Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Steeds goud aan einde van Reënboog’

Rugbybase het die beste van ’n slegte saak gemaak met die toernooi-formaat waarop besluit is nadat die Reënboogbekerreeks nie kon voortgaan soos aanvanklik beplan is nie, meen John Dobson, die Stormers se afrigter.

Die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers gaan mekaar nou pak in ’n dubbelronde-kompetisie, wat as die Reënboogbeker SA sal bekend staan.

John Dobson, afrigter van die Stormers. Foto: Gallo Images

Op hul beurt sal die spanne in die Noordelike Halfrond in die “Pro14 Reënboogbeker” speel.

“Almal het begrip dat die situasie buite rugby se beheer is en dat dit die beste is wat ons daarvan kon maak,” sê Dobson.

“Dit gaan taai wees. Ons gaan die Springbokke moet bestuur, want dis ’n kompetisie waarin Suid-Afrika se vier sterkste spanne mekaar week ná week die stryd gaan aansê.”

Aanvanklik is gehoop dat die Reënboogbeker-reeks Suid-Afrika se spelers vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus sal slyp en terselfdertyd met ’n gemaklike oorgang vir die franchises na die Pro16-reeks later vanjaar sal help.

Die feit dat dit ontspoor het, bring wel nie Suid-Afrika se deelname aan die Pro16-reeks in die gedrang nie.

Dobson meen daar moet “volle begrip” vir die situasie wees en dat rugbybase hul bes probeer het.

Daar moet waardering wees vir die poging wat onder die omstandighede gemaak is om ’n kompetisie te skep wat in die belang van ons nasionale span sou wees en ons franchises aan Pro16-rugby gewoond sou kry.
John Dobson

“Dis moeilik genoeg om in ’n gewone jaar rugby se ekonomie te bestuur, laat staan nog wanneer dinge grootliks buite die rugbybase se beheer is,” sê hy.

“Daar moet waardering wees vir die poging wat onder die omstandighede gemaak is om ’n kompetisie te skep wat in die belang van ons nasionale span sou wees en ons franchises aan Pro16-rugby gewoond sou kry.”

Dobson voeg by dat Suid-Afrika se spanne ondanks die terugslag ’n “betekenisvolle kompetisie” gekry het om hulle op die reeks teen die Leeus voor te berei, “mits die spelers só goed as moontlik bestuur word”.

“Gegewe dat daar nie ’n Super-, Pro16- of Reënboogbeker-reeks (in sy oorspronklike formaat) is om in te speel nie, is dit nou in die nasionale belang dat ons ’n baie goeie kompetisie vestig wat die publiek se belangstelling in die aanloop tot die Leeus-reeks sal prikkel. Dis die beste wat ons van die saak kan maak.”

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Reënboogbeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.