Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Staat kan Boland stywe boete gee

Die Boland Rugbyunie se administrateurs het ’n nuwe geveg op hande nadat die departement van arbeid bevind het die unie oortree die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid.

Ivan Pekeur, Boland Rugbyunie se president. Foto: Yunus Mohamed

Die unie kan ’n maksimum boete van tot R500 000 kry nadat hy in gebreke gebly het om die oortredings reg te stel.

Intussen stuur die salarisgeskil tussen die Boland en sy spelers op moontlike regstappe af nadat ’n vergadering oor die kwessie die afgelope week afgelas is.

Boland het die vergadering, wat Dinsdag sou plaasvind, ’n dag voor die tyd gekanselleer.

Die unie se oorspronklike kennisgewing van die vergadering meld onder meer “dat die vergadering sal voortgaan met of sonder u teenwoordigheid”.

Die spelersvakbond MyPlayers oorweeg nou regstappe nadat die spelers die laaste drie maande nie salarisse ontvang het nie.

Die BRU se president, Ivan Pekeur, hou vol dat die spelers nie geldige kontrakte het nie.

Die moontlikheid dat die Boland sal moet opdok vir ’n stywe boete, kom nadat die departement van arbeid in Desember ’n blitsbesoek aan die BRU se kantore gebring en sekere oortredings van die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid gevind het. Die BRU is 60 dae gegee om die situasie reg te stel, maar kon ook nie ’n tweede opvolg-inspeksie slaag nie.

Die saak is nou in die hande van die nasionale vervolgingsgesag, wat ’n boete moet voorskryf.

Die uitnodiging na die vergadering wat toe afgelas is.

Die gebeure is deur twee amptenare van die departement van arbeid aan Rapport bevestig. Hulle het op voorwaarde van anonimiteit gepraat omdat hulle nie gemagtig is om amptelike kommentaar te lewer nie.

Die departement se woordvoerder, Candice van Reenen, wou nie kommentaar lewer nie.

Die klag is deur die vakbond Sports Employees Unite (SEU) ingedien. Sy uitvoerende hoof, Piet Heymans, het gesê SEU is al geruime tyd bekommerd oor die toepassing van arbeidswetgewing by die BRU.

“Dit het ons genoodsaak om ’n amptelike klag by die departement in te dien. Dit is insiggewend dat die departement bevind het Boland voldoen nie aan die vereistes van die wet nie.

“Dit is verder hoogs betreurenswaardig dat Boland nie die foute regstel wat deur die department uitgewys is nie.

“Dit laat weer ernstige vrae ontstaan oor die korporatiewe bestuur van BRU. Dit is in die hande van die klubs om te besluit of hulle geneë is met die wyse waarop die unie bestuur word. Hulle is die enigste partye wat werklik noemenswaardige verandering teweeg kan bring.”

Hoewel MyPlayers nie kommentaar wou lewer oor die salariskwessie nie, het Rapport by twee bronne verneem dat hulle reeds regsadvies ingewin het.

Die spelers het ’n klag by MyPlayers ingedien nadat hulle nie hul salarisse vir Maart, April en Mei ontvang het nie.

MyPlayers se briewe aan Boland oor die salariskwessie is nooit beantwoord nie.

Pekeur het verlede week in ’n brief aan die Bolandse klubs gesê daar is geen kontrakte met die 12 spelers nie, omdat hulle nooit hul aanbiedinge aanvaar het nie.

Volgens Rapport se inligting is die kontrak-aanbiedinge deur Pekeur onderteken. Die spelers het dit op hul beurt onderteken en aan Randall Modiba, afrigter van die Kavaliers, besorg. Volgens die spelers volg hulle al die afgelope ses jaar dié proses – sonder probleme.

Die BRU sal nou ook by ’n arbitrasieproses betrek word nadat die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie nie ’n skikking kon bereik oor die BRU se versuim om verlede jaar dertiende tjeks aan sy werknemers te betaal nie.

Pekeur het nie op versoeke om kommentaar gereageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.