Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spiekeries se ‘Visasie’ kom van stofdorp
En daar trek hy . . . Piet Visagie.

Vir die ikoniese rugby-uitsaaier Gerhard Viviers was hy Visasie en nie Visagie nie. As Spiekeries, soos Viviers onder sy volgelinge van radio-uitsaai bekend was, van Piet Visagie gepraat het, het hy die “g” in Visagie ’n “s” gemaak.

Maar aan die Springbok-losskakel met die hande en voete van ’n ware voetballer het dit g’n verskil gemaak nie.

Wanneer “Visasie” die lyn gebreek het, het Spiekeries byna net so opgewonde uitgesaai soos toe “Siddie, Siddie, Siddie” Nomis in 1970 teen die All Blacks gaan druk het. Want, soos daardie ghoeroe van SA rugby, wyle Dok Craven, eens opgemerk het, “Piet (Visagie) was nie ’n speler wat gereeld die lyn gebreek het nie, maar wanneer hy wel gebreek het, het dit gewoonlik op ’n drie uitgeloop”.

Hoewel ’n boorling van Kimberley, en een van Griekwas se groot helde in hul Curriebeker-triomf van 1970, bevind Piet Visagie (77) hom deesdae op Potchefstroom, waar hy en sy vrou,  Carol, met wie hy reeds meer as 50 jaar getroud is, by hul seun, Jacques-Pieter (42), ’n verteenwoordiger, bly. Die Visagies het ook twee ouer dogters, wat albei oorsee woon.“Caron (51) werk vir ’n tandheelkundepraktyk in Tauranga, Bay of Plenty, en dit nogal vir ’n Suid-Afrikaanse tandarts,” vertel Carol. “Peta-Maria (48) woon in Royal Tunbridge Wells, Kent, 30 myl suidoos van Londen.” 

Demensie is onlangs by  Visagie gediagnoseer, maar hy het nog ’n skerp sin vir humor en goeie herinneringe van sy speeldae.“

Die ou bene en rug is nie meer so lekker nie, maar dis maar ’n kombinasie van die ouderdom en blywende rugby-kwale,” sê hy.

Piet Visagie (regs) saam met sy Springbok-boetie, Gawie, in 2014. Gawie is ’n paar maande nadat hierdie foto geneem is oorlede, ná ’n lang stryd teen kanker. Foto: Albert Heenop

Visagie het skoolgegaan op  Reivilo, ’n klein plaasdorpie 200 km noordwes van Kimberley. “Daar was basies net ’n kerk, skool, poskantoor, polisiestasie en veemark,” onthou hy.

“My pa was elektrisiën op die dorp, maar dit was meer plaaslewe as dorpslewe. Dit was ’n kleinerige skool, maar lekker; ek het ’n bietjie rugby daar gespeel, maar niks besonders nie.”

Visagie se rugbyloopbaan het daadwerklik begin koers kry toe hy na skool op die Beeshoek-myn naby Postmasburg, een van die grootste ysterertsreserwes ter wêreld, begin werk en by die Ammosal-rugbyklub met ene Jumbo Harris te doen gekry het.

Harris, ’n mynbestuurder, was nie net voorsitter van die Ammosal-klub en Griekwas-keurder nie, maar ook Carol se pa.

“Jumbo was rugbymal,” gee Visagie te kenne.

“Hy het ’n reuse-aandeel daarin gehad dat Ammosal so ’n sterk klub geword en so goed presteer het. En, hy het ’n groot invloed op my loopbaan gehad.”

So ’n groot invloed dat Visagie uiteindelik, op 15 Julie 1967, sy buiging vir Suid-Afrika gemaak het in die oortuigende sege van 26-3 oor Frankryk op Kingspark in Durban.

’n Paar weke later het Visagie ook ’n sleutelrol gespeel in Griekwas se oorwinning van 20-14 oor die einste Hane in Kimberley – toe reeds ’n aanduiding daarvan dat die Poubloues op pad was na groot dinge.

Piet en Carol.

In 1968 was Visagie ’n sleutelspeler in die Bokke se reeksoorwinning van 3-0 oor die Britse en Ierse Leeus, en die daaropvolgende seisoen het hy ’n wêreldrekord 41 punte aangeteken in die tuisreeks van vier toetse teen die Wallabies. Die hoogtepunt van sy toetsloopbaan was ongetwyfeld egter toe hy gehelp het om die magtige All Blacks met die kous oor die kop terug Kiwi-land toe te stuur in 1970.

Visagie het in die dramatiese eerste toets op Loftus Versfeld, wat Suid-Afrika met 17-6 gewen het, ’n flink skepdoel deur die pale geklits, en in die vierde en beslissende toets op Ellispark die eerste spyker in Nieu-Seeland se kis geslaan, toe hy gaan druk het ná ’n vlymskerp breekslag. “Ek dink ek het maar oor my voete geval,” skerts Visagie as hy gepols word oor daardie drie.

Die Springbokke het uiteindelik met 20-17 gewen om die reeks met 3-1 te beklink, en skaars twee weke later het Griekwas vir Noord-Transvaal met 11-9 geskok in die Curriebeker-eindstryd van 1970. Visagie was ’n doring in die opposisie se vlees met sy uitgeslape spel op losskakel, en het een van Buddy Swartz se twee drieë in die eerste helfte verdoel. Die laaste strafdoel, in die doodsnikke en van binne Griekwas se halfgebied is egter deur losvoorspeler Peet Smith waargeneem.

“Dit was ’n bietjie verder as wat ek normaalweg geskop het,” merk Visagie droogweg op.“Ek was te klein, te kort, vir sulke lang skoppe.”

Visage het op 28 die laaste keer in die Groen-en-goud uitgedraf. “Ek het ná ons terugkeer uit Australië my been sleg gebreek in ’n plaaslike wedstryd, en toe móés ek ophou; ná die operasie was die been vol skroewe . . . "

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.