Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbok-vleuel dop opkikkertoets

Die Springbok-vleuel Aphiwe Dyantyi is in die sop nadat hy positief getoets het vir die gebruik van ’n verbode middel.

Aphiwe Dyantyi.Foto: Gallo Images

Dyantyi, wat nie aan die Rugbykampioenskap deelgeneem het nie weens ’n dyspierbesering, het Saterdag in ’n verklaring gesê die Suid-Afrikaanse Instituut teen Verbode Middels in Sport (Saids) het hom ingelig dat ’n urinemonster wat hy op 2 Julie ingedien het, nie die gewenste uitslag gelewer het nie.

Dié toets is tydens ’n Springbok-oefenkamp gedoen.

“Ek wil ontken dat ek ooit enige verbode middel doelbewus of roekeloos gebruik het om my vertoning op die veld te verbeter,” het die Leeu-speler in ’n verklaring gesê.

“Ek glo in harde werk. Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nooit nie.”

Dyantyi het ’n versoek ingedien dat sy B-monster ook getoets moet word en wag nog op terugvoering oor die uitslag daarvan.

“Dat ’n verbode middel in my liggaam voorgekom het, het as ’n groot skok gekom vir my, my bestuurspan en die kenners wat hulle aangestel het. Ons doen al die moontlike om uit te vind waar dit vandaan kom om my onskuld te bewys,” sê Dyantyi.

Hy voeg by dat hy gereeld getoets word en dat dit niks vreemd is om monsters te moet indien nie. Met dié wete sal hy ook nie kanse waag nie.

“Ek is al voorheen getoets en ook sedert dié toets weer. Dis deel van die beroep en ons almal weet dat elke speler minstens twee tot vier keer per jaar getoets word.

“Om ’n verbode middel te gebruik sal nie net roekeloos wees en iets wat ek nooit doelbewus sal doen nie, maar dit sal ook sinloos en dom wees,” sê hy.

Volgens Dyantyi is hy twee weke voor die toets wat hy gedruip het, ook getoets en dié uitslag het geen probleme opgelewer nie.

“Ek wil voorlopig om verskoning vra vir al my spanmaats en die bestuur by die Leeus en Springbokke, my vriende en familie vir die negatiewe impak wat die nuus kan hê.

“Vir my het die spel die geleentheid gegee om nie net jong, hoopvolle rugbyspelers te inspireer nie, maar ook Suid-Afrikaners van alle uithoeke. Dit is iets wat ek nie as vanselfsprekend aanvaar en mee sal dobbel deur iets so dom soos dit te doen nie.”

Dyantyi se dyspierbesering sou hom waarskynlik uit die Springbokke se Wêreldbeker-groep hou wat Maandag aangekondig word, maar as sy B-monster ook positief toets, kan hy lank geskors word.

Meer oor:  Aphiwe Dyantyi  |  Leeus  |  Springbokke  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.