Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Springbokke het hul plafon bereik

Die Springbok-span van 2017 het sy plafon bereik.

’n Aantal groot besluite sal die volgende paar dae deur die Bok-afrigtingspan, -keurders en uitvoerende komitee (UK) van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) geneem moet word as hulle nie verder teen die All Blacks wil bloei nie.

Allister Coetzee, die Springbok-breier, Saterdag in Albany saam met van sy hulpafrigters Franco Smith (links) en Brendan Venter (agter). Foto: Getty Images

Die Bok-span wat Saterdag met 57-0 deur Nieu-Seeland in Albany afgeslag is, sal met niks beter as die nommertwee-posisie op die wêreldranglys tevrede moet wees, sou hy op dieselfde pad volhard.

Die huidige Suid-Afrikaanse span het vanjaar gewys dat hy nie hoër as saam met die Wallabies, Engeland en Ierland om die tweede plek op die wêreldranglys kan meeding nie. Hy het nie genoeg spelers met die X-faktor of genoegsame diepte om met die All Blacks om die titel as die wêreld se voorste span arm te druk nie.

Teen die ander lande kon die Bokke se afrigtingspan die krake toepleister en daarmee wegkom. Hul onoorwonne rekord in ses toetse is ’n bewys daarvan.

Teen die All Blacks is daar geen wegkruipplek nie. As elke speler in jou 23-tal nie van toetsgehalte is nie, sal die Kiwi’s jou uitvang soos die geval in Albany en in die 2016-seisoen was.

Die moeilikste besluite wat op die afrigtingspan en keurders voor 30 September se volgende Rugbykampioenskap-toets in Bloemfontein teen die Wallabies wag, is watter veranderinge aangebring moet word.

Daar moet veral oor die samestelling van die Bokke se agterste driehoek, skakelpaar en lostrio besin word.

Die dilemma waarmee die afrigtingspan sit, is dat daar nie veel keuses in Suid-Afrika is om die span mee te versterk nie.

Die nederlaag in Albany het ook gewys hoe dun die Bokke se diepte is wanneer spelers soos Coenie Oosthuizen, Frans Malherbe, Jaco Kriel, Warren Whiteley en Ross Cronjé beseer is. In hul afwesigheid was daar byvoorbeeld nie sprake van ’n impakbank wat ’n verskil kan maak nie.

Die All Blacks het self sonder verskeie beseerdes klaargekom, maar hulle diepte is soveel beter as die res s’n.

Saru se uitvoerende komitee kan gedwing word om sy oorsese kiesbeleid van 30 toetse te herbesoek. Die beleid is nog in sy babaskoene, maar benodig reeds wysigings.

Ek het groot vertroue dat hierdie spelers nooit sal opgee nie. Nooit.
Allister Coetzee

As die Klas van 2017 vorentoe wil beweeg, moet hulle oorsese spelers soos Vincent Koch, Marcell Coetzee en Cobus Reinach oorweeg wat almal in minder as 30 toetse gespeel het.

Hulle moet nou deel van die nuwe spankultuur word en nie eers in 2019 se Wêreldbeker-jaar betrek word nie.

Hoe groot die ontwrigting ook al met oorsese spelers is, kan die span nog nie sonder die ervaring en X-faktor van spelers soos Frans Steyn, die beseerde Duane Vermeulen en JP Pietersen klaarkom nie.

Selfs spelers soos Bismarck du Plessis en Willie le Roux se name sal ter sprake kom.

Die uitslag in Albany was ’n bitter pil vir Allister Coetzee om te sluk. Die All Blacks het sy span ook ongeveer ’n jaar gelede met 57-15 in Durban geklop.

“Dit is nou vir ons ’n emosionele uitdaging (voor die tuistoetse teen die Wallabies en All Blacks in Suid-Afrika),” het die Bok-afrigter gesê.

“Ons sal sien hoe ons môre is. Ek het groot vertroue dat hierdie spelers nooit sal opgee nie. Nooit.”

Rugbykampioenskap-uitslae

Rugbykampioenskap-puntelys

Rugbykampioenskap-bepalings

Meer oor:  Albany  |  All Blacks  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.