Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs en Leeus wou speel
’n Werker by Ellispark in Johannesburg besig om die doelpale by dié stadion te ontsmet. Foto: Gallo Images

Die besluit om gister ter elfder ure ’n stokkie te steek voor die Leeus en Cheetahs se Superrugby Unlocked-kragmeting op Ellispark, is nie deur die land se rugbybase geneem nie, maar deur die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Na verneem word is ’n noodvergadering gisteroggend gehou nadat nog twee Leeus-spelers Vrydagaand positief vir Covid-19 getoets is. Dit het die getal positiewe gevalle by die unie op ses te staan gebring.

Minstens vyf Leeus-spelers is tans in kwarantyn omdat hulle in nabye kontak was met iemand wat die koronavirus onder lede het.

Nios se besluitnemers het die wedstryd, wat gistermiddag gespeel moes word, summier afgelas “om die risiko van verdere infeksie in die rugbygemeenskap te beperk”.

Daar word veral gevrees dat nog spelers positief is en aansteeklik kan wees, maar nog nie simptome van Covid-19 wys nie.

Volgens Rapport se inligting wou albei spanne met die wedstryd voortgaan. SA Rugby het hulle egter by die besluit van Nios berus.

Die virus het die afgelope week soos ’n veldbrand by die Leeus versprei. Twee oefeninge is afgelas en streng protokol is gevolg nadat die eerste speler Sondag simptome getoon het. Die hele span is weer Vrydag getoets.

Die korona-duiwel het reeds verlede week by Ellispark kop uitgesteek, toe Willem Alberts aan die Leeus se wedstryd teen die Stormers onttrek is nadat dit aan die lig gekom het dat hy in kontak was met iemand wat positief getoets is.

Volgens ingeligtes het die stut Wiehahn Herbst Sondag, ná die Johannesburgers se naelskraapse nederlaag teen die Stormers, begin simptome toon. In reaksie daarop het die Leeus hul Covid-19-protokol in werking gestel.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus. Foto: Gallo Images

Hul spandokter, Rob Collins, het SA Rugby ingelig en met die Stormers se dokter, Raaghib Fredericks, en SA Rugby se mediese hoofbeampte, Clint Redhead, vergader.

Daarna is videomateriaal noukeurig bestudeer om te sien wie in kontak met Herbst was. Twee Stormers – die Bokke Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni – en vyf Leeus – Jaco Kriel, Burger Odendaal, Jan-Henning Campher, Ruan Dreyer en Dylan Smith – is onder kwarantyn geplaas.

Rapport se bronne sê Alberts, Herbst, die skrumskakel André Warner en losvoorspeler Hacjivah Dayimani is almal aan die begin van die week positief getoets.

Vrydagaand het die heelagter EW Viljoen en plaasvervangerslot Wilhelm van der Sluys se toetse ook positiewe uitslae gelewer. Geen afrigter of ondersteuningspersoneel is positief getoets nie.

Verskeie Stormers-spelers was ook in nabye kontak met Viljoen, wat voorheen vir die Kapenaars uitgedraf het. Die Stormers het egter die afgelope week, ná hul wedstryd teen die Leeus op Nuweland verlede Saterdag, geen positiewe gevalle gehad nie.

Wat die Leeus en Cheetahs se kragmeting betref, is dit in dié stadium nog onseker of die spanne mekaar wel later sal pak.

Sou die wedstryd nie geskuif kan word na ’n datum voor die beplande einde van die Unlocked-reeks nie, sal die twee spanne die ligapunte deel.

Volgens Jurie Roux, SA Rugby se uitvoerende hoof, kom die veiligheid van spelers eerste en daarom is besluit om die wedstryd af te las. “Om die verspreiding van die virus te bekamp, is ’n nasionale noodsaaklikheid.

“Hierdie eerste impak op die rugbyskedule is ’n sterk herinnering aan hoe waaksaam ons gemeenskap moet wees en hoe streng ons die reëls moet volg,” het Roux gesê.

Terwyl daar reeds streng maatreëls is om te voorkom dat die virus onder rugbyspelers versprei, is die vooruitsig dat protokolle selfs meer verskerp kan word om te keer dat die kompetisie deur die virus lamgelê word.

Meer toetse kan ook die voorland van spelers word oor die volgende paar weke.

Verlede Saterdag op Nuweland moes spelers en ondersteuningspersoneel juis met chirurgiese maskers opdaag met nie sommer enige maskers wat in die stadion toegelaat is nie.

Spelers se temperatuur is by die ingang van die stadion gemeet voordat hulle hul hande moes ontsmet om in te gaan.

Dié voorsorgmaatreëls kan vorentoe straks ook strenger by die land se rugbystadions toegepas word.

Meer oor:  Superrugby Unlocked  |  Leeus  |  Cheetahs  |  Ellispark  |  Nios  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.