Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Spankultuur’ Ixias se geheime wapen
Ricoman Titus duik oor vir een van sy twee drieë teen die Madibaz. Foto: Gallo Images

’n Kultuur wat behels dat die spelers van die Ixias vir mekaar speel, was een van die beslissende faktore in die Bloemfonteiners se sege oor die Shimlas in die Varsitybekerreeks.

So sê Pieter Bergh, afrigter van die Ixias, nadat sy span Sondag daarin geslaag het om hul buurman met 31-24 in Pretoria te klop.

Dit is vir hom ’n riem onder die hart dat hulle ’n derde agtereenvolgende jaar die Bloem-derby kon wen – dit wys dat hulle ’n wenresep het.

“Jy kon duidelik sien dat die Shimlas baie goed voorbereid was, wat wys hoe belangrik die wedstryd vir hulle was. Toe die spelers van die Shimlas ná die tyd van die veld stap, kon jy die teleurstelling op hul gesig sien,” sê Bergh.

Ná die wedstryd het die spelers so bekaf gelyk. Ek het vir hulle gesê hulle moet lag, ons het gewen. Hulle antwoord was: ‘Maar coach, ons het nie goed gespeel nie.

“Ek dink die rede hoekom ons gewen is, is weens die kultuur wat ons hier by die SUT (Sentrale Universiteit vir Tegnologie) het. Dit is nie iets van nou nie, maar kom al ’n rukkie aan.

“Ons het beslis nie goed gespeel nie, maar toe dit saakmaak, toe die Shimlas alles probeer het om te wen, het die kultuur om vir mekaar te speel en nie moed op te gee nie, ingeskop.”

Die Ixias se vleuel Ricoman Titus word Sondag deur syspanmaats, Matthew Sekele en Francois Bester, na ’n sitplek langs die veld gedra nadat hy beseer is. Sekele en Bester was nie deel van die Bloemfonteiners se 23-tal vir die wedstryd nie. Foto: Varsity Cup

Watter hoë standaarde die Ixias aan hulself stel, word duidelik geïllustreer wanneer Bergh sê dat daar ná die wedstryde nie sprake van uitbundigheid onder die spelers was nie.

“Ná die wedstryd het die spelers so bekaf gelyk. Ek het vir hulle gesê hulle moet lag, ons het gewen. Hulle antwoord was: ‘Maar coach, ons het nie goed gespeel nie.’”

Die volgende paar weke gaan om verskeie redes ’n karaktertoets vir die onoorwonne Ixias, wat hulle boaan die punteleer bevind, wees. In die tweede bioborrel wag die hardebaarde Wits, Ikeys en die Maties.

Dié spanne sou kennis geneem het van die tipe rugby wat die Bloemfonteiners speel en sal in die volgende paar dae noukeurig beeldmateriaal van die Ixias se wedstryde ontleed.

’n Ander aspek wat Bergh-hulle gaan beproef is die besoek van die beseringspook. Daar is heelparty spelers wat met ligte skete sukkel, maar daar is minstens vier spelers wat dalk die volgende bioborrel kan misloop.

Janu Botha (stut) en Brendon Fortuin (slot) het albei las van ribbeserings, terwyl die senter Niell Stannard met ’n liesbesering sukkel. Dan het die vleuel Ricoman Titus ’n enkelbesering teen die Shimlas opgedoen.

Tebogo Masemola of Raynard Esterhuizen kan Botha se plek inneem, terwyl Matthew Sekele in Fortuin se plek kan speel.

Indien Stannard nie betyds herstel nie, sal Jandré de Beer dalk die oud-Blitsbok Heino Bezuidenhout se sentermaat wees. Titus se besering kan beteken dat Christiaan Nel die nr. 14-trui dra.

Meer oor:  Shimlas  |  Varsitybeker  |  Ixias  |  Varisitybeker-Reeks  |  Pieter Bergh  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.