Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke bly deel van Sanzaar-vennootskap

Suid-Afrikaanse rugby sal vir die volgende dekade met sy een voet in die Noordelike Halfrond en die ander in die Suidelike Halfrond staan.

s
Die Springbokke vier verlede jaar hul verowering van die Rugbykampioenskapstitel. Suid-Afrika kan vanweë die Covid-19-pandemie nie vanjaar sy kroon verdedig nie, maar sal in 2021 weer teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië in aksie wees. Foto: Getty Images

Hoewel SA se vier Superrugby-franchises van volgende jaar af teen Europese spanne in ’n uitgebreide Pro16-reeks gaan speel, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) hom, luidens ’n verklaring van Sanzaar, vir die volgende 10 jaar tot die Rugbykampioenskap verbind.

Dit beteken dat die Springbokke jaarliks steeds met die All Blacks, Wallabies en Argentinië kragte sal meet in ’n reeks wat uit 12 toetse bestaan.

Sanzaar het egter ook in die verklaring bekend gemaak dat die formaat van die Rugbykampioenskap opgekikker sal word. Die vernaamste verandering sal wees dat al die spanne nie meer jaarliks tuis én weg teen mekaar sal speel nie.

Die Springbokke sal byvoorbeeld in 2021 na Nieu-Seeland toer vir twee toetse, met die Wallabies wat dan twee toetse in Suid-Afrika kom speel. In 2022 sal die All Blacks dan weer Suid-Afrika toe kom vir twee toetse en die Bokke na Australië reis vir twee kragmetings met die Wallabies.

Sodoende herleef mini-toere tussen dié lande weer en sal die belangstelling soveel groter wees as die All Blacks nou net elke twee jaar in SA in aksie is en omgekeerd.

Dié aankondiging het ook bespiegelinge in die kiem gesmoor dat die Springbokke in die nabye toekoms by die Sesnasies-reeks gaan aansluit.

Jurie Roux, uitvoerende hoof van Saru, het in ‘n verklaring gesê hoewel dié beheerliggaam sy plaaslike fokus moes wysig, het hy ’n lang geskiedenis met die All Blacks en Wallabies en ’n jare lange vriendskap met die Pumas.

“Sedert die eerste Drienasies-reeks in 1996 beslis is, en sedert 2012 die Castle Lager Rugbykampioenskap, het ’n span van die Suidelike Halfrond vyf van die ses Wêreldbeker-toernooie gewen – ’n bewys van die hoë gehalte van toetsrugby wat aan dié kant van die ewenaar gespeel word.

“Ons verwelkom die veranderinge aan die Rugbykampioenskap en is opgewonde om te sien wat Sanzaar se nuwe strategiese plan vir die kompetisie behels,” het Roux gesê

Andy Marinos, uitvoerende hoof van Sanzaar, sê die rugbybase van die Suidelike Halfrond besef dat verandering nodig is in dié moeilike tye (teweeg gebring deur die Covid-19-pandemie) en het hul verbind tot ’n (gesamentlike) rugbytoekoms tot en met 2030.

“Die vier unies se herverbintenis tot die langtermyn-toekoms van die internasionale spel, is ’n belangrike eerste tree op ons reis om ’n nuwe rigting in te slaan.

“Hierdie is die eerste van ‘n aantal aankondigings wat in die komende weke en maande gemaak sal word soos ons vir 2021 en daarna beplan,” het Marinos gesê.

Vir Roux-hulle sal die grootste uitdaging nou die herskikking van die plaaslike rugbykalender wees.

Die Rugbykampioenskap begin gewoonlik in Augustus en eindig in Oktober.

Dit was ook die tydperk waarin die Curriebeker-reeks gewoonlik plaasgevind het.

Die probleem is egter dat die Bulle, Leeus, Stormers en Haaie na verwagting volgende jaar tot ’n uitgebreide Pro-reeks gaan toetree. 

Dié kompetisie, waarin spanne van Ierland, Wallis, Skotland en Italië ook deelneem, skop tradisioneel in September af en strek tot einde Mei van die volgende jaar. 

Sou die Rugbykampioenskap in sy gebruiklike tydgleuf bly, beteken dit die SA spanne sal vir die eerste paar maande sonder hul Bokke oor die weg moet kom in die Pro-reeks.

’n Nuwe tydgleuf sal boonop vir die Curriebeker-reeks gevind moet word, sodat dit nie met die Pro-reeks oorvleuel nie.

Die Cheetahs, wat vanjaar nog in die Pro14-reeks gespeel het, moes in 2018 tegelykertyd aan die Curriebeker- én Pro14-reeks deelneem en kon daardie jaar nie ’n enkele CB-ligawedstryd wen nie.

Toe die Vrystaters in 2019 egter op volsterkte was, het hulle die Curriebeker-titel verower. 

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  All Blacks  |  Saru  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.