Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Só wil oud-Bok GW-skrums gedug maak

Die voormalige Springbok-stut Wian du Preez meen dit was gebrekkige konsentrasie wat Griekwas die afgelope naweek duur in die skrums te staan gekom het.

Nadat die Poubloues aanvanklik stewig in die skrums gestaan het in hul Curriebeker-wedstryd teen die Haaie in Kimberley, het dinge later in dié afdeling van die spel nie meer klopdisselboom vir die Noord-Kapenaars verloop nie. Die besoekers het die wedstryd met 30-16 gewen.

Wian du Preez het die Springbokke in een toets verteenwoordig. Foto: Getty Images

Du Preez (38), wat die Bokke in een toets in 2009 verteenwoordig het en in sy speeldae vir spanne soos die Cheetahs, Munster (Ierland) en Lyon (Frankryk) uitgedraf het, staan die Poubloues vanjaar as skrumkonsultant by.

“Ons het goed begin; daarna dink ek dit was ’n kwessie van konsentrasie wat ’n bietjie verloor is. Dit is iets waaraan ons werk, om konstant vir 80 minute te wees,” sê Du Preez.

“ ’n Mens wil nie strafskoppe by skrums afstaan nie, want dit is onnodige balbesit wat jy vir jou teenstander gee en jy plaas boonop ekstra druk op jouself.

“Elke skrum is anders, maar die groot ding is om jou stelsels reg te kry. Dit gaan daaroor om konstant te wees, om elke keer dieselfde roetine te volg dat jy op ’n vlak is waar jy mededingend is.

“Bygesê, dit is ’n moeilike faset. Op die dag kan die veld nat wees, die pak teen wie jy speel kan groter as jy wees. Daar is soveel veranderlikes, so dit is moeilik om te beheer, maar jy probeer om dit altyd na jou beste vermoë te doen,” sê Du Preez.

Ewald van der Westhuizen is een van die ervare voorrymanne by Griekwas wat moet help om die Vrystaat-Cheetahs te tem. Foto: Gallo Images

Wat stutte betref het Griekwas ’n paar goeies soos Andries Schutte, Nqoba Mxoli, Andrew Beerwinkel en Ewald van der Westhuizen om uit te kies.

Daar word groot verwagtinge gekoester van die stut Janu Botha, wat een van die groot uitblinkers vir die Ixias in die skrums was in die onlangse Varsitybeker-reeks. Hy kan net dalk binnekort in die Curriebeker-reeks losgelaat word.

Die groot sentrale derby is Saterdag wanneer die Poubloues en Vrystaat-Cheetahs mekaar in Kimberley pak.

“Dit is altyd ’n fisieke stryd en die Cheetahs roem hulself ook op hul skrums en drywe van die lynstane,” sê Du Preez.

“Die skrums gaan ’n belangrike aspek van die wedstryd wees en ons berei ons voor vir ’n groot uitdaging. Ons sien uit na die uitdaging; dit gaan voorlangs fisiek wees.”

• Intussen het die senter Jay-Cee Nel, wat voorheen by die Bulle was, hom by Griekwas aangesluit. Nel (22) is ’n oudleerling aan die Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal.

Meer oor:  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.