Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stadion-skok vir SA rugby
Nuweland-rugbystadion. Foto: Argief

Twee van die land se bekendste en oudste toetsvelde, Nuweland en Kingspark, is nie goed genoeg om Wêreldbeker-wedstryde aan te bied nie.

Die twee tradisieryke stadions in Kaapstad en Durban is nie deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se bod om 2023 se Wêreldbeker-toernooi aan te bied nie. Sou die bod aan Suid-Afrika toegeken word, sal wedstryde in die Moses Mabhida- en Kaapstad-stadion in onderskeidelik Durban en Kaapstad gespeel word.

“Hulle (Kingspark en Nuweland) voldoen nie aan die Wêreldbeker-toernooi se vereistes wat veiligheid betref nie,” het ’n onberispelike bron aan Rapport bevestig.

Dít sluit verskeie aspekte van veiligheid in, wat onder meer te make het met die wydte van die loopgange en die tyd wat dit sal neem om die stadions te ontruim.

Access Management Holdings, Saru se agent met hul bod vir 2023 se Wêreldbeker, moet ’n gedetailleerde dokument op 1 Junie by Wêreldrugby indien. Die wenner sal op 15 November aangekondig word.

n Komitee van Wêreldrugby het Suid-Afrika reeds in Maart besoek, nadat dit bevestig is dat Durban sy status vir die Statebondspele in 2022 kwyt is.

’n Komitee van Wêreldrugby het Suid-Afrika reeds in Maart besoek, enkele dae nadat dit bevestig is dat Durban sy status vir die Statebondspele in 2022 kwyt is.

Rapport verneem die Wêreldbeker-bod kan Saru tot R60 miljoen uit die sak jaag. Kaartjies vir die groepwedstryde kan tot ongeveer R5 000 kos, wat ingeligtes skepties maak oor Suid-Afrika se kans om die bod te wen, veral in die lig van Saru se verlies van R23 miljoen in die 2016-boekjaar.

Ierland word as die gunsteling beskou om 2023 se Wêreldbeker te huisves. Hy het glo die steun van lande soos Argentinië en Nieu-Seeland.

  • Nuweland is histories onlosmaakbaar van Springbokrugby en die toetsveld het ook in 1995 vir groot Wêreldbeker-drama gesorg toe die Bokke in die openingswedstryd die verdedigende kampioen, die Wallabies, verslaan het.
Kingspark-rugbystadion in Durban. Foto: Argief

Kingspark het ook vir ’n dramatiese aand van rugby gesorg tydens dié Wêreldbeker-toernooi toe die Bokke Frankryk op ’n sopnat veld en met ’n omstrede drie verslaan het om tot die eindstryd deur te dring.

Daar is egter al geruime tyd sprake dat die Westelike Provinsie en die Haaie na onderskeidelik die Kaapstad-stadion en Moses Mabhida-stadion kan skuif.

Die WP het selfs onlangs van hul aandeelhouers oor so ’n skuif ingelig. Die WP het ook ’n gimnasium van wêreldgehalte by die Kaapstad-stadion beplan. Onsekerheid bestaan nog of vanjaar se Rugbykampioenskap-toets tussen die Bokke en All Blacks op Nuweland of in die Kaapstad-stadion gespeel sal word.

  • In Durban is daar sedert John Smit se dae as uitvoerende hoof sprake dat die Haaie net oorkant die pad kan skuif. Verbeteringe aan Kingspark sou die Haaie miljoene rande uit die sak jaag. Gary Teichmann, wat by Smit oorgeneem het, het sedertdien nog nie ’n aankondiging oor só ’n moontlike skuif gemaak nie.

Dis intussen nog onseker of Nuweland en Kingspark se onvoldoende-veiligheidskwessies enigsins in berekening gebring sal word wanneer die uitvoerende hoofde van Saru se ses Super-franchises moet besluit watter twee plaaslike spanne uit die Superreeks moet wegval. Stadiongeriewe is een van die kriteria waaraan die ses Super-franchises gemeet sal word om te bepaal watter vier in 2018 se reeks meeding.

  • Rian Oberholzer, wat die toernooi-direkteur van 1995 se Wêreldbeker-toernooi was, is die besturende direkteur van Access Management Holdings. Wyle Louis Luyt, ’n voormalige president van Saru, was sy skoonpa. Oberholzer se seun Lourens is die uitvoerende hoof van Access Management Holdings.

Access Management het Saru in die verlede gehelp om geleenthede soos Wêreldrugby se sewestoernooi in die Baai aan te bied. Hulle het ook verlede jaar se toets tussen die Bokke en Ierland in Port Elizabeth aangebied.

  • Access Management is ook betrek by die bedrogsaak wat tot die inhegtenisneming van verskeie amptenare in Port Elizabeth gelei het.

Cheeky Watson, ’n voormalige president van die Southern Kings, is saam met vier ander persone op borgtog vrygelaat in verband met ’n saak wat verband hou met beweerde bedrog van sowat R12 miljoen.

Meer oor:  Wêreldbeker  |  Kingspark  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.