossing nie, maar die eerste gedagte wat by my opkom, is om te gaan kyk wat ander sportsoorte in die res van die wêreld gedoen het om seker te maak dat die produk so goed as moontlik is,” sê hy.

Oorsee is die integrasie van tegnologie, die spel en die toeskouer ’n groot fokus.

“Tans kom die geld uit die produk wat die groot spanne lewer. En ons moet seker maak dat daardie produk só goed as moontlik is, en dat die unies wat dit moet lewer finansieel gesond genoeg is om dit te kan doen.

“Op ’n manier veg almal maar altyd voort. Of dis ’n belegger of ’n lening. Die probleem is egter besig om toenemend erger te raak en jy weet nooit wanneer jy by die punt gaan uitkom waar dit onmoontlik gaan wees om iets substansieel te verander nie. Op ’n tydstip gaan iemand moet sê iets werk nie, en dat ons veranderings móét maak.”

Van der Veen meen unies bevind hulle in posisies waar belangrike dinge soos die instandhouding en opknapping van stadions, asook om speelvelde van wêreldgehalte te lewer, afgeskeep word. Dan is daar ook nie ’n belegging in tegnologie wat plaasvind nie.

“Oorsee is die integrasie van tegnologie, die spel en die toeskouer ’n groot fokus. Daar’s ’n gevoel dat dit baie belangrik gaan wees as jy met ander vorme van vermaak en ‘sportainment’ om mense se besteebare inkomste meeding,” sê hy.

Daar’s min stadions met die atmosfeer wat ’n vol Ellispark skep, maar die Goue Leeus Rugbyunie ly waarskynlik finansieel daaronder omdat die ligging in Johannesburg nie bevorderlik is vir groot skares nie. Foto: Getty Images

Van der Veen was onlangs uitgesproke oor die probleme wat die WP by Suid-Afrikaanse rugby se Werkgewersorganisasie (Sareo) ervaar het. Al 14 unies word dáár verteenwoordig, maar hul belange is nie belyn nie. Dit het aanleiding gegee tot die omstrede besluit om spelers die geleentheid te gee om tussen 24 April en 14 Mei hul kontrakte op te sê ten gunste van ’n aanbod oorsee.

In daardie opsig het die kollektiewe onderhandelingsproses vir Van der Veen strukturele probleme in Suid-Afrikaanse rugby uitgewys.

Hy meen agente, eerder as spelers, het gebaat by die proses wat die 21-dag-klousule opgelewer het.

“In die algemeen werk die kollektiewe proses vir die spelers. Ons probleem is dat die belange van agente en dié van spelers nie noodwendig ooreenstem nie,” sê hy.

“As dit net die spelers was wie se belange beskerm moes word binne die kollektiewe proses, sou ek sê dit het baie integriteit. Wanneer die agente se belange egter bygereken word, is daar soms vrae wat opduik. Die 21-dag-klousule is ’n baie goeie voorbeeld. Dit was nie in die belang van Suid-Afrikaanse rugby nie.”

’n Veel groter kwessie vir Van der Veen is éíntlik die toekenning van Springbok-toetse, wat jaarliks ’n lotery is.

“Ek kan nie daarvoor begroot nie. Die implikasie of ’n unie ’n toets kry, en of hy ’n ordentlike toets kry, het ’n baie groter invloed op ons inkomstestaat as ons lidmaatskap van Sareo. Dit is net nóg ’n proses binne Saru wat ons beter sal moet verstaan.”

Die troos in die uitdagings lê in die potensiaal om die skip om te keer.

“Dit is duidelik dat regstreekse sport baie waardevol is en in die toekoms nóg waardevoller gaan wees vir die uitsaaiwese en digitale verspreiders. Rugby is baie goed geposisioneer om daaruit munt te slaan,” sê hy.

“Dit kan wees dat ons nouer moet saamwerk met ons uitsaaiers in Suid-Afrika én oorsee, sodat ons die produk tot die maksimum benut as ’n ‘live event’. Alles gaan daaroor om die produk só goed as moontlik te maak. Die res is sekondêr.”

Meer oor:  André Van Der Veen  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Wins  |  Geldkrisis  |  Kaartjieverkope  |  Superrugby  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.