Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
State of Origin-wedstryde vir SA beplan

Die land se top-rugbyspelers kan in die Kersvakansie in minstens drie wedstryde speel as toetsrugby weens die koronaviruspandemie taboe bly.

Bokke
Die wêreldkampioen gaan dalk geen rugby in 2020 speel nie.

SA Rugby oorweeg dit om drie State of Origin-wedstryde én moontlik selfs volwaardige Bokproewe in Desember te laat plaasvind. Spanne vir die State of Origin-konsep kan onder meer op grond van spelers se provinsies van geboorte of waar hulle op skool was, gekies word.

Dié wedstryde sal broodnodige inhoud aan SA Rugby se uitsaaivennoot, SuperSport, bied en help om die gate in SA Rugby se eie finansies toe te stop.

Die voorlopige datums vir die State of Origin-wedstryde wat vir Kaapstad, Johannesburg en Durban beplan word, is volgens ’n verslag van SA Rugby onderskeidelik op 19 en 26 Desember en 2 Januarie 2021.

“SA Rugby wil al lank State of Origin- of Noord-teen-Suid-wedstryde aanbied. Ongelukkig was daar weens ’n besige skedule nooit ’n tydgleuf daarvoor of vir Bok-proewe nie,” het ’n ingeligte aan Rapport gesê.

Eers as vanjaar se Bok-toetse finaal afgelas sou word, sal SA Rugby terugval op die plan.

Dit word weekliks duideliker dat die Bokke nie hul status as die wêreld se voorste span op die altaar sal plaas ter wille van noodplanne om toetse teen die All Blacks en Wallabies in Oktober en November in Nieu-Seeland of Australië te speel nie.

Buiten dat die ‘onnatuurlikheid’ waarin die Bokke geplaas sal word, sy tol op die span kan eis, is daar ook nie duidelikheid oor Wêreldrugby se regulasie 9 en die beskikbaarheid van die Bokke se Europese spelers in die daardie tydperk van sowat agt tot tien weke nie.

Veral van die Franse klubs skop volgens ’n betroubare bron op die oomblik vas dat hulle nie hul Bokke gaan vrystel nie.

Die beskikbaarheid van Franse klubspelers soos Eben Etzebeth, Cobus Reinach, Handré Pollard en Cheslin Kolbe is daarom nog in die gedrang aangesien die Rugbykampioenskap veronderstel was om tussen 8 Augustus en 26 September plaas te vind. Uitsluitsel moet ook nog verkry word oor ander oorsese Bokke.

Weens die onnatuurlikheid van ’n Rugbykampioenskap aan die einde van die jaar – met die Bokke wat selfs ’n ruk lank in kwarantyn sal wees, maar die All Blacks en Wallabies nie sou dit in Australië of Nieu-Seeland plaasvind – is daar klaarblyklik ’n baie skrale kans dat die Bokke vanjaar teen die All Blacks en Australië sal speel.

    Die spelers van Nieu-Seeland en Australië sal ook ’n yslike voordeel teenoor die Bokke hê wat kondisionering betref. Rugby het al op 13 Junie in Nieu-Seeland begin en verlede naweek in Australië. SA Rugby hoop om die nodige goedkeuring by die regering te kry dat die Curriebekerreeks op 29 Augustus kan afskop. “Die moontlikheid lyk skraal dat die nasionale span in die Rugbykampioenskap sal speel en die partye beraadslaag steeds oor die lewensvatbaarheid van 2020 se Rugbykampioenskap,” lui ’n verslag van SA Rugby se Covid-19-taakspan.

    Die verslag meld wel dat deelname aan die Rugbykampioenskap ’n groot kontantinspuiting in die vorm van inkomste deur TV-regte vir die SA rugbybedryf sal wees.

    “Die Rugbykampioenskap is by verre SA Rugby se grootste bron van inkomste deur TV-regte in 2020. Die Rugbykampioenskap kan bydra tot die oplossing vir SA Rugby se kontantvloeitekort vir 2020.”

    Nog ’n rede vir SuperSport om opgewonde oor die moontlikheid van die State of Origin-wedstryde en Bok-proewe te wees, is die sprake dat die koronavirus kan veroorsaak dat die Suid-Afrikaanse franchises eers teen Julie 2021 in ’n Pro14- of Superreeks sal kan speel.

    In so ’n geval kan SA Rugby genoodsaak wees om al vroeg volgende jaar ’n nuwe plaaslike toernooi aan te bied.

    Sou die Bokke wel nie in die Rugbykampioenskap speel nie, sal die Curriebeker vanjaar SA Rugby se grootste bron van inkomste deur TV-regte wees.

    Meer oor:  Bokke  |  Sa Rugby  |  Springbokke  |  Covid-19  |  Rugby
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.