Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Steyn kry heimwee van 2009-gloriedae

Toe die Bulle-losskakel Morné Steyn in 2009 die laaste keer op Loftus Versfeld in ’n Curriebeker-uitspeelstryd gespeel het, was dit duidelik ’n heel ander era.

Afgesien van Steyn, het Victor Matfield die Ligbloues gelei en daar was talle ander senior Springbokke soos Bryan Habana, Fourie du Preez, Pierre Spies en Bakkies Botha in dié goue span.

En daar het ’n skare van 53 684 op Loftus toegesak toe die Bulle die Cheetahs op 31 Oktober 2009 in die eindstryd geklop het.

“Ek het net vanoggend daaraan gedink. In daardie dae het die ondersteuners Maandagoggend vroeg in lang rye kom staan vir kaartjies.

Daar sal Saterdag op Loftus Versfeld swaar op die ervare Morné Steyn gesteun word wanneer die Bulle teen die Leeus te staan kom in die Curriebeker-halfeindronde. Foto: Gallo Images

“Dit is steeds ’n vreemde gedagte dat daar Saterdag niemand op die paviljoene gaan wees nie.”

Steyn, deesdae ’n 36-jarige veteraan, sê dit beteken nie dat daar Saterdag minder op die spel is wanneer die Bulle teen die Leeus in die halfeindronde van dié kompetisie te staan kom nie.

“Ons het ’n lekker groep spelers en afrigtingspan en dit voel in baie opsigte soos die ou dae by Loftus.

“Ek het nooit gedink ek sou by die Bulle kom klaarmaak nie.

“Die kringloop het toe mooi uitgedraai tot waar dinge vir my begin het en dit is opwindend om weer in ’n reg-of-weg-wedstryd te speel.”

Steyn sê die kuns lê daarin om ’n uitspeelstryd as net nog ’n wedstryd te benader.

Nee stadig, hierdie is ou bene en die verste wat ek deesdae kan skop, is so 50 meter.

“Baie van ons spelers het nog nie in ’n halfeindstryd gespeel nie en dit is ’n groot dag vir hulle. Dit is net nog ’n wedstryd en jy moet dit probeer geniet, want dit is alles so vinnig verby.”

Hy gee te kenne die Bulle is nie presies seker wat om van die Leeus te verwag nie.

“Hulle het ’n goeie pak voorspelers en opwindende agterspelers met Elton (Jantjies) wat sake mooi vir hulle beheer.

“Of hulle gaan hardloop of skop, ons berei voor vir enigiets.”

Hy sê terselfdertyd dit sal nie wys wees om die week weg te beweeg van dit wat die laaste paar maande vir die Bulle sukses gebring het nie.

“Ons sal hoor wat sê die afrigters. Jake (White) is in beheer daarvan en hy sal met ons plan vorendag kom.”

Steyn sê hy sien daarna uit om Jantjies, wat as die voorste losskakel gereken word nadat Handré Pollard verlede jaar ’n ernstige kniebesering opgedoen het, as ’n direkte teenstander te hê.

“As die dag aanbreek wat jy nie meer die beste wil wees nie, moet jy stop.

“Jy wil beter wees en die droom sal altyd daar wees om weer vir die Springbokke te speel. Wie weet, dalk kan ek nog ’n seisoen of twee speel.”

Die stelskopstryd kan Saterdag bepalend wees, maar Steyn gooi vinnig wal wanneer daar oor skoppe in die omgewing van 60 meter gepraat word.

“Nee stadig, hierdie is ou bene en die verste wat ek deesdae kan skop, is so 50 meter. Maar ja, ons plaas die week ’n groot fokus op dissipline.”

• Die Bulle het Maandag opnuut goeie nuus gekry toe die hele groep negatief getoets is vir die koronavirus.

Meer oor:  Morné Steyn  |  Leeus  |  Bulle  |  Curriebeker-Halfeindstryd  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.