Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spelers soek waarborg oor Dobson

Die Westelike Provinsie sal eers aan van sy topspelers duidelikheid oor die toekoms van die Stormers-afrigter, John Dobson, moet gee voordat die Kaapse franchise in ’n posisie sal wees om aankondigings oor die verlenging van verskeie Springbokke se kontrakte te maak.

John Dobson Foto: Gallo Images

Van die topspelers wil selfs ook weens al die omstrede sake-ooreenkomste waarin hul unie betrokke was, bankwaarborge van die WP hê dat hul spelers se salarisse beslis op lang termyn betaal sal word.

Seil die WP se rugbybase oor van die belangrike hekkies, soos onder meer die bogenoemde twee, kan die Kapenaars volgende week in ’n posisie wees om verskeie aankondigings te maak van Bokke wat aanbly.

Hulle wou reeds Vrydag aankondigings oor van hul Bokke se verlengings maak in die hoop dat die res dan sal teken, maar duidelikheid word eers oor WP se planne met Dobson verlang.

Dobson, wat tot 2022 deur die WP gekontrakteer is, se toekoms is weens die onstabiliteit in sy unie belangrik vir van die spelers, veral omdat hulle onseker is wie hul uitvoerende hoof sal wees en daar is toenemende druk op Zelt Marais as president.

Al het die WP-span nog nie die hoogtes bereik wat Dobson self onder hom as die hoofafrigter wou hê nie, sal duidelikheid oor sy toekoms ten minste ’n stabiliserende invloed op die spelers hê wat dit sterk oorweeg om in die Kaap aan te bly.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP se sakevleuel, het by navraag oor Dobson se toekoms gesê hul “Visie ’23” is gegrond op kontinuïteit van sowel speel- as afrigtingspersoneel met belangrike aanpassings om prestasie te verbeter.

“Dit veronderstel dat ons die volgende drie tot vier jaar gaan bou aan ’n kampioenskap-span met die spelers en afrigters wat ons het,” het Rasool gesê.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die sakevleuel van WP Rugby. Foto: Gallo Images

“Alhoewel ons rede het om optimisties te wees oor ons vooruitsigte, sal ons nie aankondigings doen wat nie deur ondertekende kontrakte ondersteun word nie.”

Dobson se agent, Hilton Houghton, het gister gesê hy het nog nie ’n aanbod van die WP ontvang om sy kliënt se kontrak moontlik tot die 2023- en 2024-seisoen te verleng nie. Gesprekke het wel al plaasgevind.

Verskaf die WP wel vroeg volgende week ’n sinvolle verduideliking oor wat die toekoms vir Dobson en hul geldsake inhou, is Rapport se inligting dat die lys van spelers wat verhuis uit die Kaap nie veel langer as Jaco Coetzee, Siya Kolisi en JD Schickerling sal word nie. Daar is selfs hoop dat die WP ’n stewige aanbod van die Northampton Saints vir Juarno Augustus kan afweer.

Die Kapenaars het selfs opnuut hoop dat Juarno Augustus tog behoue bly. Die Engelse klubspan Northampton Saints wil hom kontrakteer.

Onder al die name van topspelers wat weekliks in koerante, webtuistes of op sosiale media oor bespiegel word wat die Kaap kan verlaat, bestaan daar nog net werklik twyfel oor wat Damian Willemse en Pieter-Steph du Toit gaan besluit, sou die WP natuurlik sinvolle antwoorde oor Dobson en hul geldsake gee.

Willemse en Du Toit is albei nog in gesprek met die WP.

Willemse moet egter die moeilike keuse maak of hy ‘n aanbod van die Bulle aanvaar en of hy in die Kaap aanbly.

Du Toit geniet onder meer uit Japan en Europa belangstelling.

Rasool het gesê hy is nie bewus van enige speler wat ’n bankwaarborg van WP verlang.

Nog ‘n ingeligte het gesê die WP se geldsake sal in orde wees om sy spelers te betaal.

“Die WP maak nie sulke buitensporige hoë aanbiedinge soos beweer word nie. Die WP sal sowat R7 miljoen minder as die salariskerf van R60 miljoen spandeer,” het die ingeligte gesê.

Meer oor:  John Dobson  |  Ebrahim Rasool  |  Wp  |  Kontrakte  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.