Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Glimlagte as Nienaber toppos kry

Pieter-Steph du Toit, die yster onder die Springbokke se ysters in vanjaar se Wêreldbeker-toernooi, het Maandag by die span se oorwinningsparade in Kaapstad ’n interessante blik op die span se psige gebied deur sy voorliefde vir verdediging te beklemtoon.

Tot só ’n mate, sê hy, dat dit eintlik lekker is wanneer Engeland in die Bokke se kwartgebied kom sodat die span sy lyn kan verdedig.

Pieter-Steph du Toit het oudergewoonte verdedig dat dit klap in die Wêreldbeker-toernooi. Hier is die Wallieser Dan Biggar aan die ontvangkant van ’n tandeklapper. Foto: Gallo Images

Afrigters sê dikwels dis op verdediging waar jy kan sien hoeveel spelers vir mekaar omgee. Daarmee in gedagte is dit duidelik dat daar ’n baie hegte band tussen die huidige groep Bokke is.

Verdediging gaan natuurlik nie nét daaroor om duikslae uit te voer nie. Dit gaan ook oor omkeerbesit afdwing en daardeur geleenthede op die aanval te skep. Gaan kyk gerus hoeveel drieë van omkeerbesit aangeteken word.

Du Toit se uitlatings dui daarop dat die Bokke se verdedigingsafrigter, Jacques Nienaber, ’n gewilde keuse onder spelers sal wees om vir Rassie Erasmus as hoofafrigter op te volg.

Erasmus se aandag verskuif nou na die groter prentjie van Suid-Afrikaanse rugby, maar hy sal steeds ’n wakende oog oor die Bok-span hou.

Hierdie skuif dui daarop dat die strukture in Suid-Afrikaanse rugby aansienlik gaan verander. Die Bok-afrigter gaan nie soos in die verlede die oppergesag wees nie. Erasmus se klem is duidelik daarop om strukture te skep wat vir blywende sukses in Suid-Afrikaanse rugby kan sorg eerder as om ná elke WB-toernooi van voor te begin. In daardie opsig sal kontinuïteit baie help.

Natuurlik hoor ek ook die lied van die voormalige Bok-slot Schalk Burger in terme van ’n proses volg om elke afrigter in Suid-Afrika die geleentheid te bied om vir die pos aansoek te doen. Dis inderdaad ’n frustrasie vir diegene wat hom of haar nie in die binnekring bevind nie. Plaaslik sien ek egter nie veel kandidate nie en daar is ook nie druk om ter wille van transformasie ’n swart of bruin afrigter aan te stel nie.

Daar is wel vrae oor Nienaber, veral omdat hy nog nie vantevore die tradisionele rol van ’n hoofafrigter vervul het nie. Dis ’n groter pos as om bloot die spelers af te rig. Bygesê lewer Nienaber reeds ’n enorme bydrae met die afrigting – agter die skerms, op die oefenveld én langs die speelveld.

Indien Erasmus die ongewone skuif doen om vir Nienaber die hoofafrigter te maak, is dit belangrik dat hy uit sy eie mond kommentaar lewer oor wat dit gaan behels. Ons moet dit op ’n nuuskonferensie uit die perd se bek hoor en nie in ’n terloopse opmerking in ’n vriendelike onderhoud op SuperSport waar daar nie ’n kritiese vraag gestel gaan word nie. Kommunikasie het wel onder Erasmus se sterkpunte getel in sy twee seisoene as Bok-afrigter en dis belangrik dat dit die geval bly vir hierdie belangrike oorgang.

Vir eers sal ek egter wil sien dat Erasmus en elke Bok wat WB-toernooi toe gegaan het ’n blaaskans gegun word. Hulle was nou al etlike maande in mekaar se geselskap – lank genoeg om op jou pelle te begin vloek al verdedig julle hoe lekker saam!

Meer oor:  Jacques Nienaber  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.