Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
SP wil dié keer duiksakke systap

Hy was ’n gewillige draer van die Westelike Provinsie se duiksakke voor verlede jaar se Curriebeker-eindstryd, maar SP Marais sê dit dien nou as aansporing om in vanjaar se reeks spesiale herinneringe te maak.

SP Marais druk ’n drie in die WP se sege van 57-28 oor die Pumas in Mbombela. Foto: Gallo Images

“Uiteraard is dit vir my ’n groot motivering,” sê hy.

“Ek het nie in die eindstryd gespeel nie, maar was daar om sakke vas te hou en die taak te verrig wat van die veld af vir my gegee is. My werk was om die ander ouens selfvertroue te gee. Ek glo ek het my deel gedoen om die beker terug te bring Kaap toe.”

Die WP se agterste driehoek in verlede jaar se CB-eindstryd was Damian Willemse, Seabelo Senatla en Dillyn Leyds. Werner Kok was die buite-agterspeler op die plaasvervangersbank.

Nóg Senatla, nóg Kok is vanjaar beskikbaar, terwyl Willemse by die Springbokke betrokke is. Daarom is dit nou Leyds, Marais en Sergeal Petersen se taak om hulself te laat geld.

“Ek en Sergeal het in 2015 saam vir die Southern Kings gespeel, so dis maklik vir my om hom hier tuis te laat voel. Hy’s ook ’n proaktiewe ou wat dit geniet om deel van die groep te wees. Sergeal geniet sy rugby en dis juis die soort speler wat ons soek,” sê Marais.

Petersen en Marais was albei uitblinkers in die WP se laaste wedstryd – die sege van 57-28 oor die Pumas in Mbombela. Dit het gevolg op ’n oorwinning van 32-0 oor die Vrystaat-Cheetahs op Nuweland.

Die moeilike deel van die Streeptruie se veldtog begin egter nou. Hulle speel Saterdag teen die Leeus op Ellispark, terwyl daar ook nog ’n wegwedstryd teen die Blou Bulle op hul horison is.

Ek sal selfs met die rug teen die muur iets skeppends probeer doen. Ek sal eerder tot in my graf baklei as om weg te stap.

Marais het kennis geneem van die onoorwonne Leeus se uitstekende spelpeil.

“Dis ’n jong span wat vreesloos en avontuurlustig is. Dinge werk uit vir hulle. Hulle is ook op ’n goeie plek ná drie Superrugby-eindstryde. Die jong manne wil nou vir die afrigters wys dat hulle op Superrugby-vlak hoort. Dis ’n ander soort uitdaging as wat ons tot nou toe gehad het, maar een waarna ons uitsien,” sê hy.

Die minste punte wat die Leeus sover in vanjaar se CB-reeks in ’n wedstryd aangeteken het, was 38 in ’n sege oor die Bulle op Loftus.

Moet egter nie verwag dat die WP verdediging gaan oorbeklemtoon nie. ’n Element van risiko in hul spel pas Marais ook soos ’n handskoen.

“Ek sal selfs met die rug teen die muur iets skeppends probeer doen. Ek sal eerder tot in my graf baklei as om weg te stap. Dit het seker iets met my koppige persoonlikheid te doen!”

Marais sê die WP se agterlynafrigter, Dawie Snyman, verdien ook krediet vir die span se ondernemingsgees.

“Ons word bemagtig om situasies op die veld self op te som en daarvolgens te speel, eerder as om die heeltyd erg gestruktureerd te wees. Daar is planne, maar daar is ook vertroue in ons om besluite op die veld te neem.”

Curriebeker: Bepalings

Curriebeker: Puntelys

Curriebeker: Uitslae

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Sp Marais  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.