Sonny Bill Williams het ’n beroep gedoen op groter diversiteit in Australiese rugbyliga (NRL), waar minderheidsgroepe die speelveld oorheers maar in vergelyking min verteenwoordiging in administrasie het.

Sonny Bill Williams en sy gesin is terug in Australië waar hy vir die Sydney Roosters gaan speel. Foto: Getty Images
Dié voormalige All Black-ster het na Australië teruggekeer op ’n korttermynkontrak by die NRL-kampioen, die Sydney Roosters.
Williams het die gesaghebbende NRL-administrateur Phil Gould gevra om Suidsee-Eilanders en inheemse Australiërs te bemark in sy nuwe rol as ’n konsultant by die Nieu-Seelandse Warriors.
“Ek probeer maar net dinge bekyk vanuit ’n perspektief van wat die beste is vir my mense – Polinesiërs, Maori’s, Aborigines, die minderhede,” sê die Wêreldbekerwenner in 2015, wie se pa van Samoaanse afkoms is.
“Dit sal wonderlik wees om te sien dat jy iemand onder jou vlerk neem en ons help floreer, nie net op die veld nie... uiteraard gedy ons op daardie gebied.
“Ek wil jou uitdaag om ons te help om van die veld af te floreer, of dit nou as afrigters, uitvoerende hoofde of raadslede is, daardie tipe vlak.”
Meer as die helfte NRL-spelers is van Suidsee-Eiland-, inheems Australiese of Maori-herkoms, maar bitter min beklee poste in senior bestuur.
Williams (35), terug in Australië saam met sy gesin nadat die Toronto Wolfpack hom van sy kontrak vrygestel het, sê hy kan nie sien dat hy na sy geboorteland, Nieu-Seeland, sal terugkeer om daar beroepsrugby te speel nie.
“Ek beskou Australië as my tuiste selfs meer as Nieu-Seeland wat betref om kinders groot te maak en dies meer,” sê hy.
“Ek is ’n realis. Ek is 35, ek is nie meer vandag se kind nie. Ek skat ek het maksimum nog ’n jaar in my oor (om rugby te speel).”
– Reuters