Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Steil bult lê vir Streeptruie voor in CB-reeks

Die Westelike Provinsie is nou só tot die been gesny dat twee Curriebeker-wedstryde weg van die huis binne die bestek van vyf dae teen die Vrystaat-Cheetahs en Pumas ’n onaangename vooruitsig is.

Nietemin sal John Dobson, die Streeptruie se afrigter, glo dat sy span ’n kans in enige provinsiale wedstryd het as dieselfde veggees openbaar word as die afgelope naweek teen die Britse en Ierse Leeus in die Kaapstad-stadion.

Evan Roos, ’n uitblinker vir die Stormers teen die oormag van die Britse en Ierse Leeus, spook Saterdag in die Kaapstad-stadion om besit teen Luke Cowan-Dickie. Foto: Gallo Images

Ja, ’n nederlaag van 3-49 is meer krieket- as rugbytelling, maar die Stormers – die WP in ’n ander naam Saterdag – het met ’n oorgawe gespeel wat Kaapse ondersteuners deurlopend sal wil sien. Die WP was in die Leeus se gesigte, maar heel voorspelbaar het die toerspan – tot oorlopens toe vol van spelers van wêreldgehalte – laat in die wedstryd losgetrek. Hou ook in gedagte dat Covid-19 in die aanloop tot die wedstryd amok binne die Stormers se bioborrel gesaai het en daar eers Saterdag om 12:00 goedkeuring gegee is vir die wedstryd om voort te gaan.

Die WP se kanse Woensdag teen die Cheetahs kan deels daarvan afhang of Dobson spelers soos Paul de Wet (skrumskakel), Rikus Pretorius (senter) en Seabelo Senatla (vleuel) tot sy beskikking het.

Dan sal Dobson, wat aan sy lojaliteit geken word, ook ’n paar groot besluite moet neem. Dit sal behels dat een van Pretorius of Dan Du Plessis op binnesenter moet begin en die veteraan Juan de Jongh as buitesenter behou moet word nadat hy noodgedwonge teen die Leeus tot die beginspan verhef is.

Tadgh Furlong, vaskopstut van die Britse en Ierse Leeus, maak ’n kraglopie in Saterdag se wedstryd teen die Stormers in die Kaapstad-stadion. Foto: Gallo Images

Op skrumskakel is dit ongetwyfeld tyd vir verandering. As De Wet nog onbeskikbaar is, het Dobson niks om te verloor nie deur met die jongeling Thomas Bursey te begin. Met die dat Herschel Jantjies gereeld nasionale verpligtinge sal hê kan daar selfs deur Dobson gekyk word om ’n beproefde skrumskakel van buite te kontrakteer.

Daar’s posisies waar vasbyt maar die beste pad vorentoe is. Dobson het jong stutte en hakers wat hy moet deurbring terwyl hy van Frans Malherbe, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi en Scarra Ntubeni ontneem is in sy voorry. Mbonambi verhuis later vanjaar na Durban, maar die jong hakers JJ Kotze en André-Hugo Venter toon belofte.

In terme van hul aanvallende spel het die Stormers meestal in doodloopstrate af gehardloop teen die Leeus, maar die opposisie was só oorweldigend.

Die vaste fasette was ’n bietjie van ’n lotery. Gegewe die reputasie van die Leeus se voorry het dit met die Stormers beter in die skrums gegaan as wat vooraf verwag is. Trouens, hulle het selfs daarin geslaag om ’n paar strafskoppe af te dwing. In die lynstane was die Stormers se besit op hulle eie ingooi soms slordig.

Daar is inderdaad baie om aan te skaaf voor die kragmeting teen die Cheetahs en dan boonop Sondag nog teen die Pumas. Die karakter wat die Stormers teen die Leeus openbaar het gee egter hoop.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.