Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Morné Steyn draai horlosie terug
Nóg punte. Morné Steyn skop verlede Saterdag op Loftus Versfeld pale toe teen die Stormers. Foto: Gallo Images

Van ’n “oor-die-muur-pensioentrekker” tot ’n immergroen wedstrydwenner in die bestek van ’n paar maande.

So lees die inleiding van die 2020-hoofstuk in Morné Steyn se loopbaan.

Vroeër vanjaar, toe die Pretorianers net een uit ses wedstryde in die volwaardige Superreeks kon wen, het ondersteuners in dié geweste gekla die 36-jarige voormalige Springbok-losskakel is lankal verby sy beste.

Die ouderdom kom immers met gebreke.

’n Paar maande later en Steyn lyk ewe skielik weer na die voorste nr. 10 op die plaaslike rugbytoneel.

Hy kry Saterdag in die Superrugby Unlocked-stryd op Ellispark nog ’n kans om dit te bevestig wanneer die Leeus se Bok-talisman Elton Jantjies sy direkte teenstander is.

Jake White, hoofafrigter van die Bulle, sê dit is ’n verskeidenheid van faktore wat tot Steyn se voortreflike vertonings aanleiding gee.

“Hy is fantasties vir ons. Die pak voorspelers help hom en ek glo Fourie du Preez, wat met ons skrumskakels werk, maak ook ’n verskil.

“Jy kan sien hoe ’n ou soos Ivan van Zyl gedy agter daardie agttal en met ’n generaal soos Morné langs hom.

“Morné speel regtig goeie rugby en ek het altyd geweet hy kan steeds baie bied.

“Hy was ook ’n groot staatmaker vir Stade Français (in Frankryk). Morné is in die stadium van sy loopbaan slim genoeg om te weet wat werk vir hom en wat werk nie.”

White sê dit is belangrik dat die Bulle “die beste uit hom kry die volgende paar weke”.

“As Morné op dreef is soos die afgelope naweek (teen die Stormers), speel almal rondom hom met meer selfvertroue.”

Die wyse waarop die Bulle die afgelope twee wedstryde op Loftus Versfeld teen die Haaie en die Stormers gespeel het, maak hom baie opgewonde, sê White.

“Ek is tot ’n mate verbaas dat ons so vinnig ’n gedugte eenheid geword het.

“Waaroor ek die meeste bly is, is dat ek nie meer as ’n konserwatiewe skopafrigter bestempel word wat net met die voorspelers wil speel nie.

“Dit is lekker en hopelik sien julle (die media) dieselfde prentjie as wat ek sien.

“Dit raak moeiliker om teen ons te speel, want as jy nie ons voorspelers kan stuit nie, gaan ons munt slaan daaruit.

“En as die teenstanders te veel op ons agttal fokus, het ons agterspelers met sewesflair, wat die taak vir ons kan verrig.”

White sê hy “moedig dit aan” dat sy spelers onwrikbaar glo hulle kan ’n wenkultuur vestig.

“Wanneer jy in ’n verloorkurwe beland, begin twyfel intree.

“As jy op ’n plek is waar ons nou is, is daar opgewondenheid, energie en almal wil speel.

“Ek moedig dit aan. As ons goed genoeg speel, kan ons teen enige span wen en ons het dit die laaste ruk bewys toe ons spanne geklop het was as die pasaangeërs in die land gereken is.”

Terloops, so van ’n verloorkurwe gepraat. Die Leeus het sover in 2020 nog net twee uit nege wedstryde gewen, het White daarop gewys.

Meer oor:  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.