Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Spoeg en plak in ’n rugby-wonderwêreld

John van Rensburg “spoeg en plak” nou maar.

John van Rensburg by Fien Oliver (links) en Joost van der Westhuizen (regs) se Springboktruie. Foto: Verskaf

Dié gesoute rugbykommentator sê die eerste twee Saterdae wat hy weens die inperking by die huis rondgesit het, het dit nog soos ’n “lang naweek” gevoel.

“Maar ná 29 jaar, wanneer jy byna elke Saterdag by rugbyuitsendings betrokke is, mis jy gou die adrenalien,” sê Van Rensburg.

“’n Mens kyk nou maar na die heruitsendings, maar jy mis die atmosfeer by die wedstryde. Die samesyn en die geselsery vooraf: Daardie vraag van wat gaan vanmiddag gebeur?”

Van Rensburg bevind hom egter steeds in ’n rugby-wonderwêreld. Sy huis in Die Wilgers in Pretoria is letterlik ’n rugby-museum, met meer as ’n duisend truie en ander aandenkings.

“Ek het my versameling begin deur plakboeke te maak van elke jaar se Springbok-rugby,” sê hy.

“Dis waarmee ek nou ook weer besig is. Ek het ’n bietjie agter geraak en is besig om weer te spoeg en te plak aan ’n plakboek oor verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi.”

Ek het ’n bietjie agter geraak en is besig om weer te spoeg en te plak aan ’n plakboek oor verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi.
John van Rensburg

As kind het Van Rensburg ook vir Springbokke briewe geskryf en vir hul handtekeninge gevra.

“Ek het altyd ’n seël saamgestuur sodat hulle sou kon terugskryf,” verklap hy sy geheim oor die baie handtekeninge wat hy het.

Sy groot held was Mannetjies Roux. Eendag het hy die moed bymekaargeskraap om Roux vir ’n aandenking te vra, toe stuur die Bok-senter vir hom ’n paar Springbok-kouse.

In 1971 het hy bandopnames van die radio-uitsendings van die Bokke se toetse teen die Wallabies in Australië gemaak. Hy skryf toe vir die losskakel Piet Visagie dat hy die opnames met hom sal ruil vir ’n Springboktrui.

Ek sal nooit die koue rillings vergeet wat ek gekry het toe die trui opgedaag het en ek daarna sit en kyk het in my kamer nie.
John van Rensburg

“Toe ruil hy my sowaar! Ek het op Petrus Steyn (Vrystaatse dorpie) grootgeword en het elke dag poskantoor toe gehardloop om te kyk of die trui al aangekom het. Ek sal nooit die koue rillings vergeet wat ek gekry het toe die trui opgedaag het en ek daarna sit en kyk het in my kamer nie,” onthou Van Rensburg.

Só het sy versameling mettertyd gegroei. Hy het as volwassene oor die radio oor rugbywedstryde begin kommentaar doen.

“Toe, in 1990, het ek ’n oproep van Gert Roets ontvang. Hy was destyds van TopSport. Hy sê hy is in die moeilikheid en omdat ek daardie tyd in die regte was, het ek gevra waarmee kan ek help? Wou hy skei, of wat?” sê Van Rensburg.

Nee, Roets het ’n kommentator gekort om die volgende dag vir hom ’n wedstryd oor televisie uit te saai.

“Dit was die eindstryd om die Direkteurstrofee tussen die Hoërskool Randburg en die Hoërskool Lichtenburg in die RAU-stadion,” sê Van Rensburg.

Roets het sy arm gedraai en die volgende dag saai Van Rensburg toe die wedstryd uit en hy vaar heel goed. So goed dat hy gevra word om die volgende Saterdag die Lionbeker-eindstryd tussen Noord-Transvaal en Natal in Pretoria uit te saai.

Die bal waarmee die Springbokke in 1949 in Port Elizabeth teen die All Blacks gespeel het. Daarmee saam is foto’s en die program van die kragmeting geraam. Spelers van albei spanne het hul handtekeninge op die bal gemaak. Foto: Verskaf

Vandag kan Van Rensburg terugkyk op 143 Springbok-toetse en “baie, baie” ander wedstryde wat hy al uitgesaai het.

Daar was al hoogtepunte soos die Wêreldbeker-eindstryd in 2007 tussen die Bokke en Engeland in Frankryk.

En die eerste toets wat nog in Soweto gespeel is, tussen die Bokke en die All Blacks.

“Dit was John Smit se 100ste wedstryd. Ongelukkig het ons verloor. Ek was ingeskryf vir die Comrades-marathon die Sondag en my seun het my van die FNB-stadion deurgevat Pietermaritzburg toe,” sê Van Rensburg. “Ons het 03:00 daar aangekom. 06:00 het die skoot geklap en het ek weggespring vir die marathon en ek was voor 16:00 in Durban. Toe vat my seun Morné my weer huis toe. Ek dink ons was so 02:00 daar. Dit was nogal ’n besige 30 uur of wat gewees.”

Hierdie Transvaal-trui is in 1906 deur die legendariese Dougie Morkel, wat dieselfde jaar saam met Paul Roos se Springbokke na Brittanje en Frankryk getoer het, gedra. Foto: Verskaf

Daar is baie stories en baie wedstryde. Maar hy onthou steeds daardie heel eerste wedstryd wat hy vir televisie uitgesaai het: “Toe daardie 80 minute verby was, het ek 80 jaar oud gevoel!”

Danksy Van Rensburg se hoë profiel is sy versameling rugby-aandenkings steeds besig om te groei. Vandag het hy meer as ’n 1 000 truie van oor die wêreld, hangers vol dasse, getekende rugbyballe, programme, stewels, foto’s en ander aandenkings.

“My kosbaarste item is al my Springbok-truie. Die oudste een wat ek het, is Fien Olivier se 1921-trui,” sê hy.

Daar is ook truie van Joost van der Westhuizen, Sean Fitzpatrick, Serge Blanco, Jonah Lomu en Uli Schmidt – om maar net enkeles te noem.

“Mense is welkom om na my goed te kom kyk (wanneer die inperking verby is). Hulle hoef nie te betaal nie. Hulle moet net vooraf met my ’n tyd reël, want ek kan nie die hele dag net mense rondwys nie,” versoek Van Rensburg.

“As ek een outjie kan motiveer om eendag vir Suid-Afrika te speel, sal dit my gelukkig maak.”

Meer oor:  Pretoria  |  Rugby  |  Versameling  |  Tv  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.