Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Niell hang stewels op vir studies
Niell Jordaan (regs) saam met sy spanmaat Henco Venter toe die Vrystaat-Cheetahs die Blou Bulle in 2016 in die eindstryd van die Curriebeker-reeks in Bloemfontein geklop het. Foto: Gallo Images

Die rugbyloopbane van ’n handvol Griekwas-spelers, onder wie Niell Jordaan, lid van die Vrystaat-Cheetahs wat die Curriebeker in 2016 gewen het, kom vandeesweek tot ’n einde.

Benewens Jordaan (losvoorspeler), verval Christiaan Meyer (skrumskakel), Wendal Wehr (losvoorspeler), Shaine Orderson (losvoorspeler) en Khwezi Mkhafu (haker) se kontrakte ook almal aan die einde van Oktober.

Nog ’n rits ander spelers se kontrakte verstryk ook, maar hulle gaan hulle by nuwe spanne aansluit. Anthony Volmink (heelagter) en Khwezi Mona (stut) sluit hulle by die Haaie aan, terwyl die slotte Ian Groenewald en Victor Sekekete Bloemfontein toe verhuis om vir die Cheetahs te speel.

Niell Jordaan op die aanval vir Griekwas in ’n wedstryd in 2019. Foto: Gallo Images

Die skrumskakel Chriswill September sou hom op 1 November by die Pumas aangesluit het, maar hy het reeds Maandag by sy nuwe werkgewer ingeval. In ruil vir die “guns” begin die Laevelders se slot Cameron Lindsay Dinsdag in Kimberley. Ook Sibabalo Qoma, ’n slot wat voorheen vir die Vrystaat, Griffons en Shimlas diens gedoen het, begin vandeesweek by Griekwas.

Scott Mathie, afrigter van die Poubloues, het besluit om geen van die spelers wat die unie aan die einde van die maand verlaat vir Vrydag se Superrugby Unlocked-kragmeting met die Leeus in Johannesburg te oorweeg nie (sou dié stryd wel te midde van die Covid-19-krisis by die Leeus kan plaasvind).

Die 28-jarige Jordaan het hom in 2019 by die Poubloues aangesluit nadat hy lank ’n staatmaker vir die Vrystaat was. Hy het aan Grey-kollege gematrikuleer en die Vrystaat in 2009 en 2010 in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig.

Jordaan was ook in 2015 deel van die Shimlas-span wat die Varsitybeker-reeks gewen het – ook soos die Curriebeker-sege ’n jaar later onder die afrigting van Franco Smith.

Christiaan Meyer in aksie in Griekwas en die Goue Leeus se Curriebeker-halfeindstryd in 2019 in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Jordaan gaan die volgende paar weke al sy aandag daaraan skenk om sy graad in bourekeningkunde aan Kovsies te voltooi. Hy sluit nie die moontlikheid uit dat hy dalk in 2021 weer kan rugby speel as ’n geleentheid opduik nie.

Smith, wat deesdae Italië se nasionale span afrig, vertel dat Jordaan onwrikbaar geglo het aan die plan wat hy in 2015 vir die Shimlas gehad het.

“Hy het baie hard gewerk. Toe hy saamgegaan het na die Vrystaat, was hy ’n persoon wat altyd 100% ingesit het – in die oefeninge en ook in die wedstryde.

Wendal Wehr in 2015 in ’n wedstryd in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

“Die manier waarop hy speel, het hom ook regtig as ’n leier laat ontwikkel. Hy was in die eindstryd van die Varsitybeker ’n steunpilaar,” sê Smith.

“Maar ook in die eindstryd van die Curriebeker in 2016 toe hy Piet van Zyl (plaasvervanger-skrumskakel van die Blou Bulle) vyf meter van die doellyn af uitgeduik het nadat hy die hele lengte van die veld agter hom aangehardloop het. Dit sê alles van Niell Jordaan, hy is iemand wat jou nooit in die steek sal laat nie.”

Die 26-jarige Meyer, wat sedert 2016 vir Griekwas gespeel het en alombekend is as Muis, is deesdae ’n sakeman in Kimberley. Hy en sy vriendin het ’n paar maande gelede ’n onderneming oorgeneem.

Wehr (32), ’n boorling van Worcester in die Wes-Kaap, het die laaste twee jaar maar min speelkans gekry. Hy was sedert 2014 by Griekwas.

Die 22-jarige Orderson was net vanjaar by die Poubloues gekontrakteer. Hy gaan in 2021 sy graad in sportwetenskap aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) voltooi en hoop om in die Varsitybeker-reeks te speel. Paul Treu, wat voorheen die Blitsbokke gebrei het, is as die UWK se nuwe hoofafrigter aangestel.

* Hoogtepunte van 2016 se Curriebeker-eindstryd

Meer oor:  Cheetahs  |  Superrugby Un­Locked  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.