Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sonny Bill se 3de WB in gedrang
Sonny Bill Williams se deelname aan die Wêreldbeker-toernooi hang aan ’n draadjie. Foto: Gallo Images

Die All Black- en Blues-senter Sonny Bill Williams ondergaan Vrydag ’n knieoperasie, wat sy deelname aan die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar in die weegskaal plaas.

Die Blues het ná hul oefening Donderdag bekend gemaak dat die 33-jarige Williams, wat ’n ongeëwenaarde derde agtereenvolgende WB-kroon in ’n All Black-trui wil verower, minstens ses weke langs die kantlyn sal wees weens ’n “klein” knieoperasie, berig stuff.co.nz.

Die veteraan het sy knie in Maart teen die Stormers beseer.

Met ’n hersteltydperk van ses weke kan hy moontlik teen die einde van die Superrugby-reeks terugkeer tot die veld, wat hom min kans sal gee om sy fiksheid te bewys.

“Dis ’n groot terugslag,” sê Leon MacDonald, die Blues se afrigter.

“Ek voel jammer vir hom en dis ongelukkig vir hom. Hy het uiteraard sleg geval en skade opgedoen. Maar vir hom om ’n plan te hê vir sy terugkeer, sal help. Ons gaan hom mis op die veld, maar hy dra steeds by in die vergaderings en waar hy kan.”

MacDonald is nie seker hoe gou Williams sy terugkeer sal kan maak ná die operasie nie.

Sy knieë het hom in die verlede al probleme gegee, maar daar word versigtig gewerk. Ek is seker wat ook al besluit word, is met langtermyn in gedagte.
Leon MacDonald

“Sy knieë het hom in die verlede al probleme gegee, maar daar word versigtig gewerk. Hy het goeie raad gekry en ek is seker wat ook al besluit word, is met langtermyn in gedagte.”

Maar, sê die Blues-afrigter, hy weet as enigiemand gou van so ’n operasie sy terugkeer kan maak, is dit die “gedrewe” Williams.

“Wat ook al hy besluit om te doen en daarop fokus, hy laat dit gebeur,” sê MacDonald.

“Hy is ’n vasberade man en hy wil vanjaar die Wêreldbeker-groep haal en deel daarvan wees.”

Williams het reeds 51 toetse vir die All Blacks gespeel en het ’n sleutelrol in die WB-seges in 2011 en 2015 gespeel.

Hy word die laaste paar jaar deur beserings geteister en het in 2018 net vyf toetse gespeel en geen in 2016 toe sy seisoen deur ’n hakskeen-besering in die Olimpiese Spele kortgeknip is.

Selfs sonder Williams, het Nieu-Seeland ’n magdom senters om van te kies.

Onder hulle tel Ryan Crotty, Ngani Laumape, Anton Lienert-Brown, Jack Goodhue, Matt Proctor, Rob Thompson en die strydros Ma’a Nonu wat ’n sprokiesterugkeer wil maak tot die All Black-span ná ’n afwesigheid van vier jaar. – Sportredaksie

Meer oor:  Sonny Bill Williams  |  Nieu-Seeland  |  Rugby  |  Senter  |  Operasie  |  Wereldbeker  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.