Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stean terug in Leeus se nr. 14-trui
Stean Pienaar sal sy terugkeer na die rugbyveld Woensdag teen Griekwas maak. Hy was meer as twee maande lank op die krukkelys. Foto: Gallo Images

Die vlugvoetige Stean Pienaar sal Woensdagmiddag op Ellispark uiteindelik weer ’n kans kry om sy deugde met die ovaal bal te wys wanneer hy ná meer as twee maande op die krukkelys sy terugkeer maak.

Pienaar is Dinsdag op regtervleuel ingesluit vir die Leeus se Curriebeker-kragmeting met Griekwas. Die 24-jarige blits het vroeg in Mei ’n dyspierbesering opgedoen en moes dus van die kantlyn kyk hoe sy spanmaats in die Reënboogbeker, die begin van die Curriebeker-reeks en in die eerste wedstryd van die Britse en Ierse Leeus-toer speel.

Hy was reeds voorverlede week gereed vir aksie, maar moes tot nou wag vir sy terugkeer nadat albei die Johannesburgers se laaste Curriebeker-wedstryde (teen die Haaie en Cheetahs) gekanselleer is.

Sy teenwoordigheid in die agterste driehoek sal verwelkom word nadat Jamba Ulengo in die Leeus se laaste paar wedstryde gesukkel het om sy stempel as regtervleuel af te druk.

Die ander opwindende verandering aan die beginspan wat vroeër vandeesmaand teen die Britse Leeus in aksie was, is op skrumskakel.

Morné van den Berg

Morné van den Berg sal vir die eerste keer in vanjaar se Curriebekerreeks die nr. 9-trui dra. Hy is die afgelope tyd as impakspeler aangewend.

Die Leeus het vir die grootste deel van die huidige seisoen verkies om die 22-jarige se energieke benadering en oog vir ’n gaping te bêre tot die laaste kwart van wedstryde, maar sal die Poubloues Woensdag uit die staanspoor daarmee op die agtervoet probeer dwing.

Andre Warner sal dié keer op die plaasvervangerbank sit. Hy het van ’n gebreekte wangbeen herstel.

Ivan van Rooyen en sy mede-afrigters is gedwing om ’n verandering in die lostrio te maak, aangesien Vincent Tshituka nog nie gereed is om weer te speel nie.

Tshituka, wat die hele seisoen lank ’n doring in sy teenstanders se vlees was, het teen die Britse Leeus sy skouer seergemaak. Die 20-jarige Sibusiso Sangweni is met die taak opgesaal om sy skoene vol te staan, terwyl MJ Pelser die nr. 6-trui by Sangweni oorneem.

Met die kaptein, Francke Horn, op agtsteman, stoot die Leeus ’n lostrio in die veld wat groot moles kan maak. Horn, Pelser en Sangweni hou daarvan om op loop te gaan met die bal, maar veral Pelser is ewe giftig as ’n baljagter as wanneer hy die bal dra.

Die oud-Witsie Travis Gordon, wat die Leeus se o.21-span verlede jaar aangevoer het, kan dalk later by een van die drie oorneem vir die eerste senior wedstryd van sy loopbaan.

Die veteraan Jannie du Plessis sal die wedstryd op vaskopstut begin, langs Jaco Visagie en Sti Sithole.

Visagie en Sithole was teen die Britse Leeus op die plaasvervangersbank.

Van Rooyen het gesê daar is groot opgewondenheid oor die wedstryd in die Leeus-kamp ná twee weke sonder aksie.

Ons sien uit na die wedstryd en verwag dat dit fisiek en vinnig gaan wees. Griekwas hou daarvan om aan te val wanneer hulle die bal het en het ook ’n goeie skopplan.
Ivan van Rooyen

“Ons sien uit na die wedstryd en verwag dat dit fisiek en vinnig gaan wees. Griekwas hou daarvan om aan te val wanneer hulle die bal het en het ook ’n goeie skopplan,” het hy gesê.

“Ons voel ons het ’n verantwoordelikheid om goed te speel hier by die huis en dis lekker dat ons nie net ’n paar senior spelers het wat terugkeer na die beginspan nie, maar dat ons ook vir spelers soos Travis en FP (Pelser, ’n slot wat tot 2019 vir Griekwas gespeel het) ’n kans van die bank af kan gee.”

Die Leeus se span is:
EW Viljoen, Stean Pienaar, Manuel Rass, Burger Odendaal, Rabz Maxwane, Jordan Hendrikse, Morne van den Berg, Francke Horn (k), Sibusiso Sangweni, MJ Pelser, Reinhardt Nothnagel, Ruben Schoeman, Jannie du Plessis, Jaco Visagie, Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: PJ Botha, Ruan Dreyer, Carlu Sadie, FP Pelser, Travis Gordon, Andre Warner, Fred Zeilinga, Duncan Matthews.


Meer oor:  Ivan Van Rooyen  |  Kimberley  |  Gauteng  |  Curriebeker  |  Skrumskakel  |  Leeus  |  Griekwas  |  Vleuel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.