Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Franco Mostert wen Bok-slotstryd
Lood de Jager

Franco Mostert as nuwe lynstaan-dirigent, ’n spiksplinternuwe agterlyn onder Franco Smith . . . en Frans Steyn wat sy langverwagte terugkeer tot toetsrugby op die bank sal maak.

Dít kan alles deel vorm van die golf van vernuwing wat dié week oor die Springbok-span spoel.

Die Springbok-afrigter, Allister Coetzee, gaan voorkeur gee aan gevestigde kombinasies wanneer hy Donderdag in Pretoria sy span vir Saterdag se eerste toets op Loftus Versfeld teen Frankryk aanwys. Dít sal Mostert, en die Leeus se 9 (Ross Cronjé), 10 (Elton Jantjies) en 15 (Andries Coetzee), se kans op insluiting versterk.

Pieter-Steph du Toit

’n Kerndeel van die Leeus se sukses in vanjaar se Superreeks, is die bestendige lynstaanspel wat Mostert en Warren Whiteley weekliks in kombinasie met Malcolm Marx as haker-ingooier lewer. As Marx in die beginspan is, sal Mostert se insluiting bo Pieter-Steph du Toit die kombinasie-keuse wees.

Die 26-jarige Mostert, met die gepaste bynaam van Sous, is op spelpeil en volgens kernstatistieke die voorste Suid-Afrikaanse vyfslot in vanjaar se Superreeks.

Die 12 lynstaanballe wat hy op sy teenstanders se ingooie gewen het, is twee keer soveel as die speler wat die naasmeeste lynstaaningooie van opponente “gesteel” het.

Sy 127 suksesvolle duikslae is ewe betekenisvol waarom Coetzee in sy guns mag besluit om in die beginspan te wees nadat hy in al sewe sy toetse van die bank af gespeel het.

Lood de Jager, wat grootliks die Bokke se lynstaantekens sedert 2015 se Wêreldbekertoernooi roep, kan ’n duur prys vir die Bulle se gesukkel in Superrugby betaal. Hy het sy beste vertoning van die jaar eers teen die Hurricanes gelewer, wat te laat kon wees om Mostert uit die beginspan te hou.

48%: Die Springbokke het glad nie ’n goeie tuisrekord teen Frankryk nie. Uit die 21 toetse teen die Hane kon die Bokke net 10 wen – ’n wenpersentasie van 48%. Die Hane was in ses toetse aan die wenkant en vyf was gelykop. Die lande het al altesame 39 keer teen mekaar gespeel, waarvan die Bokke 22 toetse en Franse 11 gewen het. Ses was gelykop.

Du Toit is Eben Etzebeth se slotmaat by die Stormers, maar hy is die seisoen verskeie kere op seweflank gekies. Hy kon ook nie met sy vuurwarm-spelpeil waarmee hy die jaar begin het, volhard nie.

Mostert kan een van verskeie veranderinge voorlangs aan die beginspan wees sedert verlede jaar se verloortoets in Cardiff.

Dis egter agterlangs waar grootskaalse skuiwe verwag word nadat Smith en Brendan Venter as onderskeidelik die Bokke se agterlyn- en verdedigingsafrigters aangestel is.

Die vernaamste veranderings is moontlik:

  • Met Courtnall Skosan, Dillyn Leyds en Coetzee as die agterste driehoek sal dit ’n splinternuwe drietal sonder enige toetservaring agter wees.
Franco Mostert

Hul keuses sal ’n aanduiding wees dat die Bokke die bal meer dikwels wil dra en die gapings sal wil aanval.

Raymond Rhule is ook ’n opsie op nr. 11, maar hy was in die Cheetahs se laaste paar wedstryde nie op sy stukke nie.

  • Steyn kan aanvanklik as ’n plaasvervanger gekies word omdat hy hom so laat by die Bok-groep aangesluit het.

Sy kanonpoot kan ná rustyd as afwisseling op losskakel gebruik word om die besoekers in hul kwartgebied vas te pen.

  • ’n Regrukplan vir die Bokke se swak skopwerk in 2016 kan Cronjé, Jantjies, Coetzee en Steyn insluit.

Francois Hougaard het die seisoen puik spel vir Worcester Warriors gelewer, maar oefen eers van môre af saam met die Bokke, wat Cronjé die gunsteling maak om die nr. 9-trui te dra.

  • Smith kan Jan Serfontein die mandaat gee om sy flair op binnesenter te wys in die hoop dat dit die beste uit Jesse Kriel as buitesenter op toetsvlak na vore bring.
  • Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se teiken van 40% spelers van kleur in 2017 kan ’n groot sê in die spankeuses hê. Die teiken verhoog volgende jaar tot 45% en in 2019 tot 50%.
Oupa Mohoje

Dit beteken dat tussen nege en tien spelers van kleur in die Bokke se toets-23-tal sal moet wees.

  • Danksy beter beplanning deur Coetzee-hulle en versterkings in Suid-Afrika se bestuurspan, is die Bokke in ’n beter posisie vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar om sukses te behaal.

Vier oefenkampe – in Johannesburg (twee), Stellenbosch en Plettenbergbaai – is voor die reeks teen die Hane gehou. Daarteenoor het geen oefenkampe voor 2016 se drie tuistoetse teen Ierland plaasgevind nie.

Die Hane het vanjaar vyf gespeel en derde geëindig – hul beste vertoning sedert 2011.

Gemeet aan hul posisies op die wêreldranglys, moet Frankryk, wat die sesde plek beklee, as die gunsteling beskou word in die reeks teen die Bokke. Vir die Bokke en Coetzee-hulle is daar dus alles om voor te speel.

Meer oor:  Frans Steyn  |  Franco Mostert  |  Franco Smith  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.