Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Statistieke skets droewige Bok-prentjie

All Blacks 1, Springbokke 0.

Só staan sake reeds voor afskoptyd in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Wellington, met die Kiwi’s wat die sogenaamde papierstryd tussen die lande loshande wen.

Handré Pollard het in vanjaar se Rugbykampioenskap sover net met 36% van sy stelskoppe geslaag. Foto: Getty Images

Trouens, statistieke wat Woensdag deur die sportdata-maatskappy Opta vrygestel is, skets ’n besonder donker prentjie vir die Bokke.

Saterdag se Bok-span.

Bo-aan die Suid-Afrikaners se lys van bekommernisse, is die feit dat die All Blacks al 37 drieë in slegs ses toetse vanjaar (6.17 drieë per toets) gedruk het. Dít vergelyk goed met die All Black-spanne van 1987 (6.71 drieë per toets) en 2007 (6.67) s’n.

Nog ’n statistiek wat Rassie Erasmus (Bok-hoofafrigter) se aandag sou trek, is die 87 punte wat die Nieu-Seelanders in die tweede helftes van hul drie Rugbykampioenskapstoetse vanjaar opgestapel het. Dís meer as die 83 punte wat die Bokke, Wallabies en Argentyne saam in hul tweede helftes bymekaar kon skraap.

Die Bokke is ná die eerste drie rondes wel die span wat die minste punte, 18, in die tweede helftes van hul toetse afgestaan het.

Siya Kolisi is die voorspeler in die Rugbykampioenskap wat verreweg die meeste verdedigers afgestamp het. Foto: Getty Images

Ander statistieke wat die tuisspan Saterdag die oorweldigende gunstelinge maak, is:

* Die All Blacks het 11 uit hul laaste 12 wedstryde teen die Bokke gewen, wat die laaste ses op ’n ry insluit.

* Die Bokke het hul laaste agt toetse in Nieu-Seeland teen die All Blacks verloor. Die laaste keer wat hulle hier meer as 20 punte teen die tuisspan kon behaal, was toe Peter de Villiers se span 32 punte in die wentoets in 2009 in Hamilton aangeteken het.

* Die All Blacks het ’n wenrekord van 87% in die Westpac-stadion. Hulle het nog net drie toetse in 18 jaar hier verloor. Boonop was hulle in al ses toetse in dié stadion teen Suid-Afrika aan die wenkant.

* Die All Blacks het die beste skrum (100%) en lynstane (83%) in vanjaar se Rugbykampioenskap. Die Bokke se suksessyfer vir albei is 83%.

* Suid-Afrika se suksessyfer met sy stelskopwerk, 47%, is die swakste in die Rugbykampioenskap. Die All Blacks s’n is 76%, terwyl die Wallabies (82%) en Argentinië (79%) ook veel beter vaar.

Richie Mo’unga (88%) en Beauden Barrett (69%) se slaagsyfer met stelskoppe is aansienlik beter as Handré Pollard s’n (36%). Elton Jantjies vaar heelwat beter (75%).

* Suid-Afrika se 22 duikslae wat hy gemiddeld per toets verbrou, is die minste deur enige span in die Rugbykampioenskap. Maar die All Blacks se suksessyfer van 86% met hul lakwerk is beter as die Bokke se 84%.

Die All Black-sneller Ben Smith is die speler wat die meeste veld op die aanval in die eerste drie rondes van die Rugbykampioenskap gewen het. Foto: Getty Images

* Ben Smith se 270 meter op die aanval is die meeste deur enige speler in die Rugbykampioenskap. Die 18 teenstanders wat Siya Kolisi sover geklop het, is wel twee keer meer as enige ander voorspeler. Die Nieu-Seelandse vleuel Waisake Naholo (19) is die enigste speler wat meer teenstanders kon klop.

* Oor die laaste 12 maande het die All Blacks ’n wenrekord van 92%. Hulle het 12 uit 13 toetse gewen. Oor dieselfde tydperk kon die Bokke net 36% van hul toetse, vyf uit 14, wen.

Dis wel waar dat statistieke baie soos ’n vrou se bikini is en nie als wys nie, maar die Bokke sal baie geluk benodig as hulle Saterdag dié gety wil begin draai.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.