Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Leeus van ’74: Soete Bok-wraak

Willie du Plessis duik sierlik oor die doellyn in die eerste toets op Nuweland. Foto: Getty Images
Dramatiese drieë deur die Bokke het Suid-Afrika se rugby-eer herstel ná die skande wat hulle teen die Leeus van ’74 gemaak het. Albert Heenop gee ’n blik op die gebeure wat 1980 se Bokke ’n spesiale plek besorg in reekse teen die Britse en Ierse Leeus.

Die Springbokke het behoorlik die drieë ingeryg in die reeks van 1980 teen die Britse en Ierse Leeus. Suid-Afrika het die Britte met 10 drieë teen vier oorskadu in die eerste drie toetse om die reeks toe reeds te beklink.

Gerrie Germishuys was tops met drie in drie toetse, terwyl die Bokke se ander drieë gedruk is deur Rob Louw (2), Willie du Plessis (2), Moaner van Heerden, Divan Serfontein, Theuns Stofberg en die sensasionele Gysie Pienaar.

Ray Mordt

Maar nie ’n enkele een deur Ray Mordt nie?

Haas ondenkbaar, nie waar nie?

Dié kragvleuel van Zimbabwe, wat die daaropvolgende jaar die All Blacks byna sou kelder met ’n ongelooflike rekord-driekuns in Auckland, was nietemin een van die Bok-helde in 1980, en voortdurend ’n doring in die Leeus se vlees met sowel sy onverskrokke lopies as soliede verdediging.

“Hoewel Suid-Afrika heelwat drieë gedruk het in 1980, was verdediging ’n fokuspunt,” sê Mordt.

“Die wyse waarop ons verdedig het, het omgekeerde besit bewerkstellig waarmee ons venynige teenaanvalle kon loods. Dit het die Leeus telkemale onverhoeds betrap.

Die meeste spelers sou die veld verlaat het met so ’n beseerde en toegeswelde oog, maar Morné het voortgespeel en die Bokke tot ’n merkwaardige oorwinning gelei.
Ray Mordt

“Die Leeus het oor ’n ervare pak voorspelers beskik, maar ons agttal het hul man deeglik gestaan. Morné (du Plessis) was ’n sprekende voorbeeld, toe die Leeus hom binne die eerste minuut van die reeks met ’n vuishou bygekom het. Die meeste spelers sou die veld verlaat het met so ’n beseerde en toegeswelde oog, maar Morné het voortgespeel en die Bokke tot ’n merkwaardige oorwinning gelei.

“Rob Louw op flank het natuurlik ’n ongelooflike reeks beleef. Die wyse waarop voorspelers soos Rob gereeld met die agterspelers aansluiting gevind het, was ’n uitstaande kenmerk.

“Ons agterlyn was eenvoudig vernietigend op die aanval, en verál op die teenaanval. Met blitse soos Gerrie en Gysie, wat altwee briljant was, was ons in staat om die Leeus se verdediging in kritieke stadiums oop te kloof.”

John Robbie

Mordt het hom in 1981 uit Zimbabwe in Suid-Afrika – waar hy terloops gebore is – gevestig. By die Wanderers-klub in Johannesburg het hy en die skrumskakel van die 1980-Leeus, John Robbie, goeie vriende geword.

“John was uitstekend in die laaste toets van 1980, wat die Leeus gewen het,” onthou Mordt, “en hy het in 1982 saam met my vir Wanderers en Transvaal begin speel.

“John was, nes Divan, ’n hoogs intelligente skrumskakel, met ’n geoefende skopvoet en ongelooflike aangee. Hy was ook een van die eerste skrummies wat werklik kon ‘gesels’ op die veld; John het die kuns verstaan om sy voorspelers die leviete voor te lees.”

Robbie, wat ’n paar jaar gelede die tuig neergelê het as ’n gewilde en soms omstrede omroeper by 702, het egter nie ’n aangename herinnering aan sy eerste kennismaking met Mordt nie.

“Ek en Ray het onlangs weer lekker daaroor gelag toe ons saam gholf gespeel het,” vertel hy.

“Aangesien die Leeus reeds die reeks in 1980 verloor het, was die vierde toets bloot ’n geleentheid om gekrenkte eer te herstel. Met dit in gedagte het Bill Beaumont (deesdae voorsitter van Wêreldrugby) gesê dat hy nie wou sien dat enige van ons soos ’n lafaard die bal bloot oor die kantlyn dra nie; ons moes in spel bly en die houe vat.

“Dit was ’n tipies inspirerende spanpraatjie.

“In elk geval, met speeltyd verstreke was ons 17-13 voor en die stryd basies gewonne, toe Naas (Botha) ’n steekskoppie deurgesit het wat ek op dekverdediging teenaan die kantlyn opgepik het.

“Ek was op die punt om doodluiters oor die kantlyn te tree en ons oorwinning te begin vier, toe ek Bill se woorde onthou en ‘in spel’ gebly het.

“Die volgende oomblik toe tref Ray Mordt my van die kant af.

“Hy het my geduik dat ek hik, en ek was vir omtrent drie weke seer!

“Ray . . . wat ’n wonderlike speler, wat ’n wonderlike mens.

“Hy sou miljoene werd gewees het in vandag se rugby.”

Volgens Robbie was die Bokke se sleutelfigure in 1980 egter die drietal Rob Louw, Gysie Pienaar en Gerrie Germishuys.

“Louw was ontsettend vinnig, en aangesien Stuart Lane in die eerste wedstryd beseer is en Fergus Slattery nie getoer het nie, het die Leeus oor niemand beskik om Louw na die losbal te klop nie. Pienaar was eenvoudig verbysterend, terwyl Germishuys omtrent elke slag wat hy aan die bal geraak het gaan druk het.”

Volgens Robbie was die reeks beslis op grond van ’n paar deurslaggewende oomblikke, met die Bokke wat bloot hul kanse beter benut het.

“Daar was Serfontein se drie in die doodsnikke van die eerste toets, en, natuurlik, Germishuys s’n in die derde toets in Port Elizabeth, toe Clive Woodward – ‘sir’ Clive Woodward – ewe nonchalant die bal uitgetik het op ons hoekvlag, en Germishuys, ná ’n vinnige ingooi, oorgeduik het om die reeks te beklink.”

Robbie het as ’n reserwe by die 1980-toer aangesluit en beskou dit as die grootste ervaring van sy rugbyloopbaan.

“Daardie Leeu-toergroep was gery deur beserings, maar dit was tot my voordeel.

“Ek was uitgenooi om vir die Goshawks-uitnodigingspan teen die Kwaggas te speel in Bulawayo, toe ek ontbied is om by die span aan te sluit nadat Terry Holmes beseer is.

“Dit het ’n lewensideaal van my verwesenlik.”

Robbie het gevolglik van die beste rugby van sy loopbaan opgedis, maar vir hom staan die vriendskapsbande wat gesmee is, tesame met die onvergeetlike herinneringe, uit.

“Rodney O’Donnell (heelagter), byvoorbeeld, was die bygelowigste ou ooit,” vertel hy.

“Selfs in ’n toetswedstryd sou hy nie op ’n lyn getrap het as hy dit kon verhoed nie, en as ’n bal oor die pale geskop is, moes hy eenvoudig die bal altyd oor die dwarslat teruggooi.

“Dus het ek en Ollie Campbell (losskakel) op Vrydag 13 Junie besluit om Rodney ’n poets te bak. Ons het sy hotelkamer vol lyne getrek en toue gespan, en selfs ’n swart kat daar losgelaat.

“Die poets het ’n ernstige nadraai gehad toe Rodney sy nek gebreek het vyf dae later in die wedstryd teen die Junior Bokke, toe hy vir Danie Gerber probeer duik het.”

Was dit blote toeval dat Gerber ’n nr. 13-trui gedra het?

O’Donnell het van die besering herstel, maar nooit weer rugby gespeel nie.

Robbie sou in sy wildste drome nie kon voorspel, toe hy Suid-Afrika in 1980 op Loftus Versfeld die stryd aangesê het, dat die Republiek sy nuwe tuiste sou word, en minder nog dat hy ’n paar jaar later self die Groen-en-goud oor die kop sou trek nie – tydens die Springbokke se interne toer van 1985.

“Die Leeu-toer was fantasties, en ek wou Suid-Afrika graag weer besoek,” vertel hy.

“In 1981 het ek saam met Ierland kom toer. Daardie toer het egter hewige politieke gevolge gehad. Ek was my werk in Dublin kwyt as gevolg daarvan.

“Gevolglik het ek besluit om agter te bly in Johannesburg, bloot om rugby te speel.

“Die provinsiale standaard was ongelooflik hoog en om gereeld voor skares wat gewissel het tussen 30 000 en 50 000 te kon speel, was iets besonders.

“Nou ja, 40 jaar het verloop, en hier is ek steeds; ’n trotse Suid-Afrikaner!”

Meer oor:  Britse En Ierse Leeus  |  Springbokke  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.