Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só tem jy Leeus, sê Griekwas se breier

Een van Griekwas se onbesonge helde die seisoen, die voorryman Khwezi Mona, loop die naweek se Curriebeker-wedstryd teen die Goue Leeus as voorsorgmaatreël mis.

Die 26-jarige Mona, ’n sterk skrumwerker en derduiwel met die bal in die hand, het las van ’n skouerbesering, maar sal slaggereed wees vir die halfeindstryd van die kompetisie.

Khwezi Mona word met die oog op die halfeindronde ’n ruskans gebied. Foto: Gallo Images

“Khwezi Mona het al ’n geruime tyd las van ’n skouerbesering en ons moet hom hierdie week ’n ruskans gee,” sê Brent Janse van Rensburg, afrigter van die Poubloues.

“Hy sal volgende week terug wees, met Mox (Mxoli) wat sy plek inneem. Ons is egter vol vertroue dat hy hom goed van sy taak sal kwyt. Hy (Mxoli) is al ’n ruk hier en vertroud met die stelsels en ons sien uit na wat hy kan bydra.”

Mxoli, wat tevore vir die Blou Bulle gespeel het, is een van drie veranderings aan die span wat verlede week met die Westelike Provinsie afgereken het.

Zak Burger se seisoen is verby nadat hy sy knie vroeg in die kragmeting met die Kapenaars beseer het. Sy plek word ingeneem deur die oud-Puk Chriswill September, met Christiaan Meyer wat hom op die plaasvervangersbank bevind.

“Ons is baie geseënd om iemand soos Christiaan Meyer, wat oor baie ervaring beskik, weer in die groep te hê.

“Dan het Zandré Jordaan (flank) ongelukkig ’n kuitbesering en is net nie gemaklik om te hardloop nie. Hy word ook hierdie week ruskans gegee en behoort volgende week weer reg te wees,” sê Janse van Rensburg.

Die baljagter Gideon van der Merwe neem Jordaan se plek aan die kant van die skrum in.

Gideon van der Merwe is terug in Griekwas se beginspan vir Saterdag se kragmeting in Kimberley. Foto: Gallo Images

Maar die veranderings ten spyt, dink die breier nie die span word verswak nie.

“Dit is ’n goeie geleentheid vir die ander spelers wat honger is om hul staal te wys om nuwe energie na die span te bring.

“Uit die aard van die saak onderskat ons die Leeus (wat nog nie verseker is van ’n plek in die halfeind nie) beslis nie.

“Ons verwag dat die Leeus ons onder druk gaan plaas by die vaste fasette. Dan gaan hulle ook beslis hardlooprugby opdis en ons met systappe en binne-aangeë probeer uitoorlê.

“Ons sal reg moet wees om ons man op die verdediging te staan en hul balbesit te vertraag. Dan sal ons hulle moet verhoed om ritme te kry,” sê Janse van Rensburg.

Griekwas: Anthony Volmink, Ederies Arendse, Michal Haznar, André Swarts, Eduan Keyter, George Whitehead (k), Chriswill September, Niell Jordaan, Sias Koen, Gideon van der Merwe, Victor Sekekete, Ian Groenewald, Ewald van der Westhuizen, AJ le Roux, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: Wilmar Arnoldi, NJ Oosthuizen, Johan Momsen, Conway Pretorius, Christiaan Meyer, Chris Smit, Bjorn Basson, Ruan Kramer.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Leeus  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.