Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Steenekamp hoop hy loop Beast se paadjie

Dit is nie so lank terug nie wat ’n dokter die jong Bulle-stut Gerhard Steenekamp meegedeel het dat hy waarskynlik nie weer sal kan rugby speel nie.

Gerhard Steenekamp, stut van die Bulle, gee die bal Sondag uit teen die Oostelike Provinsie op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Steenekamp het in 2017 in die nasionale o.21-eindstryd vir die jong Bulletjies sy knie beseer – nadat hy in 2015 in sy matriekjaar (by Potchefstroom Gimnasium) ligamente in dieselfde knie geskeur het.

“Daar is vir my gesê dat ek groot gate in my kraakbeen in die knie het en die kans is skraal dat ek weer sal kan speel.”

Dit is nie nuus wat Steenekamp, wat in 2017 ook vir die Junior Bokke in die o.20-Wêreldtoernooi in Georgië in die voorry gesak het, wou hoor nie.

Hy het egter ’n tweede mening gekry en het verlede seisoen, ná ’n afwesigheid van twee jaar, sy Superrugby-debuut vir die Bulle gemaak.

Toe Pote Human, wat toe nog die Bulle afgerig het, oor dié “nuweling” uitgevra is, was dié sy voorspelling: “Hou hom dop, hy gaan ’n ysterman in Suid-Afrikaanse rugby word.”

Steenekamp het Sondag beïndruk met sy vaardighede in die aanloop tot Marco Jansen van Vuren (senter van die Bulle) se drie in die eerste helfte teen die Oostelike Provinsie in die voorbereidingsreeks.

Dit is dalk omdat hy eers ná skool by Loftus Versfeld van agtsteman na stut geskuif is.

“Dit was maar so ’n bietjie geluk. Ons stutte kry min kans (om te hardloop met die bal), so as jy die kans kry, moet jy nie skandes maak nie.

“Ek probeer steeds om met die ingesteldheid van ’n losvoorspeler te speel wanneer ek die bal dra en uitgee.”

Tendai Mtawarira, wat in 2019 uitgetree het nadat hy die Springbokke in 117 toetse verteenwoordig het, is ook destyds van ’n agtsteman na stut versool.

Hoop hy dat hy Beast in die afsienbare toekoms dit kan nadoen?

“Ek sal graag so wil hoop, ja. As die paadjie so uitgelê is, sal ons hom so loop.”

By ’n unie met stutte soos Lizo Gqoboka, Trevor Nyakane en Jacques van Rooyen wat voor hom in die ry staan, sê Steenekamp hy weet geduld is die wagwoord.

“Jy moet geduldig wees, maar ek beskou dit terselfdertyd as ’n groot geleentheid om elke week saam met van die beste stutte in die wêreld te oefen.

“Ouens soos Trevor en Lizo is baie ervare en ek is in ’n baie bevoorregte posisie om by hulle te leer. Ek dink dit is ’n groot bate in dié stadium van my loopbaan.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.