Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stefan Ungerer nou by Griekwas

Die hoogaangeskrewe skrumskakel Stefan Ungerer het pen op papier by Griekwas gesit en reeds vandeesweek saam met sy nuwe rugbyspanmaats in Kimberley op die oefenveld begin sweet.

Ungerer, ’n boorling van Pietermaritzburg wat aan Maritzburg College in KwaZulu-Natal gematrikuleer het, was tevore by die Southern Kings. Hy het die span ook by geleentheid in die Pro14-reeks aangevoer.

Die 27-jarige Ungerer het sy senior provinsiale buiging in 2013 vir die Haaie XV-tal gemaak – dieselfde jaar wat hy vir die Junior Springbokke diens gedoen het. Hy het ook vir die Haaie Superrugby gespeel.

Stefan Ungerer het vandeesweek by Griekwas ingeval. Foto: Gallo Images

Daarna het hy ’n draai by die Oostelike Provinsie, Kings (in die Superreeks) en die Pumas gemaak, voordat hy laat in 2018 na Port Elizabeth teruggekeer het.

Sedert die Kings vroeër vanjaar gelikwideer is, het Ungerer sonder heenkome gesit en hy het ’n paar weke gelede sy talente in ’n tienmanrugbytoernooi in Bermuda gaan uitstal.

Iemand wat welbekend met Ungerer se vaardighede is, en ’n hoë dunk van hom het, is Robbi Kempson, voormalige waarnemende hoofafrigter van die Kings.

“Griekwas is baie gelukkig om iemand van Stefan se kaliber te kontrakteer. Hy is ’n baie vaardige speler en ek is eintlik verbaas dat een van die groter unies nie sy dienste bekom het nie.

“Stefan is ’n natuurlike leier, so hulle kry eintlik ’n goeie speler en ’n kaptein. Hy beskik oor ’n baie gevaarlike skopvoet en ek dink hy en Zak (Burger, Griekwas se kaptein en skrumskakel) sal mekaar baie goed aanvul, juis omdat hulle verskillende tipe spelers is. Vir die afrigters gaan dit lekker wees om albei tot hul beskikking te hê,” sê Kempson.

• Intussen het nog ’n skrumskakel van Griekwas, Theo Maree, besluit om sy stewels op die hang om te gaan boer. Die 25-jarige Maree val in Januarie in by sy ouers se boerderye in Tzaneen in Limpopo.

Hy het vir Tuks, die Blou Bulle en die Pumas gespeel en ook vanjaar vir die Southern Kings in die Pro14-reeks uitgedraf. In 2020 moes hy daarmee vrede maak om die Poubloues se plaasvervangersbank warm te hou.

Theo Maree het sy stewels opgehang om te gaan boer. Foto: Gallo Images

Meer oor:  Pumas  |  Stefan Ungerer  |  Kings  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.