Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings betree vrywillige likwidasie

Die Southern Kings is in vrywillige likwidasie geplaas in ’n poging om die langtermyn finansiële toekoms van rugby in die Oostelike Provinsie te verseker.

Só het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) Saterdag in ’n verklaring gesê met die nasionale liggaam en die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) wat dié besluit geneem het te midde van ’n opgehoopte tekort van R55 miljoen en met geen vooruitsig van ’n inkomste in die res van 2020 nie.

André Rademan Foto: Gallo Images

“Die harde feit is dat die Kings insolvent is, met merkwaardige skuld en geen bates nie, en dit sou roekeloos gewees het om voort te gaan,” het André Rademan, president van die OPRU, gesê.

“Die voortsetting sou lenings van die OPRU vereis het, asook lenings wat bykomend tot die R45 miljoen is wat die maatskappy reeds aan SA Rugby skuld.

“Sonder rugby in 2020, en met geen waarborg van ’n vooruitsig van inkomste in 2021 nie, sou dit finansieel onverantwoordelik van die aandeelhouers gewees het om nog geld in te pomp.”

Luidens Mark Alexander, Saru-president, was dit nie ’n opsie om nog krediet aan ’n insolvente entiteit toe te ken op ’n tydstip waar daar van die rugby-bedryf verwag word om R1,2 miljard te spaar om kop bo water te hou nie.

“Die geskiedenis van die Kings was een van verwagting en afwagting, maar die meegaande verhaal van mislukking kon ongelukkig nie langer weggewens word nie,” het Alexander gesê.

“Die organisasie het in die afgelope paar jaar groot skuld opgehoop en in die huidige omgewing was die enigste sekerheid dat die skuld nog verder sou groei.”

“Die lede van SA Rugby het baie in die Kings-projek belê, maar dit is nou tyd vir ’n nuwe ondersoek na wat die geskikte en volhoubare weg vir rugby in die Oostelike Provinsie is.”

Die harde feit is dat die Kings insolvent is, met merkwaardige skuld en geen bates nie, en dit sou roekeloos gewees het om voort te gaan.
André Rademan

Saru het in Junie die eienaarskap van ’n aandeelhouding van 74% in die Kings hervat ná die mislukking van die vorige eienaars, die Greatest Rugby Company in the Whole Wide World (GRC), om kontraktuele verpligtinge ten opsigte van sy aankoop van die aandele na te kom.

Die GRC het sy aandeelhouding in Januarie 2019 bekom, maar kon nie die beloofde omkeerstrategie bring nie.

Die Kings se stryd om ’n volhoubare sakemodel te bou, het beteken dat Saru hom twee keer onder administrasie geplaas het.

“Dit is tyd dat die rugbygemeenskap van die Oostelike Provinsie konsolideer en bestek opneem,” het Rademan gesê.

“Ná ’n geskiedenis van finansiële probleme het ons daarin geslaag om ’n goeie grondslag by die OPRU te vestig, en ons kan van dié platform af rugby in die streek bou. Dit gee ons die geleentheid om weer te fokus op die skep van ’n sakemodel wat volhoubaar en reg is vir rugby in die Oostelike Provinsie.”

Volgens Rademan is dié besluit reeds aan spelers en personeel gekommunikeer.

“Dit is baie moeilike nuus om aan mense te gee en die raad sou dit nie so wou hê nie. Maar sport is ’n sakeonderneming en ons is in ongekende tye. Daar was geen ander opsie nie,” het hy bygevoeg – Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.