Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Spanman’ Elton Jantjies nr. 1 op nr. 10

Terwyl dit dalk onder ondersteuners ’n gesprekspunt kan wees oor wie ’n beseerde Handré Pollard in die Springbok-span op losskakel moet vervang, het Elton Jantjies niks om hom oor te bekommer as Suid-Afrika in die Rugbykampioenskap sou speel nie.

Elton Jantjies in aksie teen Kanada by verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

“Ek hoef nie eens te sê hoe groot ’n slag dit is nie,” het Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, vandeesweek gesê oor die verlies van Pollard weens ’n ernstige kniebesering.

“Aan die ander kant dink ek nie daar was ’n groter spanman en iemand wat die span gedien het – almal het – as Elton Jantjies nie. Hy het uitgestaan met die manier waarop hy ons gehelp het om die Wêreldbeker-toernooi te wen, al het hy net twee wedstryde gespeel.

“Toe ons besluit het om ses voorspelers en twee agterspelers op die plaasvervangersbank te kies, was hy ongelooflik (ondersteunend).”

Elton Jantjies saam met Rassie Erasmus op die Springbokke se trofeetoer ná hul triomfantelike Wêreldbeker-veldtog. Foto: Gallo Images

Jantjies was die Bokke se generaal in hul seges van 57-3 en 66-7 oor onderskeidelik Namibië en Kanada by die WB-toernooi.

Toe Suid-Afrika slegs twee agterspelers op die plaasvervangersbank gekies het, het Frans Steyn se veelsydigheid die swaarste geweeg toe spanne gekies is.

Jantjies (30) is egter bekend as ’n denker oor die spel en sou aangehou het om insette te lewer.

“Ek het baie geloof in Elton. Wanneer hy binne ’n goeie struktuur speel, met ’n sterk pak voorspelers, is hy ongelooflik. Daar was tye voor die WB-toernooi waar hy Handré hard gedruk het om die eerste keuse te wees,” sê Erasmus.

“Dan het ons vir Damian Willemse wat by die WB-toernooi was. Hy kan losskakel en heelagter speel. As Frans Steyn dan nog beskikbaar en fiks is, kan hy as binnesenter speel of losskakel en binnesenter van die plaasvervangersbank af dek. Curwin (Bosch) kan ook in die wedloop wees as hy gereeld kan speel.”

Maar onder al daardie name is dit steeds Jantjies wat uitstaan.

Elton Jantjies spog met die Webb Ellis-beker. Foto: Gallo Images

“Elton sal na my mening die onmiddellike eerste keuse wees, gebaseer op potensiaal en wat hy vroeër al vermag het. Maar daar’s ouens wat hom hard gaan druk.”

Erasmus sê hy is bly dat Suid-Afrika tot vroeg volgende jaar ’n volgepakte rugbykalender gaan hê. Die vier Superrugby-spanne het die afgelope naweek reeds “Superfan”-wedstryde op Loftus gespeel en die Bok-proewe tussen Groen en Goud vind eerskomende Saterdag op Nuweland plaas.

Op 9 Oktober begin die plaaslike Superrugby-toernooi met die Cheetahs, Griekwas en die Pumas wat daarvoor by die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers aansluit. Hulle speel oor ’n enkelronde met die span boaan die puntelys wat dan as die “Superrugby Unlocked”-kampioen gekroon word. Die ligapunte in dié kompetisie word na die Curriebeker-reeks toe oorgedra.

“Ek hou daarvan as daar ’n lang kompetisie is soos ons nou gaan hê, waar afrigters, kondisioneringsafrigters en die spelers getoets word,” sê Erasmus.

“Jy moet teen Griekwas in Kimberley speel en dan Nelspruit toe gaan. Dis waar spelers taai moet wees en jy kan sien of hulle dit kan doen of nie. Soms kan jy in ’n kort CB-reeks van vyf weke nie juis baie oor hulle leer nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.