Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stadig met die lof, maan Jake White

Daar is geen twyfel nie, Jake White se Bulle is onbetwisbaar die keur in Suid-Afrikaanse rugby.

Die Bulle het dit Saterdagaand op Loftus Versfeld nogmaals bevestig toe hulle die Haaie ’n loesing van 43-9 in die Reënboogbeker-kompetisie gegee het.

Stravino Jacobs, vleuel van die Bulle, het sy oog op die doellyn met Ruben van Heerden (middel) en Jaden Hendrikse wat verbete vasklou. Foto: Gallo Images

Maar White maan die Bulle moet hulle nie nou steur aan lof en heldevererings nie.

“Dinge verander so gou. Ons geniet ons rugby en ons vaar goed.

“Ek is nou maar eers ’n jaar saam met die groep spelers en ons leer nog. Daar is drie wedstryde oor en ons moet toesien dat ons weekliks goed voorberei.”

Hy sê sy span was in die eerste helfte nie te waffers nie – die Bulle was teen rustyd met 12-9 voor – maar het daarna van die beste rugby tot dusver gespeel sedert hy in Pretoria aangekom het.

“Ek dink dit was ’n groot spanpoging, terwyl Duane Vermeulen se kapteinskap weer uitstekend was.”

White het ook verwys na die groot rol van Morné Steyn en die Bulle se plaasvervangers.

Die Ligbloues het ná rustyd 31 onbeantwoorde punte aangeteken.

“Ons het hul ondergang stadigaan bewerkstellig en die hoogte bo seevlak vang jou ook in die tweede helfte wanneer jy hier kom speel.

“Dit is naby aan die beste helfte wat ons tot nog toe gespeel het.

“Die voorspelers en agterspelers was uitstaande, maar jy het ervare spelers nodig wat beheer kan neem.

“Jy kan sien Morné hou daarvan om hier te speel en dit is wonderlik om sy ervaring te hê.”

White het ook die Bulle se verdediging uitgesonder.

“Om die Haaie, wat baie goed kan aanval, enduit van ons doellyn af weg te hou, is ’n getuigskrif vir Joey Mongalo (die Bulle se verdedigingsafrigter).

“Ons het verlede week teen die Stormers ook nie ’n drie afgestaan nie.”

Dit was die Bulle se plaasvervangers, met die stutte Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane aan die spits, wat die uitklophou geplant het.

Spanwerk. Duane Vermeulen, kaptein van die Bulle, bedank die slot Ruan Nortjé vir sy bydrae toe hy Saterdag op Loftus Versfeld in die tweede helfte vervang is. Foto: Gallo Images

“Dit is ’n wonderlike posisie om in te wees wanneer jy twee Springbok-stutte op die bank het.

“Ons jong voorry (Gerhard Steenekamp, Johan Grobbelaar en Mornay Smith) het ook werklik goed gevaar in die eerste helfte.

“Ons plaasvervangers speel ’n deurslaggewende rol en ons kondisioneringsafrigters, Hitoshi Ipponsugi en André Volsteedt, moet ook ’n klop op die skouer kry.

“Die spelers weet hulle kan die pas in die laaste 20 minute aansienlik lig en dit gee hulle selfvertroue.”

White sê Vrydag se aankondiging dat die plaaslike Reënboogbeker-kampioen op 19 Junie in Europa teen die Noordelike Halfrond-kampioen in ’n eindstryd sal speel, dien as groot motivering by Loftus.

“Ek het die berig uitgeknip en op die kleedkamer se deur geplak toe ons hier (by Loftus) aangekom het, in die hoop dat die spelers sal besef ons het ’n enorme geleentheid om teen ’n span van die Noordelike Halfrond te speel.

“Dit is fantastiese nuus vir die groep, maar daar moet nog baie gebeur.

“Ek het gedink die Leeus was ongelukkig (om Saterdag op Ellispark teen die Stormers te verloor) en hulle sal gedug wees komende Saterdag.”

Meer oor:  Haaie  |  Jake White  |  Bulle  |  Reënboogbeker-Reeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.