Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spelers se lone sal ‘mettertyd’ val

Terwyl die besnoeiing van salarisse nie onmiddellik rugbyspelers in die Westelike Provinsie se voorland gaan wees nie, sal die unies in die toekoms meer mag hê wanneer dit by onderhandelinge kom.

En dít, meen John Dobson, die Stormers se afrigter, kan vanself vir kleiner salarisse sorg, al sal dit nie op provinsiale vlak oornag ’n werklikheid word nie.

John Dobson, die Stormers en Westelike Provinsie se afrigter. Foto: Gallo Images

“Ek wil nie soos ’n aasvoël klink nie, maar ek dink spelers gaan minder opsies oorsee hê en dít sal die plaaslike mark help om te korrigeer,” sê hy.

“Ek dink ook spelers gaan terugkeer na Suid-Afrika, want die samelewing gaan voortaan anders lyk. Daar gaan ’n groter aanbod van spelers in die plaaslike mark wees, wat ’n impak op die pryse sal hê.”

Gegewe die onsekerheid oor wanneer daar weer rugby gespeel gaan word, het die WP Rugbyunie eers sy kontraktering van spelers gestaak. Om spelers van buite te kontrakteer wanneer daar wêreldwyd onsekerheid is oor wanneer daar weer gespeel gaan word, kan op verkwisting neerkom.

Die fokus is op die behoud van talent – soos die WP onlangs gewys het deur die Springbok-skrumskakel Herschel Jantjies tot aan die einde van 2022 vas te teken.

Intussen vrees niemand by die Kaapse unie vir hul toekoms nie, sê Dobson.

Raymond van Niekerk, wat op die WPRU se bestuurkomitee is tot en met hulle ’n uitvoerende hoof aanstel, het reeds gesê dat daar ongelooflik hard gewerk word om te sorg dat daar nie ’n swaard oor personeel se kop hang nie.

“Wat die WP en Stormers betref, het ons leiers ongelooflik goed gedoen. Die ouens voel veilig en daar’s geen kwessies wat werksekerheid betref nie. As jy met ons spelers praat, sal hulle vir jou sê dat hulle nie bekommerd is nie,” sê Dobson.

“As hierdie ding baie lank duur, dink ek wel ons sal wêreldwyd ’n aanpassing sien.”

Inderwaarheid is daardie aanpassing al op baie plekke gemaak. Die Internasionale Rugbyspelersvereniging (RPA) het Woensdag selfs ’n nuusverklaring uitgereik waarin hy sy steun aan salarisverminderings in Engeland gee.

“Gegewe die vryval wat die spel en die wêreld in die gesig staar, is die aanvaarding van ’n salarisvermindering en ondersteuning van klubs ongetwyfeld ’n positiewe stap in terme van die langtermynoorlewing van ons bedryf,” sê die RPA in sy verklaring.

“Die spelers het uit die staanspoor die finansiële krisis wat wêreldwyd deur Covid-19 geskep is, raakgesien. Die alternatief is dat van die klubs bankrotskap in die gesig staar en daar honderde poste in die gedrang kom. Dít sal rampspoedig wees.”

Elders in die rugbywêreld is daar ook aan salarisse gesny.

Op nasionale vlak in Suid-Afrika word daar deur al die belanghebbendes in die bedryf van die spel gepraat. Baie van die Superrugby-spelers word ook as spelers van nasionale belang gereken, wat beteken dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n deel van hul salarisse betaal.

’n Werksgroep wat Saru, die Suid-Afrikaanse Werkgewersorganisasie, MyPlayers (verteenwoordiger van beroepspelers) en Sport Employees Unite (werknemers se vakbond) werk saam aan ’n aksieplan teen die gevaar wat Covid-19 inhou.

“Ons is konstant in gesprekke en het werkkomitees geskep om die finansiële impak op die rugbybedryf te bepaal. Hierdie is ’n unieke situasie wat ’n unieke oplossing verg. Ons kyk na verskillende scenario’s en hoe ons die impak op die sport en ons mense kan minimaliseer,” word in ’n gesamentlike nuusverklaring gesê.

Die uitvoerende hoofde van al die unies en Jurie Roux, die uitvoerende hoof van SA Rugby, sal Vrydag ’n telekonferensie hou om te praat oor die finansiële pad vorentoe.

Alfons Meyer, die uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het aan Cobus Claassen gesê niemand is seker wat om uit ’n finansiële oogpunt te verwag nie.

“Daarom is dit belangrik dat die (rugby)bedryf ’n kollektiewe besluit oor die toekoms neem. Dit moet deur die bank toegepas word, sou die besnoeiing van salarisse later nodig wees,” sê Meyer.

“Ek dink dit is beter om soos Nieu-Seeland proaktief te wees, want ons weet nie wat ons vorentoe gaan moet doen om te verseker dat die bedryf oorleef nie.

“Hoe volhoubaar is die situasie as daar geen inkomste is nie?

“Jy moet ’n produk kan lewer, soos daar in kontrakte met borge en vennote ooreengekom is. Indien nie, gaan dit jou iewers inhaal.”

* Die Leeus se grootbaas, Rudolf Straeuli, het aan Christo Buchner gesê op Ellispark gaan hulle “aan soos gewoonweg wat spelers se salarisse betref”.

“Ek glo jy moet geleenthede aangryp in sulke uitdagende situasies soos hierdie,” het hy gesê.

“Jy moet innoverend kan dink hoe om hierdie probleme die hoof te bied en dit is wat ons almal moet doen wat by die spel betrokke is,” sê Straeuli.

Meer oor:  Finansiële Krisis  |  Koronavirus  |  Westelike Provinsie  |  Salarisse  |  John Dobson  |  Stormers  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.